Posts Tagged ‘Hilda Smits’

Bester Meyer. Gebruiksaanwysings vir lees: Smits-gedig

Thursday, December 23rd, 2021

 

Gebruiksaanwysings vir lees: Smits-gedig

 

ver(sk)yn verdwyn

mag die aan(spoor)ing

nuwe woorde bring –

 

vers(k)yk is nie sonde nie

verskyk is so raar

nie waar nie –

 

ver(sk)yn verdwyn

mag die droomboot

ont(spoor) in die niet

én die nag se verhale

vir oulaas

die sterre laat val

uit die dak van hierdie kosmos

 

mag dié wat een is

beséf hulle is twee

en dié

wat dink hulle is twee

onttroon word in die Één

wat hulle tweeledigheid omvat

 

ver(sk)yn verdwyn

mag die skyn

verdwyn

en die

sterre

hang

 

en dan

verdwyn

– harlekyn –

en hierdie nag se (s)yn

in sy eie karmo-(p)yn

verdwyn/verskyn

 

 

(vervang (sk) (p) en (s) met mekaar

 in enige droomvariasie van sterre)

 

 Inkleur-ling: Smits-gedig

 

mot in ʼn wit nagrok die lug is vol aand (vanaand)

skemer van reisende stemme

wanneer die wind soos ʼn geheim opstaan

uit die veld van lang bewende gras(se)

oral die lig wat oorskiet           sal die meer jou silwer (lyf vertroetel soos ʼn)

muntstuk onder die maan      ʼn hand vol beentjies      ver (anderkant die) hoofweg van oë

wanneer die veld van hoë brandende stemme oorlog (maak) op die sagte bonsende har-

tjies van veldmuise    sal die huis van twee(-)linge bly staan (op die fondasie van wat nie is nie)

& in die diep kamer van (wat) is     daar slaap (ons) wanneer die meer van geweldige waters

oor jou klein kom(-pakte handjies vou    en ʼn spreek-)buis van 8 pare (liefdes-)hande (is)

& die verf dop af soos eiers (wat oopbreek) & in die krane draf die kat

met voete van reën deur die oog van die stoeplig

tot diep in die (donker) nag (in)

 

(Die gedig verskyn in mag die diep slaap jou dan, Hilda Smits. Protea Boekhuis. 2021. Die invoegsels en verandering van strofebou is die van dié leser. Gebruik met vergunning.)

 

Ontklee-ding: Smits-gedig

 

(draf die aand haal jou in)

soos ʼn mot om ʼn kers

asem jy in en uit –

binne jou karkas

knabbel strominge water

aand vir aand

dood na dood

tot aan die buitewyke van is

 

(as jou hart woestyn alleen was)

dan was die gedig dalk ʼn narratief

ʼn rigtingwyser

van wat die lewe

jou probeer wysmaak

 

in die kinkhoes van bestaan

is alles

gebaseer op woorde

wat water simuleer

om drome/rowe te vind

wat aan lettergrepe hang

 

as die gedig wit is

rooi soos jóú bloed

sal my melodieë – vloeibaar –

aan jou woorde gebind (kan) word

om hulle weg see toe te baan

soos alle donker riviere

van smart

 

(draf die aand haal jou in)

soos ʼn mot om ʼn kers

asem jy in en uit –

en dis die wind

wat waai

(wat waai soos swart broccoli in die nag)

 

(Die woorde tussen hakkies kom uit ʼn gedig soos verskyn in mag die diep slaap jou dan, Hilda Smits. Protea Boekhuis. 2021. Gebruik met vergunning.)

 

 En dan oplaas: ʼn gedig?

(lees dalk eerder: Gesig)

 

mot, daar was ʼn dreuning in die lug (vanaand):

die see ʼn swaard

aan die oor van die hawelose

en ek erkentlik vir die nag (se) geheime:

óm as die oseaan ʼn brandende pyn is – jou (lyf) te (vertroetel soos ʼn)

masochis wat die mond van die maan (anderkant die) gewelf van dinge

probeer opskryf wegskryf omskryf: wat die (maak) oorbodig maak

jou te probeer bind aan die huis (-) dowe god waar ydelheid rus (op die fondasie van wat nie is nie)

daar wat ons ís en (wat) ons máák ons die ons maak wat (ons) ís

waar jy jou netjies ver(-pakte handjies vou    en ʼn spreek-)taal vir Afrikaanse (liefdes-)woorde (is)

waarvan alles (wat) -moontlik- (oopbreek)-baar is       moet oopbreek

en eindelik sal vervloei: in die (donker) oseaan (in)

(gisteraand, mot:     ʼn skittering van sterre)

 

© Bester Meyer, 2021

 

Nuwe Bundel. Hilda Smits: mag die diep slaap jou dan

Tuesday, October 5th, 2021

 

 

mag die diep slaap jou dan

Hilda Smits

Soos Hilda Smits se eerste, bekroonde bundel die bome reusagtig soos ons was betrek die verse in hierdie bundel die leser by die hoogs persoonlike en gee dit terserfdertyd betekenis aan die universele belewenis. Die verse is magies soos bewussynstroom, soos drome waar die kloutjie nie altyd by die oor uitkom nie, ʼn mens ervaar dit met jou onderbewuste, in jou maag. Dis dromerig soos meditasie, dis soos sit en staar na reën teen ʼn ruit. Sinne is onvoltooid, werkwoorde hang in die lug sonder naamwoorde, byvoeglike naamwoorde is bedrieglik eenvoudig; “gewone” woorde soos mooi, sterk, fyn, jonk – dis egter die onverwagse beelde wat verras, en woorde wat buite hul normale konteks ingespan word, wat jou uitknikker.

 

Oor die outeur

Hilda Smits is ’n boorling van Potchefstroom, maar het haar nagraadse studie in Sielkunde in Londen gedoen. Ná ʼn dekade van (onder andere) wortels pak in Londen bevind sy haarself deesdae in Philadelphia, VSA, waar sy as psigoterapeut praktiseer.

Van haar gedigte verskyn in New Contrast, Vonkverse en Nuwe Stemme 5. Smits debuteer in 2016 met die bome reusagtig soos ons was. Dit is in 2017 met die Ingrid Jonker-prys vir poësie bekroon. Dié bundel is deur beoordelaars beskryf as “‘n boeiende debuut”.

 

[Protea Boekhuis 2021. PRYS: R220.00. FORMAAT: 164 x 194 mm. Sagteband. AANTAL BLADSYE: 80. ISBN: 978-1-4853-1294-9]

 

 

Persvrystelling. Ingrid Jonker-prys: Kortlys 2017

Tuesday, August 15th, 2017

Hilda Smits   –   Hendrik J Botha   –   Bibi Slippers

Die bome reusagtig soos ons was – Atropos – Fotostaatmasjien

Persvrystelling. Ingrid Jonker-prys: Kortlys 2017

Die kortlys vir die Ingrid Jonker-prys vir Afrikaanse debuutdigbundels wat in 2015 en 2016 gepubliseer is, is pas bekend gemaak. Die prys word jaarliks beurtelings aan ʼn Afrikaanse of ’n Engelse debuutdigbundel toegeken – die twee tale waarin Ingrid Jonker geskryf het.

Elf bundels is voorgelê en die kompetisie was straf. Die volgende bundels verskyn op die kortlys (in alfabetiese volgorde volgens die digters se vanne): Hendrik J. Botha se Atropos, Bibi Slippers se Fotostaatmasjien en Hilda Smits se Die bome reusagtig soos ons was. Die wenner word op 1 September bekend gemaak en die prys word op 16 September by die Tuin van Digters in Wellington oorhandig.

Aangesien die beoordelaars van die prys volgens die reglement gepubliseerde digters moet wees, is dit ’n prys van digters aan digters. Vanjaar is die beoordelaars Johann de Lange, Louis Esterhuizen en Nathan Trantraal.

Ronel de Goede is die sameroeper van die Ingrid Jonker-komitee. Die ander komiteelede is Leon de Kock, Finuala Dowling, Vincent Oliphant en Beverly Rycroft. Danie Marais, vorige voorsitter, tree as adviseur op.

Kontakpersoon: Ronel de Goede (Foster): rf@sun.ac.za

Digstring: “Vir Primo Levi” (Hilda Smits)

Monday, March 13th, 2017

vir Primo Levi

 

klein man. jy sing vanuit die diep long van ’n tweede graf,

selfs nou vertel die uile van jou hande die storie van jou

eerste dood. ek luister na die alewige drup van die groot

honger teen jou slape. hier marsjeer almal op krukke, hoor

die musiek soos ’n enkele skoot teen die kop. jy slaap op

’n brokkie brood, op die bloederige hart van ’n mossie –

droomlose nagte in die spelonk van jou hol maag. elke rooi

oggend, klam oog van die dood. hoeveel jaar klein man in

een dag? marsjeer marsjeer marsjeer jy nog? of verken jou

voete uiteindelik diep poele slaap, wit sneeu, nuwe dae

soos stilgeboortes sonder einde? om tent op te slaan teen

die hange van jou hart, kan ek nie maar ek luister klein

dapper man na jou droomlose slaap in vlak waters van

פחד.                 aufstehen! word wakker in skrywe, ek luister,

ek luister. in die honger donker (en in die lig) spits ek die

vlamme van my ore, stil stewels van geweld, die stom val

van die sneeu.              marschieren! met die swak bene

van ’n kleuter. klein man. hier herkou almal aan die

benerige oorskot van die vroeë dood.

 

 

  1. Wanneer het jy dié gedig geskryf. Hoe het dit ontstaan?

 

Tydens Versindaba se beeldgedigkompetisie in 2013. Ek dink die gedig het twee harte. My man, Ben, se ouma, ‘n Auschwitz-oorlewende, wat ek vroeër daardie jaar ontmoet het. En Primo Levi. Ek het sy outobiografie, If this is a man, net voor die kompetisie gelees.

 

  1. Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

 

Die gedig was baie hardkoppig & het vir ure halsstarrig vasgeskop. Ek skryf nie van nature met ‘n spesifieke onderwerp in gedagte nie, so die proses het nie vir my organies gevoel nie. Ek moes die eerste paar reëls soos water uit ‘n klip pers & daar was geen vloei nie. Dit was eers toe ek die swaar liggaam van die beeldgedig soos ‘n wafferse lid van die mafia oorboord gegooi het, toe sy soos ‘n vis haar grate begin wys het, toe ek my oor teen haar flank kon lê.

 

  1. Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

 

Ek dink nie die “gegee” kan van die wroeg & sweet geskei word in hierdie geval nie. Die hele storie het gevoel soos om ‘n wilde merrie in te breek, eers wild & toe mak & toe weer wild maar soos iets wat my hande ken.

 

  1. In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

 

Ek dink die ordeningsbeginsel is op my toegepas. Ek hou van die gedig soos wat sy nou hardloop.

 

  1. Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ’n vers werk?

 

My suster, Alet, het destyds saam met my in Londen gebly. Ons het by ‘n local pub ‘n bier gaan drink & ek het die gedig vir haar voorgelees. Ek was onseker, maar sy het baie van die gedig gehou.

 

  1. Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

 

Die gedig is kort daarna op Versindaba gepubliseer, en later daardie jaar in Nuwe Stemme 5.

 

  1. Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

 

Ek dink die kwessie van feit & fiksie is ‘n tweeling. Daar is die interpretasie van feit, die blinde voel van vingers na die onderliggende, na die oorsprong van water, na Auschwich. Miskien as deel van dit die soeke na ‘n narratief, ‘n storie wat op vaste voete onder die hof se strak ligte & onder ster lig kan staan. Feit & fiksie ook as Bruno Schulz, die skrywer van The street of crocodiles, ‘n verskyning maak met “…hoor die musiek soos ’n enkele skoot teen die kop…”.

 

  1. Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

 

Oor ‘n klein man, oor ‘n man, oor Primo Levi. Oor Rosa Eisenberg. Bruno Schulz. Oor probeer diep luister.

 

  1. Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ’n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?

 

Primo Levi se outobiografie, If this is a man.

 

  1. Het jy ’n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ’n vers werk?

 

Die gehoor is saam met die beeldgedig oorboord gegooi sodat ek die gedig beter kon hoor. Ek dink Vilhelm Hammershøi het die regte idee beetgehad deur sy vroue in hoeke & agter tafels te posisioneer & van agter te skilder.

 

  1. In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

 

Ek hou nie regtig daarvan om aan verskille tussen my gedigte te dink nie. Ek moes wel meer wroeg & sweet, en was verlig gewees om te sien dat ‘n gedig soos water uit ‘n klip gepers ook hart het & klop.

 

  1. Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

 

Nie regtig nie. Miskien iets van taal self, die manier hoe sy soos Jona se vis alles insluk & haar eie maak.

 

  1. Kon jy dié vers tot ’n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

 

Soos genoem, ek hou van die gedig soos sy is.

 

  1. Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

 

Ek was bly oor my suster, Alet, se reaksie.

 

  1. ‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

 

Ek was (9). My ma het vir my ‘n boek met bruinpapier oorgetrek, “Hilda se versies”, omdat ek alewig woorde gesoek het om te laat rym. Die gedig het ook vir jare in my ouma se kombuis gehang.

 

daar dans ‘n gans

op my ma se vloer

voel politoer

hy het toe gegly

en ons was te bly

hy het nie seergekry

ons plaas hom toe terug

onder die brug

hy was tog te bly

hy is weer vry.

 

(c) Hilda Smits / Maart 2017

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens”.