Posts Tagged ‘Jacques Derrida’

Bester Meyer. Die Taal van die Waarheid

Wednesday, April 27th, 2022

 

Die Taal van die Waarheid

(vertaling as hartsbegeerte van iets groter)

 

In sy opstel On Language as Such and on Language of Man verduidelik Walter Benjamin dat soos wat ʼn mens kan praat van, byvoorbeeld: iemand praat met my in die ‘taal van musiek’ of in die ‘taal van ballet’, dat daar ook iets soos die ‘Taal van Tale’ is. God het – as gevolg van júís die skeppingsdaad, wat met die benaming van dinge gepaard gegaan het – ons as mense die reg gegee om sekere dinge – in taal – te kan benoem. God het taal in ons ingeblaas en gevolglik is taal goddelik. Taalgebruik is op sigself ʼn skeppingsdaad wat in die proses van skepping – hetsy deur middel van skryf, vertaling, dig – ʼn kunswerk daarstel. Vertaling kan dan ook gesien word as die mens se reg om iets te benoem, om in die proses van benaming lig te probeer werp op die ‘Taal van Tale.’ Iets wat gestalte kan kry ás die vertaler – in watter sisteem ook al – vertaal vanaf die beginpunt: “In die begin was die Woord daar, en (dáár)die Woord is God” – én dan bloot net dit wegbeitel wat oortollig is. Benjamin maak dan ook die belangrike opmerking in dieselfde opstel: “Translation is the removal from one language into another throough a continuum of transformations. Translation passes through continua of transformations, not abstract areas of identity and similarity.”

In sy opstel Des Tours de Babel gebruik Jacques Derrida ʼn dekonstruktiewe benadering met betrekking tot die bogenoemde opstel en dan ook Benjamin se toonaangewende opstel met betrekking tot vertaling: The Task of the Translator. Aldus Derrida, deur dekonstruktiewe aanwending van gebeure soos vervat tydens die bou van die Bybelse Toring van Babel, word die behoefte aan vertaling van enige teks (oorspronklik of reeds voorheen vertaal) bepaal aan die hand van of dit (die teks) – ter gelyker  tyd – uitroep na/vir vertaling én of dit vertaling verbied. Só ʼn teks (in watter sisteem ook al) maak vertaling dan nodig en (straks) ónmoontlik in dieselfde asem. Derrida verwys met betrekking tot beide van Benjamin se opstelle dat dit juis die verwantskap tussen tale is wat die vertaler in staat stel om die ‘Taal van Tale’ ryp te laat word, en dat dit dit die moontlikheid gee om vrygestel te kan word. Alhoewel ‘vertaling vorm is’ – met ander woorde, daar is aspekte soos ekwivalensie, betekenis, manier van betekenisgewing, klank, ensovoorts wat ʼn belangrike rol speel –  is dit die plig van die vertaler/omdigter/transformeerder: “to release in his own language that pure language which is exiled among alien tongues, to liberate the language imprisoned in a work in his re-creation of that work. For the sake of the pure language, he breaks through the barriers of his own language.” Enige vertaling/omdigting/verwerking wat ʼn leser die voorreg gee om in aanraking met hierdie Reine Taal te kom, kan as geslaagd beskou word. Dit is egter slegs die leser wat hierdie vraag (of ʼn vertaling geslaagd is) kan beantwoord.

Volgens Benjamin is taal – as gevolg van vertaling – in konstante wisseling, totdat die Reine Taal vrygestel (kan) word deur die harmonie van die verskillende wyses van betekenis wat verander word, ontvorm word en nuwe lewe gegee word júís as gevolg van vertaling. En dan voorts: “it is translation that catches fire from the eternal life of the works and perpetually renewed life of language; for its translation that keeps putting the hallowed growth of languages to the test”.

Die vraag is dan: moet ʼn mens vertaling in die breë konteks aanmoedig of ontmoedig? Is dit nie wonderlik om, byvoorbeeld, ʼn gedeelte van The Religion of Man wat in Afrikaans vertaal is deur Mellet Moll in sy opstel oor Einstein en Tagore (soos geplaas op hierdie blad) in Afrikaans te kan lees nie? Is dit nie ʼn belewenis om Darwiesj se stem – vervleg met die van Breyten Breytenbach – soos lewe gegee in Oorblyfsel/Voice over (die nomadiese gesprek) – wat ook maar ʼn vorm van vertaling/transformering is – in Afrikaans te kan waardeer nie?

Miskien is die rede hoekom die Facebook-digters nooit digters of literêre vertalers word nie, juis as gevolg van die feit dat hulle bloot net as amateurs beskou word. Dat die taal, vertaling, omdigting – selfs gedigte – gehou word in die hand van die letterkundige bourgeoisie. Laat my dink aan die ironie met betrekking tot die woorde van die ou liedjie van Simon and Garfunkel: “The words of the Prophets are written on the subway walls” en dan miskien ook aan wat Fady Joudah gesê het in sy voorwoord tot Unfortunately, it was Paradise: “Die onvertaalbaarheid in poësie is meer as ʼn noodsaaklikheid, dit is die voorwaarde van vertaling, ʼn lewensgewende skepping van diskontinuïteit. In Darwiesj se digkuns is dit ook die lang pad (terug) huis toe. Dit is wat vertalers

            toevertrou aan die feniks –

            ʼn bietjie vuur van sy geheimenis

            sodat sy – die ligte ná hom –

in die tempel aan die brand kan steek.”

 

Bronne:

  1. Benjamin, W. 1996. Walter Benjamin: Selected Writings Volume 1, 1913-1926. The Belknap Press of Harvard University. London England.
  2. Benjamin W. 1968. Illuminations. Harcourt Brace Jovanovich Inc.
  3. Derrida, J. 1985. Des Tours de Babel soos verskyn in Difference in Translation. Cornell University Press, Itaca & London.
  4. Darwiesj, M. 2003. Unfortunately, It was Paradise, Selected Poems. University of California Press. London England (soos in Afrikaans vertaal deur die skrywer).
  5. Breytenbach, B. 2009. Oorblyfsel/Voice Over (op reis in gesprek met Magmoed Darwiesj)/(the nomadic conversation with Mahmoud Darwish). Human & Rousseau. Kaapstad.

 

Johann Lodewyk Marais. Marthinus Versfeld (3)

Saturday, December 12th, 2009

Aan die Universiteit van Kaapstad was Marthinus Versfeld ‘n gewaardeerde gespreksgenoot van digters soos N.P. van Wyk Louw, W.E.G. Louw, I.D. du Plessis, Boerneef en D.J. Opperman. Hy het poёsie geskryf, maar net enkele van die gedigte is gepubliseer. In sy skryfwerk toon hy groot waardering vir die poёsie en sluit so by twintigste-eeuse filosowe soos Martin Heidegger en Jacques Derrida aan. Hopelik sal sy bydrae as gespreksgenoot vir van die belangrikste Afrikaanse skrywers nog behoorlik ondersoek word en sy bydrae tot die Afrikaanse essay die erkenning kry wat dit verdien. Ook latere skrywers soos Breyten Breytenbach, André P. Brink, Petra Müller en Marlene van Niekerk het waardering vir sy werk gehad.

Oudstudente wat oor Versfeld se invloed op hulle getuig het, sluit Adam Small, Athol Fugard en Jeremy Cronin in. Cronin het gesê: “[H]e was trying to integrate different dimensions of life, and to think intellectually about that kind of integration, which was very different from what was increasingly becoming the dominant tradition in UCT.” 

W.A. de Klerk, wat baie saam met Versfeld gaan bergklim het, het die volgende gesê: “Marthinus Versfeld is die soort mens wat gesoek word as hulle die dag nie meer daar is nie.” Mag Versfeld in hierdie huldigingsjaar, en hierna, sy regmatige plek in ons denke en samelewing kry.