Posts Tagged ‘Pleks van plaas deur Jerzy Koch’

Resensie: Pleks van Plaas (Jerzy Koch)

Tuesday, June 16th, 2020

 

 

 

Resensie: Pleks van plaas deur Jerzy Koch. Naledi, 2020.

 

Resensie: Neil van Heerden

 

Dit is nie aldag dat ’n mens die voorreg het om ’n Afrikaanse debuutbundel deur ’n Poolse skrywer te resenseer nie. Trouens, dit is taamlik ongehoord. In hierdie opsig is Jerzy Koch se pasverskene Pleks van plaas (2020), uit die stal van Naledi, ’n eerste.

 

Terloops, ek kan nie anders as om effens jammer te voel vir die digter en uitgewer nie. Dat so ’n grensverskuiwende publikasie nou te midde van die globale inperking moet verskyn! As dit nie vir die wêreldwye reisverbod was nie, sou die digter waarskynlik teen hierdie tyd al in Suid-Afrika voet aan wal gesit het, en sou hy reeds talle boekbekendstellingsgehore kon verstom met sy woordvaardigheid en sy kennis van die Afrikaanse letterkunde. Koch het immers onlangs ’n belangrike Afrikaanse literatuurgeskiedenis geskryf, A History of South African Literature: Afrikaans Literature 17th – 19th Centuries (Van Schaik, 2015).

 

Die eerste wat my opgeval het van die bundel pleks van Plaas, is die parateks, die wasige turkoois waarin die omslag gebaai is – byna asof die waarnemer deur dik glas kyk. Dié glasbeeld word in “swem in glas” (4), ’n herinneringsvers oor die digter se moeder, teruggekaats. ’n Beter interpretasie van die omslag is miskien eerder dat die waarnemer sigself onderwater bevind. Só gesien, klop die visuele motief van die omslag netjies met die deurlopende leitmotief van water – en spesifiek die see – wat in Pleks van plaas aan bod kom, en eggo dit spesifiek die gedigsiklus “uit water” (43-6), wat opgedra is aan D.J. Opperman. Vergelyk die eerste van vier gedigte in die siklus (43):

 

ek swem

 

ek is in water

gebore, nie jonk nie en nog nie oud nie

 

die water gly

oor my ledemate, nie warm en nie koud nie

 

alles en alles is lou

gewaar ek waterig[.]

 

As ’n mens die omslag noukeuriger betrag, sal jy ook die vae dog onmiskenbare silhoeët van ’n hadida in die takke van ’n yl, byna spookagtige boom uitmaak. Hadidas figureer in twee verse, “maja” (26) en “delheim” (27), albei oënskynlik aan die Kaap geskryf, en die hadida – synde die raserige olyfbruin ibis wat endemies is aan Afrika – kontrasteer met ’n Europese fisant wat die digterspreker later in sy tuisstad op ’n vroegoggend drafsessie teëkom (sien “oggenduur”, 36-8).

 

Aanvanklik het ek die buiteblad as ietwat koud en melankolies ervaar, maar wanneer dit met die aangehaalde vers hierbo (43) gejukstaponeer word, skep dit eerder ’n gevoel van droomagtige gewigloosheid en “plekloosheid”. Die dowwigheid van die beeld op die buiteblad aktiveer boonop die “veranderlikheid en verraderlikheid” van geheue/herinnering – nóg ’n belangrike tema. Vergelyk byvoorbeeld die aanvangstrofe van die titelvers, “pleks van plaas” (39):

 

dit is my geheue

gegolf soos basreliëf

veranderlik

en verraderlik

seniel veg ek vir asem

woord en versoening

van als

 

Oorweeg ’n mens vervolgens die implikasies van die bundeltitel, wil dit voorkom asof Koch daarmee sinspeel op die tradisie van die plaasroman in die Afrikaanse letterkunde en die plaas as ’n tipe heimat. Die bundel bevat egter weinig direkte verwysings na ’n tradisionele plaasruimte as sodanig. Slegs een verwysing na “plaashuise” in die gedig “R364” (30) en ’n enkele verwysing na ’n familieplaas uit die digter se jeug in die bogenoemde titelvers “pleks van plaas”, wat, heel gepas, aan C.M. van den Heever opgedra word, die voorste beoefenaar van die tradisionele plaasroman in Afrikaans (39):

 

daardie leer van staal

op die familieplaas

wat na die hooisolder lei

na vars geure

beleë stories

tyd en herinnering se eenwording

met die self

 

Die bundel suggereer myns insiens eerder dat begrippe soos “plaas” en “plek” so wyd as moontlik vertolk moet word. Gevolglik word ’n wye verskeidenheid plekke in die bundel besoek en/of betrek, van Waenhuiskrans tot Stellenbosch, Kaapstad tot Kuruman, asook plekke soos Yardenit, Sarajewo en Tunis en natuurlik die digter se tuisstad, Poznań. Daar is ook die digterlike spel met verplasing en vertaling wat voorop gestel word. Kyk byvoorbeeld die slotgedig, “saamlees” (56), waarin die spreker vertel hoedat hy te werk gaan om verse van Breytenbach in Pools te vertaal. Hy sê die gedigte moet “geplooi”, “gestryk” en “gestreel” word

 

totdat dié verse van jou in my taal leer sing en

hul stem suiwer klink en sterk

want as hulle opstaan uit die niet tussen ons

die lugleegte tussen die twee tale moet sy man staan

 

Die bundel bestaan oorhoofs uit twee dele: “Rekenskap” (deel een) bestaan uit 17 verse en een gedigsiklus getiteld “keertye” (’n interessante nuutskepping uit “terugkeer” en “gety”). Deel twee is getiteld “Literatuurgeskiedenis” en bestaan uit 23 gedigte met vier siklusse (“die bybellande deurreis”, “oggenduur”, “die laaste nag”, en “uit water”).

 

Die eerste vier verse (“my pa as seun”, “swem in glas”, “huisie” en “die klerekas”) is nostalgiese familieverse wat handel oor die digter se pa, ma en ouma en gee rekenskap van die digter se herkoms. Verderaan in “Rekenskap” gee die digter hoofsaaklik ’n verskeidenheid indrukke van en blikke op Suid-Afrika, maar dit is veral die gedigte oor die see wat boei. Die digter word kennelik deur die see betower, soos afgelei kan word uit die gedig “’n man staan en kyk na die see” (21-2). (Dit is onweerstaanbaar om dié vers tesame met die uitgewer se bemarkingsfoto, waarin ’n nadenkende Jerzy Koch oor Tafelbaai uittuur met Leeukop in die agtergrond, te lees.)

 

Wat seegedigte betref, is “cape columbine” (17-8) ’n hoogtepunt met sy treffende, sintuiglike beelding. “waenhuiskrans (haesitatio)” (9-10) is ewe mooi, maar het stellig ’n dieper poëtikale strekking. Die leser let eerstens op die tipografie van die eerste twee strofes wat huiwerig (“soos die landtong”) plek-plek in die oop “oseaan” van die wit bladsy uitpeul “na die vreemde / na koue waters en lugte daarbuite” (9). Op hierdie wyse word die gedig self en die getande kuslyn met die metaforiese mond van die digter in verband gebring (10):

 

geswelde plooie in spelonke

waar galmende eggo’s uitmond

van konsonante waar

klikklanke mondskelm lug

suig en grootpraat

 

Elkeen van die alleenstaande gedigte of siklusse in die tweede, effens langer deel van die bundel (“Literatuurgeskiedenis”) word opgedra aan ’n prominente Afrikaanse digter of literator. Hoewel die verse nie oral ewe uitdruklik met die gehuldigde persoon se lewe of oeuvre in gesprek tree nie, is daar duidelike raakpunte en subtiele kopknikke. So is daar byvoorbeeld ’n intertekstuele verwysing na “blommetjies” en “viooltjies” in die vers vir Leipoldt (31). Daar is die verband met S.J. du Toit se teologiese agtergrond in “die bybellande deurreis” (32-5). Daar is die verwysing na “gekantelde uurwerk” (12) en ’n woord soos “troebelrig” (sien “die vis in die hemel,” 40) wat knik in die rigting van Van Wyk Louw. Verder is daar ook “die laaste nag” (41-2) ter ere van Eybers, waarvan die eerste vers in die vorm van paarrymende koeplette geskryf is. Dit is een van my gunstelingverse in die bundel: Die spreker lê slapeloos in sy gastehuisbed op sy laaste nag aan die Kaap. Die televisie se dekodeerderliggie word dan vir ‘n vuurvliegie aangesien en neem uiteindelik metafisiese afmetings aan (41):

 

die glimwurm, die vuurvlieg groei aan, word meer

die vertrek vonk, die ruimte illumineer

 

hierdie laaste nag aan die Kaap, ba!

verword ek tot ’n kosmiese gogga

 

tot kewertjie lig, bewoon ek die vuurstraal

uit die toring, sein draadloos beelde, beheks die taal

 

Na my mening bereik die bundel dan ’n definitiewe crescendo in die voorlaaste drie gedigte: “tunisië”, “dag” en “papierblom”. “tunisië” (50) handel oor ’n fiksionele bomontploffing in die Tunisiese hoofstad op presies dieselfde moment as wat ’n Afrikaanse skrywer (vermoedelik Joan Hambidge, aan wie die vers opgedra word) in die hotel besig is om ’n skryfsel in die “simpele bastertaal / uit die ander punt van die kontinent” neer te krabbel. Die vers eindig onvergeetlik:

 

en wanneer die yl stof begin sak en die goue sand

op alles val, blom op haar blad swart en rooi piktogramme

en fiksie implodeer

 

“dag” (51-3) is ’n homage aan Abraham de Vries en beeld die gewone oggendritueel van dié groot gees uit, vandat hy vroegoggend opstaan, die koerant deurblaai, sy koffiebeker uitspoel, deur sy kombuisvenster staar na die “verre berg” en ’n “totiaanse tarentaalpaar” (53), en hy eindelik saam met sy vrou aansit vir ontbyt (53):

 

die daaglikse bordjie muesli –

die godespys van goue gerwe uit die swartland

gemeng met die geurige heuning van wildebye en

alles wat die ruim en hartseer land te biede het

en hy pluk sy dag soos ’n braam

 

In teenstelling met die voorafgaande, gewelddadige “tunisië”, bekoor “dag” dus ondramaties met ’n warm, huislike gemoedelikheid. Dan is daar ook die roerende huldeblyk aan John Kannemeyer, “papierblom” (54-5). Die gedig beskryf hoedat noodpersoneel die gestorwe Kannemeyer, “weerloos soos ’n gevalle olifant” (54), in sy bed aantref. Die voorste brandweerman bekyk die dooie man se halfgeopende mond en dink onwillekeurig aan bougainvilleas, “of soos sy vrou altyd sê: papierblom” (55). Dan bemerk die brandweerman skielik dat die hele huis diggepak is met boeke, en daarmee word die veelvlakkige metafoor van papier en blom, kennis en kuns, broosheid en verganklikheid, op briljante wyse voltrek. Ek is nie vertroud met die presiese omstandighede waaronder Kannemeyer se lyk destyds aangetref is nie, so ek is nie seker tot hoe ’n mate Koch dit hier gefiksionaliseer het nie, maar “papierblom” is gewis ’n waardige eerbetoon vir Koch se eertydse mentor en vriend.

 

Is daar enige kritiek te lewer op so ’n uitsonderlike bundel soos hierdie? Ja, miskien kan ’n mens tog wys op enkele hiate. Soos die totale afwesigheid van polities betrokke verse in Pleks van plaas. Daar is min twyfel dat die digter lief is vir Suid-Afrika, haar natuurskoon en haar kultuurskatte – veral Afrikaans – maar nêrens word daar werklik kommentaar gelewer op die land se onooglikhede en knelpunte nie: strukturele ongelykheid, korrupsie, die swaar las van ’n donker verlede (daar is sekerklik ryk verbande te lê tussen Pole en Suid-Afrika), die prekêre toekoms van Afrikaans, die grondkwessie, en dies meer. Hiermee probeer ek nie aanvoer dat elke digbundel polities betrokke hóéf te wees nie, maar die feit dat ’n meer kritiese blik op Suid-Afrika grootliks in Pleks van plaas ontbreek, skep potensieel die geleentheid vir skeptici om die bundel as blote verromantisering af te maak. Terselfdetyd vermoed ek die bundel sou ryker daaraan toe gewees het met dalk hier-en-daar ’n oomblik van speelsheid of humor om die ernstige oomblikke mee af te wissel (hoewel ’n mens natuurlik deeglik bewus is van die subjektiewe aard van humor).

 

Dit is egter moeilik om fout te vind met die keurige taalgebruik in Pleks van plaas. Ek het by meer as een geleentheid ’n verklarende woordeboek moes raadpleeg en kan nou dankbaar woorde soos “laaiend” (2), “smaakbekertjie” (9) en “pelagies” (19) by my woordeskat tel. Daar is slegs enkele voorbeelde van verse waarin die digter myns insiens dreig om hom skuldig te maak aan ’n bietjie woordoordadigheid, soos in die volgende reëls uit “benguela” (19):

 

benguela tuimel

sy gedermtes af

pelagies en gedesideerd:

dis nie die land

hier nie, hoewel

konkordant en kordaat

dis die see, altyd was dit die see

wat hardvogtig en meedoënloos geweskus het

op hierdie godgegewe plek

 

Ten slotte benadruk ek weer die volgende voor-die-hand-liggende, reeds-vermelde feit: Pleks van plaas is ’n Afrikaanse digbundel deur ’n Poolse skrywer. ’n Pool vir wie Afrikaans maar ’n vierde taal is. (Ja, Afrikaans is inderdaad Koch se vierde taal naas Pools, Duits en Nederlands.) Ek benadruk hierdie merkwaardige feit nie omdat ek glo die bundel behoort ánders as enige ander bundel getakseer te word nie. Pleks van plaas is ’n waardevolle bydrae tot die Afrikaanse poësie in eie reg, en ’n digbundel wat sy plek [sic!] in die Afrikaanse letterkunde vierkantig volstaan. Ek beklemtoon hierdie merkwaardige feit bloot, omdat dit hopeloos te maklik is om uit die oog te verloor – vir diegene wat die bundel te lees kry en veral vir diegene wat persoonlik met Jerzy, die Poolse poliglot, te doen kry. Miskien is dít juis die bundel se kragtigste stelling – die manier waarop die teks op sigself grense verskuif, en die idee van “plek” (of, “digter behorende tot ’n bepaalde plek”) oorskry.

 

 

  •