Posts Tagged ‘TV-poësiereekse’

Marinda Botes. TV-poësiereekse en haar muses

Wednesday, March 24th, 2021

 

Die vierde TV-seisoen van Ek wou nog sê…, ’n uitvloeisel van die AVBOB Poësieprojek se jaarlikse poësiekompetisie, was ’n reuse sukses – dr Daniel Hugo, ankeraanbieder noem die AVBOB Poësiereekse nie om dowe neute “’n ode aan ’n lewende monument vir meertalige poësie” nie. Waar 2020 se I wish I’d said (SABC 2) op die meertaligheid van Suid-Afrikaanse digkuns fokus, val die klem in Ek wou nog sê…(VIA) op Afrikaanse digters. Die AVBOB Poësieprojek is in 2017 van stapel gestuur om die universele behoefte van pyn en verlies wat die dood van ’n geliefde laat, aan te spreek; en wat is beter as poësie om dié onbegrip te verwoord? Goeie nuus is dat diegene wat die Afrikaanse programreeks misgeloop het, dit binnekort op YouTube te siene sal kry, soos die voorganger, I wish I’d said.

In die tien episodes van Ek wou nog sê…is uitgelese gaste en digters soos Antjie Krog, Diana Ferrus, Louis Esterhuizen, asook debutante soos die bekende prosateur, Fanie de Villiers (Kleinboer) en Lynthia Julius genader vir gesprekvoering. Prof Joan Hambidge en Nini Bennett het onlangse bundels geresenseer – ’n nuwe toevoeging tot die reeks wat volgens BRAND et al en die vervaardigers die toeganklikheid van poësie benadruk, maar ook alle digters uitnooi om deel te neem aan die AVBOB Poësieprojek. As gevolg van die diversiteit van die AVBOB Poësiereekse is Ek wou nog sê…onder meer by die Pretoria Buiteklub, asook in Wellington, by die Breytenbachsentrum verfilm. Die meertalige I wish I’d said, op sy beurt, se 13 episodes is in 30 stede, oor ’n afstand van 11 000 km, en oor ’n tydperk van 40 dae verfilm. Maar poësie ken nie grense nie, en die IWIS-produksiespan het ’n odusseia onderneem om die bande van liefde en verlies, soos verbeeld teen die reële landskappe van die wendigters se lewens, na die kykers te bring. Hierdie produksie wat poësie in al elf amptelike landstale bevorder, is vergesel van Engelse onderskrifte. BRAND et al se produksiespan het ook hiérdie reeks, ’n kollektiewe ontdekkingsreis in die psige van hedendaagse Suid-Afrikaanse digkuns, se afronding hanteer.

Hoe vergelyk AVBOB se televisiereekse met hulle oorsese eweknieë, kan mens tereg vra? Digters is maar kamerasku, waarskynlik introverte ook… (alhoewel ek nie wil veralgemeen nie). Die antwoord is eenvoudig: poësiereekse soos dié is skaars. Gesog, eintlik. Dokumentêre oor digters wat oorlede is, is geredelik beskikbaar. Een van die bekendste lewende televisie-oomblikke van ’n groot digter is waarskynlik dié van WH Auden wat in 1972 op die geselsprogram, Parkinson (BBC 1) gesê het, en ek haal aan: “A poet – pardon me, a citizen – has one political duty, which is to try, and by one’s own example, to protect the purity of the language. I’m a passionate formalist on hedonistic grounds.” Auden het aangesluit by die populêre kultuur met sy gewilde gedig in die film, Four Weddings and a Funeral; en hy het opgetree as karakter in ’n drama van Alan Bennett, The Habit of Art.

In 1988 het The Lannan Foundation Video Series verskyn (die Lannan Foundation was bekend vir die bevordering van kulturele vryheid, diversiteit en kreatiwiteit; skrywers kon sonder vooroordeel gesels oor hoe politiek en kultuur hulle persoonlike en eie muses beïnvloed). Hierdie reeks bly ’n klassieke ou juweel en is gratis versprei aan biblioteke, opvoedkundige en korrektiewe instansies. Nog ’n voorbeeld: in 2018 is Poetry in America geskep, ’n televisiepoësiereeks en multidigitale inisiatief wat poësie dwarsoor die wêreld na die klas- en woonkamers van hul kykers bring. In ’n ryk dokumentêre styl is digters, byvoorbeeld Allen Ginsberg na San Francisco, en Emily Dickinson na Amherst, gevolg. Die reeks delf diep in die Amerikaanse literêre verbeelding.

Daar is egter ’n opwindende oplewing in “the third golden age”, of “the high art era of TV”, of eenvoudig gestel: “the age of art television”. Die fusie van letterkunde en TV-narratiewe sorg vir kwaliteit produksies, soos virtuele romans en die impak van literêre diskoers op TV – transmedia. Met die ontploffing van kabelnetwerktegnologie het minireekse ’n ongekende opbloei getoon, ook in kwaliteit. Uiteraard bly poësie nie agter nie. In hierdie goue eeu van multimedia “ken” baie kykers reeds hulle gunsteling digters via sosiale media, maar ’n poësiereeks soos Ek wou nog sê…is meer as net vermaak. Die onmiddellikheid van die televisiemedium stel kykers in staat om literêre diskoers en gesprekvoering aan te moedig – en om krities te dink oor die poësielandskap van die dag. ’n Meer intieme kennismaking met ’n digter stimuleer die verkope van digbundels en bevorder die lees van hedendaagse poësie. Kykers word bekend gestel aan die diversiteit in Afrikaanse poësie, byvoorbeeld die verskille in gender, kulture en taalvariëteite. Prof Hambidge en Nini Bennett se TV-resensies gee ’n toeganklike kyk op onlangs verskene bundels, wat ook dié bundels ontsluit en verdere belangstelling mag prikkel. AVBOB se poësiewebwerf word die “poësiebiblioteek” genoem, en só beskik die YouTube-skakels van afgehandelde uitsendings ook oor ’n argieveringsfunksie, wat moontlikhede vir toekomstige literêre studie inhou.

Om ’n goeie onderhoud te voer, is nie so eenvoudig soos ’n blote vraag-antwoord-sessie nie. Met die onlangse Ek wou nog sê…het Daniel Hugo, gemeet aan die kriteria van goeie onderhoudvoering, hom uitstekend van sy taak gekwyt. Hy het ’n kalmte uitgestraal wat die mees senuagtige digter genoop het om oop te maak; om ontvanklik te wees vir sy vrae. Hugo se mooi stem is natuurlik ’n bonuspunt. Hy het die strik vermy om gekompliseerde en tegniese vrae te vra. Onderhoudvoerders, wat kenners in hul veld is, maak hulle dikwels skuldig hieraan – en die “vrae” word dan eerder ’n uitstal van persoonlike kennis as om die aangesprokene te lei tot ’n sinvolle antwoord. Hugo se vrae was bondig, alhoewel dit getuig het van ’n grondige kennis van die digters se werk, en die opvolgvrae was sinvol. Die aanbieder het aandagtig – intens, eintlik – geluister na die gaste; mens kon die belangstelling op sy gesig sien. (Sommige onderhoudvoerders is so haastig om aan te beweeg na die volgende vraag, dat hulle skaars luister na wat gesê word.) Ten laaste: Hugo se vermoë om aan te pas by die verskillende persoonlikhede en oeuvres van die ateljeegaste, het opgeval. ’n Digter soos vader Jacobus van der Riet, ’n priester in die Grieks-Ortodokse Kerk se aanslag (ernstig) verskil uiteraard van die jeugdige energie van ’n digter soos Lynthia Julius. Die meertalige reeks, I wish I’d said se waarde lê in die empatiese impetus: deur wisselende fokalisering- en perspektiefwisseling “sien” die kyker via die krag van poësie hoe ander taal- en kultuurgroepe leef en poësie benader. Die AVBOB Poësieprojek is reeds nasionaal en internasionaal bekroon: Pendoring, Assegai, PRISM en M&M Global Awards. En dié televisiereekse speel toenemend ’n groter rol in die lewens van aspirantdigters, studente en die lesers van poësie.

 

Meer inligting oor AVBOB se vierde reeks “Ek wou nog sê …” is beskikbaar by:

https://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/4de-reeks-van-ek-wou-nog-se-begin-op-via-20201207