My belangstelling in die poësie het by “Winternag” begin. Dit was een van die gedigte waarmee ek in 1970 as st. 5-leerling aan die Primêre Skool Harrismith kennis gemaak het. Een of ander tyd aan die begin van daardie jaar het elkeen van ons in die Afrikaans-klas ’n afgerolde kopie van die gedig gekry om saam met ’n mooi prentjie in ons bloemlesings te plak en te leer.
Gedigte of resitasies opsê moes ek dwarsdeur die laerskool doen en ek het dit gehaat. Daar was min van daardie eerste gedigte wat op my ’n indruk gemaak het. Al om die ander week se Dinsdagmiddag moes ek en die ander kinders in die eenmanplaasskool op Mont Pelaan in die distrik Memel Afrikaanse en Engelse resitasies leer. Dan moes ons dit die volgende dag ná pouse in ’n ry voor die tafel vir meester Olivier gaan opsê. Ek onthou dit met min aangename herinneringe. Ek het immers gesien hoedat kinders se hande flenters geslaan is oor hulle nie hulle resitasies geken het nie.
Ná prof. Chris Barnard se hartoorplanting op 3 Desember 1967 in die Groote Schuur-hospitaal was ek vas van plan om ’n hartchirurg te word. Daarvoor het ek en my speelmaat, Sloepek Gatebe, talle vinke en mossies met die wip vir my operasietafel in die stoepkamer gevang. ’n Vink se kloppende hart was ’n wesentlike ervaring wat Mont Pelaan se resitasies nie gehad het nie.
En toe kom “Winternag”. Dit is moontlik dat my veranderde lewensomstandighede gehelp het om die manier te beïnvloed waarop ek die gedig ervaar het. My pa het siek geword en ons moes die plaas verlaat. Van die begin van 1970 af het ek dus op Harrismith skoolgegaan. Die nuwe, groot skool en die baie nuwe vriende was stimulerend. Daarby kon mnr. P. (Boer) Odendaal se Afrikaans-klas nogal pret wees.
Presies waarom “Winternag” die jaar so ’n groot indruk op my gemaak het, is natuurlik nie so maklik om vandag te sê nie. Wat my egter duidelik bybly, is die besondere manier waarop die digter atmosfeer in die gedig geskep het. Daardie 18 reëls het vir my net mooi die regte woorde gehad om ’n koue nag te beskryf. Die atmosfeer het my aan die Noordoos-Vrystaat se eie bitterkoue nagte herinner. En tog was daar ook iets ‘anders’ of ‘meer’ in die gedig waarop ek toe (en eintlik vandag nog) nie my vinger kon (en ook toenemend wíl) lê nie.
In dieselfde tyd het ek ook my eie eerste gedigte begin skryf. Voortaan sou ek altyd van Marais bewus wees, al was dit dikwels net uit die hoek van my oog. Die kennismaking met “Winternag” was nietemin vir my lewe ’n heel versteurende/ontwrigtende ervaring. Ek wens ek kan die ervaring “ontrou herroep”.
Johann Lodewyk Marais