(Hierdie skrywe het eers in effens beknopter weergawe as kommentaar onderaan Daniel se blog verskyn.)
Ag, hemel, net toe ek gedink het ek en Daniel Hugo kan weer vriende word …
Werklik, ek het lanklaas ’n meer gebalanseerde verwoording en beskouing gelees as Alfred Schaffer s’n in gesprek met Louis Esterhuizen oor die poësie van Nederland en Suid-Afrika. Waar kom Daniel Hugo daaraan dat dit hovaardig is?
Die stelling dat Schaffer bekend is vir hovaardigheid, is wat nou my kroeshaartjies reguit trek. Hugo behoort te weet dat daardie ’n uiters kwaadwillige aantyging is wat ’n paar keer al gemaak is deur enkele dubieuse Afrikaanse kritici, wat self nie oor ’n snars van die leesinsig beskik waaroor Schaffer beskik nie. Waarvoor Alfred Schaffer wel bekend is, is kritiek op benepe en verengende en selfbelangrike en onkrities-hierargiese beskouings, en die parogialiteit wat hoogty vier in sommige sektore van die Afrikaanse letterkunde. Hy het tien jaar lank in SA gewoon en gewerk en ’n doktorsgraad hier verwerf, en is by uitstek gekwalifiseerd om dit te kan doen. As Daniel persoonlik gekwets voel, kan hy nie Alfred daarvoor beskuldig dat het hy wat Daniel is die skoen aangetrek het nie. Ek wil hom vra om asseblief nie albei skoene aan dieselfde voet aan te trek nie, hy lyk so oorhaastig.
Ek wil puntsgewys op Hugo reageer:
1. Hy sê “Afrikaanse lesers het geen inspraak by of invloed op wat uit Nederlands vertaal word nie” maar sê ook ‘n vertaalde bundel sal nie uitgegee word as daar nie ‘n verkoopsmoontlikheid is nie. Die laaste stelling is ‘n direkte weerspreking van die eerste, en ondersteun presies wat Alfred gesê het.
2. Komrij en Gruwez en de Coninck is al drie wonderlike digters, maar nie een van die drie kan as einige iets anders as “mainstream” beskryf word. Schaffer baseer dus nié sy stelling op beperkte data nie. As daar maar een digkunsvertaling in Afrikaans vanuit buite die Nederlandse “mainstream” geval het, soos sê maar, van K. Michel of Hans Faverey, wat allerwee beskou word as ’n groot Europese digter van die vorige eeu, wel, DAN sou mens dalk meer bewyse van Schaffer kon gevra het. J.M. Coetzee se vertaling van vier groot Nederlandse digters in Landscape with Rowers het veel meer gedoen om Suid-Afrikaanse lesers aan die breedheid van die Nederlandse digkuns bekend te stel (al is daar misnoee by sommige oor die gehalte van die vertalings) as wat Hugo gedoen het (al is sy vertalings meestal uitstygend).
Die swyende aanname in Hugo se reaksie is blykbaar: as mens nie van Karasburg-omstreke kom nie (of watter platbodemplek dit ook al is), is jy per definisie minder hovaardig as wanneer jy van Amsterdam kom. Maar albei plekke lyk vir my dan ewe plat?
Daar is darem ’n ligpunt. (En ek wil nie baklei nie. Dit was vir my onlangs wonderlik om weer saam met Daniel op dieselfde podium te lees.) Ek hoor ook hy het ’n nuwe bundel uit. Ek hoop om dit binnekort te lees.