Ons almal weet dat UNESCO ’n enorme rolspeler is op die gebied van Internasionale onderwys- en kultuuraangeleenthede. ’n Herrie het egter intussen ontstaan nadat dit bekend gemaak is dat daar beoog word om die Egiptiese minister van Kultuur, Farouk Hosni, as UNESCO se nuwe direkteur-generaal aan te stel. Drie vooraanstaande intellektuele, synde Bernard-Henri Lévy (Franse skrywer-filosoof), Claude Lanzman (filmregisseur) en Elie Wiesel (skrywer en ontvanger van die Nobelpys vir Vrede), is naamlik besig met ’n internasionale veldtog téén Hosni se aanstelling. Volgens De Papieren Man is hul teenkanting gebaseer op Hosni se gewraakte uitspraak verlede jaar toe hy gesê het dat hy enige Joodse boek wat hy in ’n Egiptiese biblioteek vind, persoonlik sal verbrand. Voorts het hy glo in 2001 al by geleentheid die opmerking gemaak dat Israel nog nooit enige bydrae tot die beskawing gelewer het nie; die Joodse kultuur is ’n onmenslike kultuur, het hy glo gesê, ’n aggressiewe, rassistiese, pretensieuse kultuur wat volgens een enkele riglyn bedryf word: Om elders te steel wat nie hulle s’n is nie, en dit dan aan hulself toe te eien. Volgens die drie intellektuele is dit ondenkbaar dat so ’n kontroversiële persoon in ’n uiters invloedryke pos soos UNESCO se direkteur-generaal aangestel word. Nie net is dit ’n gebaar van provokasie nie, maar dit druis ook in teen die ideale van die organisasie, het hulle in ’n verklaring in Le Monde gesê.
Nog internasionale nuus is dat Antjie Krog hierdie week aan ’n belangrike poësiefees in Marokko deelneem. Die fees, wat van vandag tot Donderdag in Rabat en Kentira plaasvind, is naamlik ’n fees wat gesamentlik deur PEN Marokko, Winternachten (Nederland) en die Nasionale Biblioteek in Rabat georganiseer word. Dit is die eerste keer dat Winternachten betrokke is by ’n fees buite Nederland se landsgrense en hul inset behels Antjie se optrede, asook Christine Otten (Nederland), Gündüz Vassaf (Turkye) en Linda Christanty (Indonesië). Die tema van die fees is Writing between the lines en handel oor die ruimte wat skrywers soek binne die berperkings van sensuur en taboes.
Ter afsluiting, my gunstelinggedig deur ons eie Joodse konneksie in die wêreld van die digkuns, Olga Kirsch:
Hoe het dit skielik laat geword?
Die oggend was so lank en stil,
die middag ruim en warm en gul.
Die afdraand van die dag is kil.
Hoe het dit skielik laat geword?
‘n Lekker dag vir almal, en hou jou linker-oog op die horlosie; daar’s biblioteke wat brand.
Mooi bly.
LE