In ‘n vorige Nuuswekker het ek berig van die veldtog wat die Franse filosoof en skrywer, Henri Bernard-Lévy, van stapel gestuur het téén die verkiesing van die omstrede Egiptiese minister van Kultuur, Farouk Hosni, as direkteur-generaal van die invloedryke Unesco. Eintlik het ek hiervan vergeet, maar Saterdag vra iemand my wat toe die verdere verloop was en ja, klaarblyklik was sy (en ander) se veldtog toe suksesvol, want die Bulgaarse diplomaat, Irina Bokova (57), is toe in die pos aangestel. Haar aanstelling het egter gevolg na ‘n bittere stryd en dit het selfs vyf rondtes van stemming geneem alvorens haar kandidatuur genoeg stemme om haar kon verenig. Volgens The Times is dit die hewigste verkiesingsstryd nog in die 65 jaar van die Verenigde Volkere se kultuurafdeling.
Uiteraard is Bokova se aanstelling ‘n oorwinning vir Joodse ondersteuners, en natuurlik ook die Franse intelligentsia wat Hosni se benoeming met hand en tand beveg het as gevolg van anti-semitiestiese uitsprake wat hy in die verlede gemaak het; soos byvoorbeeld dat hy persoonlik alle boeke deur Joodse skrywers uit die Egiptiese biblioteke sal verwyder en laat verbrand. Gerugte dat hy Palestynse terroriste in 1985 in die ambassade in Rome gehuisves het, het ook vrylik gesirkuleer tydens die verkiessingstryd. Dog, ironies genoeg word Bokova se aanstelling in sekere kringe gesien as ‘n terugslag vir die vredes-inisiatiewe in die Midde-Ooste. Volgens Amerikaanse en Europese kommentators sou die aanstelling van ‘n Egiptiese direkteur-generaal by Unesco meegehelp het tot ‘n gees van rekonsiliasie in die Midde-Ooste. Of dit werklik die geval sou wees, is nogtans te betwyfel. Volgens The Times se verslaggewer word Hosni deur die meer radikale islam-groepe verwerp aangesien hy as té liberaal afgemaak word.
***
Etienne van Heerden se bedankingswoord tydens die oorhandiging van die Universiteit van Johannesburg-prys vir Letterkunde sluit in vele opsigte naatloos aan by die gesprek wat Charl-Pierre Naudé onlangs by monde van gasbloggers op sy blogruimte gevoer het oor die onderwerp van provinsie vs metropool. Daarom is ons dankbaar dat Etienne van Heerden dié toespraak ook aan ons beskikbaar gestel het vir plasing. Inderdaad is dit ‘n móét lees indien jy dit nog nie elders onder oë gehad het nie … Dan is ons ook vanoggend verheug om Philip de Vos terug te verwelkom na sy omswerwinge; en hy kondig sy terugkeur aan met ‘n allemintige stuk oor Thomas Linley wat ‘n tydgenoot van Mozart was. Pure leesplesier …
Mag hierdie dag jou verbaas met dit wat in jou hande gelê gaan word.
Mooi bly.
LE