Hierdie naweek het die jaarlikse Felix Poetry Festival in Antwerp ten einde geloop. Simon Vinkenoog (81), wat veronderstel was om die hoofrede te lewer, kon egter nie deelneem nie, aangesien hy hom tans in die hospitaal bevind na ’n onderbeen-amputasie enkele dae vantevore. Volgens sy vrou se inskrywing op sy webblad gaan dit onder omstandighede goed met hom. Ons korrespondent in Antwerp berig dat Peter Holvoet-Hanssen toe die hoofrede moes lewer en dat hy hom uitstekend van sy taak gekwyt het. Hy het die aanwesiges blykbaar in vervoering gehad met sy Pleidooi voor de poezie waarin hy ’n ernstige beroep gedoen het op groter betrokkenheid by die digkuns en die uitdagings wat dit in die gesig staar. Nuuswekker is bly om te kan berig dat onderhandelings reeds met Peter begin is om dié toespraak ook op die Versindaba-webblad geplaas te kry. (Lees gerus weer die Nuuswekker van 8 Mei 2009 waarin daar oor Holvoet-Hanssen berig is.) Dan wil dit voorkom asof Gert Vlok Nel besig is om soos ’n siedende veldbrand deur die noorde te trek: nie net was hy verlede week by Poetry International se fees in Rotterdam betrokke nie, maar ook Raakruimtes se huldiging van Breyten Breytenbach in Hengelo, sowel as hierdie fees in Antwerp. (Lees gerus De Papieren Man se oorskouende berig oor die Felix Poetry Festival en meegaande program hier.)
Mooi bly.
Ware poëzie is een energie-overdracht uit de hoorn des overvloeds,
een daad van bevestiging, een teken van overlevingskunst.
Geen hobby, maar een passie. Geen luxe, maar noodzaak.
Levende adem, waaiende. geest, bewogen ziel.
Poëzie dient onverbiddeiljk te zijn, of niet.
(c) Simon Vinkenoog