Die veertigste Poetry International te Rotterdam loop môre ten einde. By De Contrabas kan ’n kostelike berig hieromtrent gelees word. So is daar byvoorbeeld die volgende verbluffende eerlikheid deur Martin Mooij (78) wat dié wêreldberoemde poësiefees in 1969 geïnisieer het; toe hy gevra is wat vir hom die vernaamste indruk is van die 26 jaar wat hy as hoof-organiseerder van die fees opgetree het, was sy antwoord: “Mijn onvermogen. Ik was niet zo’n goede organisator”. Op ’n vraag na die belang van die fees vir die stad Rotterdam het hy soos volg geantwoord: “Dit is de haven van de poëzie, met import en export.’ Inmiddels zijn er dichtregels gestold in neon op kantoren in de stad en trekken ze op vuilniswagens van de Roteb door de wijken.” (’n Meer uitgebreide berig kan by De Volkskrant gelees word.) Digters wat aan vanjaar se fees deelgeneem het, is onder andere Jacques Roubaud (Frankryk), Bei Dao (China), Gerrit Kouwenaar (Nederland), Matthew Sweeney (Ierland) en Valzhyna Mort (Rusland). Ons eie digkuns is verteenwoordig deur ons literêre ambassadeur, Charl-Pierre Naudé, en soos vroeër berig: ons immergroen troebadoer, Gert Vlok Nel. Terugvoer wat ek reeds ontvang het van iemand wat hul sessie bygewoon het, is dat hulle albei skitterend was en algemeen byval gevind het. (Gaan lees hul gedigte op hierdie webblad en luister veral na Gert se voordrag van “in die begin was die woord”.)
Terloops, die relletjie rondom die “Rotterdamse aand” waaroor Nuuswekker op 12 Mei berig het, het toe sonder voorval plaasgevind; Rien Vroegindeweij en Jules Deelder ten spyt. Lyk my asof Martin Mooij reg was toe hy in bovermelde onderhoud die opmerking gemaak het dat “de poëzie in de harten van de Rotterdammers (zit).”
Mag jy pret hê vandag in alles wat jy doen. Of nié doen nie. En gaan kyk en luister na die video-grepe wat ons webmeester onder “Lees meer” begin plaas het. Dié lysie sal met verloop van tyd aangevul word.
Mooi bly.
LE