Met buskruit en salpeter
Marlene van Niekerk in gesprek met Louis Esterhuizen
Marlene van Niekerk is die skrywer van twee digbundels Sprokkelster (1977) en Groenstaar (1983), een bundel kortverhale, Die vrou wat haar verkyker vergeet het (1992), en twee romans Triomf (1994) en Agaat (2004). Sy is tans verantwoordelik vir die begeleiding van M.A.-studente in die skeppende skryfkunde. Sy vra haar af of die enigste subversiewe daad in ’n gebrutaliseerde samelewing nie dalk die skryf van klein gediggies is nie. Van Niekerk het die volgende toekennings ontvang: 1978: Eugène Marais-prys en Ingrid Jonker-prys vir Sprokkelster en die Kanseliersprys van die Universiteit van Stellenbosch; 1995: M-Net-prys, CNA-prys en Noma-prys vir Triomf; 2005: UJ-prys vir skeppende skryfwerk vir Agaat. Sy het ook in 2007 die Hertzogprys vir hierdie roman ontvang. Van Niekerk sal later vanjaar vir drie maande as gasdosent in skeppende skryfkunde in Leiden optree waar sy onder andere die Albert Verwey lesing sal gee.
|
Marlene, jy staan al sedert 2001 aan die hoof van die uiters suksesvolle Kreatiewe Skryfkursus by die Universiteit van Stellenbosch. Alhoewel baie belanghebbendes bra skepties staan teenoor sulke kursusse het julle al besonderse suksesse behaal; met Loftus Marais se debuut as ʼn meer onlangse voorbeeld hiervan … Hoe geskied die keuring vir so ʼn kursus?
Belanghebbendes het sekerlik reg om skepties te wees. Sogenaamde skeppende skryfdosente kan nie mense wat ʼn behoefte het om te skryf verander in goeie skrywers nie. Tussen die behóéfte om jou uit te druk en die aflewer van ʼn min of meer vlotte verhaal/gedig, laat staan nog maar eers ʼn komplekse literêre teks, val ʼn groot skaduwee, een wat dikwels lei tot frustrasie en teleurstelling in die hart van die behoeftige. Christopher Hope het ooit gesê hy weet nie wat hy moet doen met mense wat vir hom sê hulle wil skryf nie, hy mik vir die deur.
Die punt is: die “skryfbehoeftige” moet reeds redelik goed kan skryf, moet reeds oorspronklike idees hê, moes reeds heelwat gelees het, en moes reeds hard probeer het. Die meeste studente wat uit ons kursus kom met publikasies en prestasies, was reeds nuuskierig, kompetent en toegewyd voordat hulle by die kursus aangesluit het. Willem Anker, (nou saam met my dosent in die MA skryfkundekursus en wenner van die UJ Debuutprys vir prosa), Deon Meyer (ATKV-prys), Helena Gunter (Eugène Maraisprys), Loftus Marais (UJ Debuutprys), het hoogstens gebaat by die streng skryftempo wat ons vir ons studente voorskryf. Hoe meer bladsye die skrywer/digter genereer hoe groter die kans dat hy/sy goud raakspit. Verder vind Willem en ek wel dat voorgeskrewe leeswerk (fiksie, wetenskap, teorie) en meningswisseling in die klas, saam met ons terugvoer en noukeurige redaksie van tekste mense help en aanmoedig in hulle pogings. Reeds kompetente skrywers besluit in elk geval watter adviese hulle wil aanneem en watter menings hulle in die wind wil slaan. Soms vind kandidate wat reeds sukses behaal het en bevestig is in die openbare arena die kursus nogal konfronterend. Ons mening is dat die eise wat ons in die skryfklas aan skryfwerk stel altyd hoër moet wees as die eise wat die verbruikers van vermaak stel.
Toelating tot die MA-kursus sal strenger word volgende jaar wanneer die kursus ook aangebied sal word vir studente wat in Engels skryf. Studente, wat in ieder geval moet beskik oor ʼn Honneurs in Afrikaans/Engels, is tot dusver gevra om vir ons keuringsproses ʼn portefeulje voor te lê van veertig geskrewe bladsye prosa, of twintig gedigte, ʼn uitvoerige opsomming van die beoogde eindprojek (wat die formele en inhoudelike samehang en uitdagings daarvan moet verbesonder) en ʼn brief wat verduidelik en motiveer waarom hulle die kursus wil neem en wat hulle wil leer. Hieruit kan die keurkomitee baie vinnig agterkom wat die vlakke van (ook teoretiese) belesenheid, skrywerlike toewyding, vaardigheid en mate van intellektuele ontwikkeling by voornemende studente is.
Hierby ʼn opmerking: ons is van mening dat skryf nie in die eerste plek ʼn kuns is nie, maar ʼn tegniese kunne, ʼn vak waarin mens sekere ambagtelike grepe kan leer net soos wat mens kan leer klavierspeel. Of jy dan uiteindelik uitstekend kan klavierspeel en moeilike werke op uitdagende maniere kan interpreteer, is weer ʼn ander vraag. Dit hang af of jy “aanleg” het soos die ou mense sê, en of jy onydel genoeg is om aanmekaar te luister na hoe die meesters moeilike werke interpreteer en speel. Met ander woorde, bo en behalwe die ambag is daar dan die sogenaamde “ kuns” Ons bring die meeste van ons studente die ambagtelikhede by, sodat hulle ten minste ʼn vlot en onderhoudende storie sonder perspektieffoute, clichés of chronologiese verwarrings kan skryf. Alleen as die vakkundige basis gelê is, kan mens verder gaan.
Hoe werk so ʼn kursus? Wat is julle werkwyse?
Ons skryf algemene en persoonlike leeswerk voor en ons hou elke maand ʼn uitvoerige werkswinkel/seminaarklas waarvoor alle lede mekaar se werk moet lees en terugvoer gee.
Vir hierdie seminaarklas vra ons dat studente wat prosa skryf elke maand dertig tot veertig bladsye nuwe werk inhandig. Dit beteken dat hulle voltyds moet skryf en tagtig bladsye per maand moet genereer. Dit kom neer op plus minus drie bladsye per dag, wat dan afgeredigeer moet word tot die dertig of veertig wat hulle inhandig. Ons kyk nie graag na heeltemal rowwe eerste weergawes nie, ons soek die bladsye wat reeds verminder en geredigeer is deur die student.
Ons redigeer voorts groot stukke van hierdie ingehandigde tekste, maak die sinne reg, maak die vertelperspektief reg, korrigeer die tydsverpakking van die verhaal, stel ontwikkeling van tonele voor, suggereer hoe die stemme geïndividualiseer moet word, skrap adjektiewe en bywoorde, skrap clichés, ensovoorts. Dis ʼn gehiert en ge-pffft en geskrop, dis soos die huisvriendelik maak van klein hondjies: hier hondjie, hier, op die koerantpapier, hier, nie daar op die tapyt nie. Oor en oor en oor doen ons dit soos vingerposisies en tydtel as mens leer klavierspeel, tot gewoon net die vertel van die storie min of meer vlot.
En dan pas begin die eintlike werk, d.w.s. as dit ʼn talentvolle skrywer is. Anders laat ons die teks gewoonlik by “goed vlot” en konsentreer op die teoretiese opstel waarmee die punte dan opgemaak moet word.(Die teoretiese opstel tel die helfte van die punte vir die MA-eindprojek, en dit moet handel oor ʼn onderwerp wat formeel of inhoudelik verband hou met die skrywer se skeppende werk. Hierdie opstel is egter nooit ʼn verslag van die skryfproses of ʼn beskouing oor eie werk soos wat mens dikwels vind in ander uitvoerende of beeldende kunstedepartemente ook by ons eie universiteit nie. Ons vind dat dit alte maklik uitloop op ʼn selfregverdiging of rasionalisering van skryfwerk wat nie heeltemal so besonders of goed is as wat die skrywer daarvan graag wil glo nie. Dis meestal erg verleentheidswekkend om hierdie selflowende geskrifte te lees. Skrywers dink ek behoort hulle te weerhou van interpretatiewe of waarderende kommentaar op hulle eie werk, dit kan lei tot die ongeluk van inhiberende selfinsig!
Nog oor ons werkwyse: soms doen Willem en ek iets wat ons noem ʼn “cockpitsessie”. Dan sit die student voor die rekenaar met haar teks en ons sit weerskante langs haar en ons laat haar haar teks hardop voorlees, en dan laat ons haar sin vir sin skoonmaak en styftrek en skrap. Na so ʼn sessie ruik die kantoor meestal na buskruit en salpeter, maar dit is ʼn erg effektiewe oefening.
Redaksie is iets wat ek geleer het by my eie lewenslange redakteur Hettie Scholtz. Mens het ʼn begenadigde iemand soos sy nodig wat jou die ding van selfkorreksie leer, iemand wat jy absoluut moet vertrou, ʼn rol wat jy voorts moet internaliseer. Hettie het my byvoorbeeld ʼn pedagogiese truuk geleer wat ek met groot vrug toepas. By al die sinne wat reg was in my werk het sy regmerkies gemaak, en by die wat nie helder was nie of te lank, verkeerdmerkies. Met sulke redaksie voel mens ondersteun en hoopvol terwyl jy jou teks hersien. Slegs verkeerdmerkies sou baie erg gewees het.
Tot dusver het ek jou vraag beantwoord met verwysing na prosa. Maar ook digters moet hulle ambag leer. Nougesette komposisie van beeld en klank, ʼn helder inhoudelike fokus, verwikkeldheid van idees en verrassende assosiasies is nodig vir ʼn geslaagde gedig. Slap, flou prosareëls en modderige adjektiewe moet daarom geskrap word.(veral woorde wat oorgeëksploiteer is in Afrikaanse poësie soos digby, oker, silwer, plots en ruggelings!) Ons laat graag gebonde verse skryf, sonnette, villanelles. Dan leer die aspirantdigter baie gouer om te skrap. ʼn Baie goeie oefening is om ʼn maklik memoriseerbare, (maar nie ʼn soetsappige) melodie, of lied te neem en die digters nuwe woorde daarop te laat skryf. Die woorde moet perfek skandeer op die musiek (met die klem op die regte sillabes van die woord) en die teks moet in een enkele emosionele fokus bly met inagneming van die musikale wendinge en klimakse. Geen beter manier om uit te vind of jy twak geskryf het as om dan jou woorde op die voorgeskrewe melodie vir die klas te sing of te laat sing nie. ʼn Baie goeie oefening vir digters is om goeie Engelse gedigte in vaste vorm in Afrikaans te vertaal, met behoud van rym en metrum. Dis soos om perde met ʼn rek om die enkels te laat hardloop. As jy die rek afhaal tel hulle vanself hulle knieë mooi hoog op.
Daar is deesdae ʼn vadsige, ek wil amper sê verloederde mode van die oewerloos uitgesponne vrye of “praat”-vers in Afrikaans waarvan dikwels twee derdes geskrap kan word, die soort gedig waarvan die digter nie weet waaroor dit in essensie gaan nie en dit skynbaar ook nie wil weet nie. Dit lyk vir my dikwels in sommige verskynsels van hedendaagse Afrikaanse digkuns asof die idee van gedrongenheid en verwikkeldheid op klank- en betekenisvlak saam met die idee van inhoudelike gravitas of ʼn meer as anekdotiese betekenis volledig in die vergetelheid geraak het ten gunste van ʼn prosodies ongedissiplineerde selfkoesterende gewauwel. Keurders by die uitgewers sou hieroor aangespreek moet word. Dis sleg vir ons taal en sleg vir ons digkuns dat sulke poësie gepubliseer word en aangeprys word deur lui of lafhartige resensente. Dis onverantwoordelik. Ons sal gewoon kry wat ons verdien as dit so aangaan.
Uiteraard is die studente uitgelewer aan my en Willem se smaak en opvattinge, nie dat ons oor alles saamstem nie, ons vind dit heel belangrik dat studente sien hoe hulle dosente ook van mekaar kan verskil. Ons dwing nie ons idees af nie, maar ons eis wel dat studente soveel as moontlik lees. En dan by verre nie alleen fiksie of poësie nie. Dit kan ʼn skrywer en ʼn digter baie goed doen om ʼn slag ʼn boek oor dieregedrag of meteorologie of die fisiologie van die anus te lees, selfs meer as nog ʼn bundel gedigte of nog ʼn roman. Dit kom daarop neer dat ons studente wil leer om geykte taalgebruik en geykte persepsies te onderdruk en nuwe gewaarwordings oop te dek, deur die peilstif, die voelstaaf, die sonde van taal.(Soek dit op in die woordeboek, dis Afrikaanse woorde vir “probe”) Dit gaan vir ons oor die kweek van insig in die materialiteit van taal en die moed om risiko’s te neem daarmee, ja, om die gewone funksionele mededelende en konvensionele taal plesiergewende (erotiese) geweld aan te doen. Dit gaan om die wildmaak van taal agter die tong aan by die mond uit, soos wolwe om Hans Andreus vry aan te haal.
Alhoewel jy as digter gedebuteer het met Sprokkelster (Tafelberg, 1977), het jy jou die afgelope dekade by uitstek gevestig as prosaskrywer. Tog het jy deurentyd voortgegaan met die skryf van gedigte; kom dié gelyktydige beoefening van twee uiteenlopende dissiplines maklik vir jou, of vind jy dat die een die ander inhibeer?
Ek vind dit deesdae veel plesieriger en hoopgewender om gedigte te skryf as prosa. Ek vlug uit die prosa in die gedigte om daar bietjie asem te kry. Ek voel veel vryer en gelukkiger as ek ʼn versie pleeg as wanneer ek ʼn kortverhaal probeer skryf. Kortverhale is vir my die heel moeilikste vorm, ek beland deesdae binne drie sinne van die aanvang in ʼn vreeslike gestoei met vorm. In die romans neig ek natuurlik om te langdradig te wees. Wat ek wel merk, is dat ek steeds meer die eise van poësie aan my prosa oplê – ek soek steeds na ʼn hiper-integrasie op klank- en beeldvlak in die prosa. Die ritme van die sinne is vir my toenemend belangrik. Miskien is dit hoekom die prosa vir my so moeilik voel om te skryf, want ek wil eintlik poësie daarvan maak, maar mens kan dit nie doen oor die hele lengte van ʼn sewehonderd bladsye taamlik realistiese roman nie.
Uiteraard verskil die verse wat ʼn mens die afgelope tyd van jou te lese kry (of hoor), heelwat in aanslag van die verse in jou twee digbundels. Voel jy dat jou werk as prosaskrywer hiertoe bygedra het, of is dit gewoon vanweë ʼn natuurlike ontwikkelingsproses en/of veroudering?
Ek dink veroudering, van myself dus het alles te make met my hang na die poësie. Ek dink beweging is nodig vir die skryf van poësie, die halsreikende beweeglikheid van die prille jeug, die bewoënheid en verbystering van die ouerword. (nou rek jy jou nek na die plek waar jy moet oeit en jy wonder hoe op gods aarde jy dit moet doen) Die verliese wat jy ly as jy ouer is, is vreeslike droewige verliese, die winste wat daar nog is, voel almal soos groot geskenke, groot kanse. Die skryf van gedigte voel dan soos ʼn soort aandagoefening, ʼn soort gedenk-aktiwiteit: die duiwe help die eik verherfs, gedigte help my sterwe. (Nie ʼn reël wat moet bly staan nie!)
Marlene, daar word nogal dikwels gesels oor veral twee nuwe tendense wat teenswoordig in ons digkuns na vore kom: die sogenaamde anekdotiese (of vertelvers) en die ou strydpunt van filosofie en poësie. Hoe voel jy hieromtrent? Het ons hier met sop sonder sout te make, of is dit wesenlike groeipunte in ons digkuns?
Ek dink ons eietydse digkuns word veral bedreig deur slapheid en flouheid, deur ʼn gebrek aan inspanning en ambisie, deur halfsagtheid, deur of purperige of cool-erige muurpapiertaal, en dan ook nog bedreig deur verskillende soorte van ydelheid, vanaf hoogs postmodernisties geleerd tot religieus dweepsugtig tot jags selftentoonstellend tot gewoon rooibostee– en toasthuishoudelikselfvertroostend. (Gepraat van toast, Toast Coetzer is hierby ʼn uitsondering, ek dink hy maak wildewegholtekste in wildewegholkontekste van klank. Dis hoogs aansteeklik en verfrissend. Take it away Toast!)
Dis gevaarlik om te lewe, dis gevaarlik om te dig. Taal is ʼn gevaarlike en lewendige ding as jy hom wakkerkry uit sy ingeslaapte alledaagsheid. Ek voel nie daar is altyd genoeg bewustheid hiervan in ons jonger digkuns nie. Baie gedigte is nogal selftevrede en dof. Oulikheid en dekorasie is ʼn ander gevaar. Ek dink dit is omdat jong digters dikwels nie genoeg goeie of wilde poësie en wilde filosofie lees nie, en die keurders wat hulle moet krit ook nie. Ek dink die dumbing down van die samelewing het veel daarmee te make, die verdwyning van die openbare domein as een van betrokkenheid en debatvoering. Hierdie land vra om in sy skoonheid besing en in sy lyding gerou en in die enorme stupiditeit van sy leiers uitgeskel en wakkergeskud te word, maar die digters poer meestal net aan asof hulle magneetlettertjies rondskuif op ʼn yskas. Wat het geword van die himniese en elegiese digters? Waar is die digters wat “verby die moederspeen in die mond skel” om BB buite konteks aan te haal?
Die gedigte wat ekself die graagste sou wou skryf, so vertel ek myself in my een hart, moet iets algemeen probeer beweer. My voorbeeld hierby is die Poolse digter Wislawa Szymborska. Sy is filosofies geskool en wat my betref ʼn ware en voorbeeldige digter: sensitief vir aktuele en historiese gebeure en gegewens, gewaarwordingsbereid tot en met, maar meestal met ʼn humoristiese of skeptiese wysgerige gevormde ondervraging van die gegewens, gebeure en gewaarwordings, sodat die gedig ʼn “algemeen menslike” en “tydlose” waarde kry. Ek weet nie hoe die gedigte in Pools klink nie, wat verskriklik jammer is, ek stel my voor hulle klink ook nog erg mooi. In die Nederlandse en Engelse vertalings is wat my tref die ekonomie, die helderheid van die “argument”, die puntigheid, die oorspronklikheid, ʼn soort lugtige wysheid, maar met heel veel mededoë, anders as Larkin, die ou bitterbek, wat ʼn ander digter is wat ek graag wil naboots.
Maar in my ander hart is ek te jaloers op musiek om te veel te kommer oor (filosofiese) betekenis, ek neig steeds meer daarna om die klankeffek van die gedig aan te stel bo die betekenis daarvan. Ek dink soms: betekenis, ag, betekenisbespekenis, wat moet wat ookal nou eintlik be-teken? Die meeste ou betekenissies is puffel. Op warm dae is ek ʼn taalskeptisis, as die sneeu op die berge val nog meer. Teenoor “betekenis” staan die oorstelpende verbysterende onbenoembare so-heid van die dinge. ʼn Eerlike respons daarop sou ʼn woordelose kreet moes wees, ʼn kreun. Dus, digter, roep na die maan, na die blare, na die bloed, antwoord op die varings by die wal. Slampamperpoësie verder ontwikkel dus? Maar nie soet nie. Dionusiese slampamper? Die gedig as eksklamasie, as beswering, as invokasie, as sjamanistiese intervensie? Teenoor die wysgerige dan miskien die Orfiese? Of anders nonsenspoësie?
Maar kyk om u heen beste leser: hoe lyk Orfeus op Stellenbosch? Hy is ʼn no nonsense fellow. Alles wat hy beweer dra by tot beter begrip. Jy sien hom by Java koffiedrink met sy Blackberry. Hy kyk nooit om na Ariadne nie. Hy is ʼn wellness expert.
Pallaksch, het Hölderlin gesê in sy toring, ja-nee.
Dankie vir hierdie heerlike gesprek, Marlene. Sal jy, ten slotte, dalk so vriendelik wees om een van jou (nuwer) verse hieronder oor te tik vir ons lesers se vaartbelynde leesplesier?
In die aand by die dam.
(By die Variasies en fuga op ‘n tema van Beethoven vir twee klaviere van Max Reger)
Dreun is wat die hiel doen van die wolk in die water,
‘n dreun wat veramber in die waag van die aand,
die berg met haar koning
‘n sitting van spilsiek reïterasie.
Ek hurk daarby my palms in die modder
en wens ek was Max Reger
wat die wildemakou met een akkoord kan inink in die glans,
en die otter met sy rimpelvermenigvuldigende snoet
kan uitstuur aan oewers van oorvloed,
en die landing van kolganse fugaal kan verskitter,
en die rietkraag kan naderbuig met klawers van winking,
en die maan kan aanslaan in die tabernakel van die oor,
en al die variasies van die val van die skemer kan hang
langs die skene van die reier wat staan in die kaatsing
van aankwinkelende transe.
En as hy uiteindelik sy drome betree
daardie tred kan vang in deursigtige
skandelose kadense.
Ag, ag, as ek nie so oud soos koue pampoen was nie, was ek bliksemsnel in Me Van Niekerk se skryfklas. Natuurlik, as sy my ooit sou toelaat. Om so te kan skryf!
My wens, as ek ooit die geleentheid kon kry vir ‘n wens wat sal waar word, is om ‘n student te kan wees in Marlene se klas. 🙂 Nou kan ek maar net in spanning wag vir haar volgende roman.