Voetnotas by Marlene van Niekerk

Die onlangse onderhoud wat Louis Esterhuizen met Marlene van Niekerk gevoer het, was myns insiens die hoogtepunt op Versindaba-webwerf tot dusver – omdat dit ’n kritiese en veelkantige kyk, in gevleuelde bewoording, gee op die rol en stand van letterkunde in Afrikaans.

     Kompleet met ’n gedig daarby, ’n spesifieke sóórt gedig bygesê, wat ek persoonlik ervaar as heel kostelik uitnemend. (Só lyk die erotisering van die niet, die tasbare gerugmaking daarvan, soms.)

     Die opmerkings is meestal verhelderend en in die kol, maar enkeles daarvan – wat neig in die rigting van definisies – skep ongelukkig ook die ruimte vir misverstand en verskraling. Misverstand oor wat die poësie alles kán wees. En verskraling van die verwagtingshorison van poësie in Suid-Afrika, ’n verwagtingshorison wat histories maar nougeset was by ons en tans besig is om uit te brei, helaas heel laat in die dag en nie sonder struikeling nie, en helaas ook nié sonder teenkanting van benoude elemente nie.

     In ’n onlangse onderhoud tussen my en Alan Finlay, voormalige redakteur van die poësietydskrif New Coin, wat hier te lese is, stel ek dit dat die poësiediskoers in SA weifel tussen konserwatief en “anything goes”. Albei hierdie self-opgeblase pole is verkeerd. Tussen dié twee wydsbebeende bloemersakke stort die wêreld van ware moontlikhede weg.

     In ’n neutedop: Dit lyk vir my of Van Niekerk se sienings van wat poësie is die spektrum van wat moontlik is in die poësie, slegs ten dele dek. Maar sy stel dit ook duidelik dat dit háár sienings is.

     Ek sal puntsgewys reageer.

 

1. Neem die volgende stelling: “(E)k neig steeds meer daarna om die klankeffek van die gedig aan te stel bo die betekenis daarvan. Ek dink soms: betekenis, ag, betekenisbespekenis, wat moet wat ookal nou eintlik be-teken? Die meeste ou betekenissies is puffel.”

    Betekenisse hoef nie puffel te wees nie. Dis juis ‘n poëtiese kultuur wat betekenis onderspeel, wat uitloop op betekenisse wat puffel is. Om nie te praat van die swyende aanvaarding dat daar ‘n eindige hoeveelheid betekenisse is (wat dan vermoedelik in ‘n oneindige hoeveelheid klanke uitgedruk sou kon word). Helaas, nuwe betekenisse is so oneindig soos die moontlikheid van nuwe klanke, hulle moet net bedink word.   

     Die oënskynlike onderskeid tussen klank en betekenis wat Van Niekerk maak, laat my dink aan die twee soorte inspirasies van die poësie soos wat J.D. McClatchy dit in sy bloemlesing The Vintage Book of Contemporary World Poetry aandui.

     Daarin noem hy die twee soorte inspirasie ”the ‘invented’ and the ‘received’”.  Die eerste werk met die “technical apparatus and rhythmical instincts (of a language) … the whole echo chamber of a (particular) tradition. These are the hardest (poems) for a translation to catch.”

     Die tweede soort inspirasie is “the ‘received’ … Hegel thought that the true medium of poetry is not words but ‘poetic ideas’ … (the poem) as a manifestation of an invisible poem, written in a language beyond languages. Such invisible poems reveal themselves less in the actual lines of a poem than in the figures those lines conjure up.”

     ‘n Mens hoef nie besonder skerpsinnig te wees om te weet dat die Afrikaanse tradisie, as deel van die Angel-Saksiese en Britse erfenisse, histories hoofsaaklik met die klank-soort inspirasie gewerk het en steeds werk, naamlik die “kamer van eggo’s”. Van Niekerk se eie gedig aan die einde van die onderhoud is by uitstek ‘’n voorbeeld van hierdie soort inspirasie.

   ‘n Swyende onderskeid soos die waarmee Van Niekerk werk, loop die gevaar om ‘n ganse wêreld van poëtikale inspirasie (“the received”) eenvoudig af te sny. En die digters wat sy bewonder en wat sy noem, kennelik Szymborska, werk juis met hierdie tweede soort inspirasie in die eerste plek, nie soseer met die klanksoort nie. (Natuurlik is klankmatigheid en ritme nog steeds ter sprake, maar dis nie meer die dinamo, die ingee, van die gedig nie. Die gedig ontspruit eerder in ‘n idee.)  

    Hierdie twee inspirasies oorvleuel uiteraard dikwels.

    

     

2. Neem die volgende stelling: “Daar is deesdae ʼn vadsige, ek wil amper sê verloederde mode van die oewerloos uitgesponne vrye of “praat”-vers in Afrikaans waarvan dikwels twee derdes geskrap kan word, die soort gedig waarvan die digter nie weet waaroor dit in essensie gaan nie en dit skynbaar ook nie wil weet nie.”

     Hiermee kan mens akkoord gaan, sulke gedrogte word wel tans in Afrikaans (en elders) geskryf. Maar die “praat”-vers hoef nie oewerloos en uitgesponne te wees nie. Wat skryf Szymborska, indien nie onder meer “praatverse” nie? Dis juis daardie praat-toon wat hulle so uniek soomloos maak.

     Feit is, daardie opmerking van Van Niekerk skep die indruk dat praatverse per definisie nie die soort gedrongendheid kan besit as klankgedrewe verse, soos die een wat haar onderhoud vergesel. Die teendeel is waar. Die gedrongendheid van praatverse sit dikwels maar net op ’n ander plek, naamlik in die skakels van die gedig se verbeelding, as in die geval van verse wat sintakties gedronge is. Verse wat werk met vernacular, soos in die geval van Raymond Carver of sommige verse van Tomas Transtromer, kan soms sintakties selfs oorbodige woorde bevat vir die effek. En dit maak daardie gedigte nie minder verdig nie. Dis bloot ’n ander soort vers.

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •