
Ek het al by ‘n vorige geleentheid berig oor die vreugde wat die Poëziecentrum in Gent se amptelike publikasie, Poëziekrant, is. En die nuwe uitgawe wat ek onlangs ontvang het (Junie-Julie 2009), is géén uitsondering nie. Hoe dan anders met ‘n A4-formaat tydskrif van 96 bladsye wat gepak is met prikkelende leesstof wat jou paragraaf na paragraaf laat besef watter enorme krag die digkuns inderdaad is. (Gaan kyk gerus hier na die inhoudsopgawe.)
Maar dit is nie waaroor my Nuuswekker vanoggend handel nie. Nee, vanoggend handel dit oor ongebreidelde, “provinsialistiese” trots. (Hoe dan anders, komende van ‘n oud-Vrystater?) Nietemin, daar bestaan by my bykans geen groter vreugde as om deur my speurlees na brokkies inligting vir die daaglikse Nuuswekker skielik te stuit teen die teenwoordigheid van een van ons digters op die Groot Verhoog nie. Ai, ai, ai. So tref ek toe ‘n omvattende resensie op Meander – waarskynlik die langslewende poësie-webblad in Nederland – aan deur Joop Leibbrand oor Danie Marais se Al is die maan ‘n misverstand. En dan nou die dag in Poeziekrant, twéé artikels: Jooris van Hulle oor Christine Barkhuizen le Roux (met vertaalde verse daarby) en Luc Renders se insiggewende artikel oor Gilbert Gibson se digkuns. (Ook met etlike gedigte wat aangehaal word.)
Ongelukkig ontbreek tyd en ruimte om indringend op dié drie artikels in te gaan, maar as lusmaker die volgende aanhaling uit Joop Leibbrand se resensie oor Danie se bundel: “Longen vol ‘petrolpsalms’ heeft deze dichter, en het is geen vuur dat hem verteert, maar hem kracht geeft zijn bestemming te bereiken … Marais’ gedichten zijn inderdaad nauwelijks gelaagd en hebben zeker geen veld van betekenismogelijkheden dat bij iedere nieuwe lezing uitgebreider wordt en zich moeilijker laat ontginnen. Maar ze zijn scherp en helder en worden bij herlezing beslist pregnanter. Hoe langer de beschreven gebeurtenissen op je inwerken, hoe dieper ze worden geëtst.”
Applous! En mag ‘n mens maar so skuinsweg vanagter jou hand fluister dat die provinsie besig is om te mobiliseer, of is dit dalk nog te vroeg daarvoor? Mmm, ek weet nie. Veral as ‘n mens die onlangse verering van Breyten Breytenbach en Antjie Krog in gedagte hou … Ook nog Charl-Pierre Naudé en Gert Vlok Nel se suksesvolle optredes tydens poësiefeeste in Nederland vroeër vanjaar. Myns insiens kan ons digkuns net baat by hierdie blootstelling aan ‘n groter gehoor.
Gaan lees gerus ook die onderhoud wat Meander se Sander de Vaan met Danie Marais gevoer het.
Dan kan ‘n mens mos maar net sê: Doe zo voort. Of iets in dié lyn.
Vir jou leesplesier vanoggend, een van Christine Barkhuizen le Roux se verse in die Nederlandse vertaling deur Jooris van Hulle.
Mooi bly.
LE
Schreef
voor Daniel F
medisch omschreven
als syndroom van Down
een extra chromosoom
tekent je ogen schuin
je handen stomp
verdomp
binnen je vingers bloeit
een zaad nog onontkiemd
alleen het oog gespleten
ziet ongeboren bloemen
(c) Christine Barkhuizen le Roux (vertaling: Jooris van Hulle)