Dit is weer sulke tyd: die ontvanger van die Nobelprys vir Letterkunde word binnekort aangekondig. Na my mening behoort 2009 Philip Roth se jaar te wees. Die belangrikste rede is natuurlik dat Roth een van die wêreld se briljantste en mees konsekwente romansiers is. Sy Portnoy’s Complaint, die roman wat hom beroemd gemaak het, is vanjaar 40 jaar gelede gepubliseer. Sedertdien het Roth ‘n majestueuse, oorweldigende oeuvre opgebou.
Boonop het hy die beste vir sy later jare gelos. Roth is al goed op pad 80 toe (hy is in 1933 gebore), maar sy werk het nog geensins ingeboet aan vitaliteit en dringendheid nie. Boeke soos Sabbath’s Theater, American Pastoral, The Human Stain, The Dying Animal, Everyman en Indignation, wat almal sedert 1993 en dus ná sy 60ste jaar verskyn het, tel onder sy beste werk, en onder die beste romans wat die laaste twee dekades wêreldwyd verskyn het. Is daar trouens enigie ander skrywer wat in die laaste 20 jaar méér klassieke romans geskryf het as Philip Roth? Ek glo nie.
By die toekenning van die Nobelprys vir Letterkunde speel buite-literêre oorwegings natuurlik ook altyd ‘n rol. Ook in hierdie opsig is daar ‘n paar dinge wat myns insiens hierdie jaar in Roth se guns mag tel. Eerstens is die Nobelprys in 1993 laas aan ‘n Amerikaanse skrywer toegeken (Toni Morrison). Tweedens het die oorwinning van Barack Obama die VSA vir ‘n wyle verlos van die politieke muishondstatus wat die land onder George W. Bush se bewind verkry het. Obamanie kan dalk net die ding doen!
Goed, Roth is sekerlik nie die enigste ernstige Amerikaanse aanspraakmaker op die Nobelprys nie. Die VSA het nog nooit ‘n tekort aan briljante skrywers gehad nie. Die Sweedse Akademie het nou wel die kans om John Updike te vereer deur die vingers laat glip, maar Thomas Pynchon, Cormac McCarthy en Don DeLillo, om dan maar net die romansiers te noem, leef en skryf nog almal, en sou elk ook waardige ontvangers wees.
Tog dink ek Roth, veral oor wat hy die laaste twee dekades vermag het, behoort tans heel voor in die ry te staan.