Die wenner van die 2009 Nobelprys vir Letterkunde is toe nie Philip Roth, Amoz Oz of selfs Bob Dylan nie, maar die relatief onbekende (ten minste in die Engelstalige wêreld) Herta Műller. Volgens die Sweedse Akademie word hierdie Roemeens-gebore Duitser vereer vir kortverhale en romans wat, “with the concentration of poetry and the frankness of prose, depicts the landscape of the dispossessed.”
Ek moet bieg: voor vanmiddag het ek nog nooit van Herta Műller gehoor nie… Daar is, so ver ek kan naspeur, ook nog net vyf van haar boeke in Engels vertaal: The Passport (1989), The Land of Green Plums (1996), Traveling on one leg (1998), Nadirs (1999) en The Appointment (2001).
Műller is in 1953 in Roemenië gebore as deel van die Duitsprekende minderheid in daardie land. Gedurende die 1970s studeer sy Duitse en Roemeense literatuur, en raak betrokke by ‘n groep skrywers wat die Roemeense diktator teenstaan en aandring op spraakvryheid. Haar eerste boek, die kortverhaalbundel Niederungen (1982; in 1999 in Engels uitgegee as Nadirs), is in Roemenië verbied, maar is twee jaar later met groot welslae in Duitsland uitgegee. Nadat sy weens kritiek op die Roemeense regering nie meer in daardie land kon publiseer nie, emigreer sy in 1987 permanent na Duitsland. Sy woon tans in Berlyn.
Haar werke, volgens die Sweedse Akademie se webblad, “give, with chisseled details, a portrait of daily life in a stagnated dictatorship.” Sy word beskou as een van die belangrikste hedendaagse Duitse skrywers.
Desmond Painter