Andries Bezuidenhout. Hul laaste dae in Johannesburg, skets 5d

1
die plakkate is teen die vensters, ‘n ballon dryf in die lug
deur die tralies van die stede het ons na die Klein Karoo gevlug
Afrikaners raak plesierig, hulle speel en wroeg en lag
ek loop deur die strate van Oudtshoorn, ek soek na Breyten Breytenbach

2
ʼn Vriendin van hom vertel dat Antjie Krog dinge lekker by die Goethe-instituut opgeklits het deur te sê dat Engelse Suid-Afrikaners die hele De la Rey-fenomeen verkeerd gelees het, omdat hulle ʼn behoefte het om Afrikaners as agterlik en regs voor te stel. Die Sunday Times publiseer ʼn verkorte weergawe van die toespraak. Hy lees dit en stem gedeeltelik saam. Hy besef egter daar’s ʼn verskil tussen wat musikante met hul musiek bedoel en hoe gehore dit opneem. Hy dink ook aan die gemengde boodskappe (benewens die gemengde metafore in die lied) wat die kunstenaar uitgestuur het. Hy wonder, as hy ʼn musikant was, of hy gemaklik daarmee sou wees as mense die ou Republiekvlag by sy konserte swaai. Wat sou Antjie Krog, as sy ʼn musikant was, is daardie geval doen?

3
ek dwaal in Jan van Riebeeck, raak verlore in Voortrekker
my Sarie Marais is in die wolke, dis nie van witblits nie – dis iets sterker
is daar ‘n storm aan die broei? ek weet nie, want die wind waai nou nog sag
ek loop deur die strate van Oudtshoorn, ek soek na Breyten Breytenbach

4
ʼn Vriend bel. Wil hoor of hy saam met hom na ʼn Carl Becker uitstalling wil gaan kyk. Carl Becker is ʼn skilder. Hy het ook die UDF se logo ontwerp. Die uitstalling gaan oor Pierneef. “Ag nee,” sê hy, “ek hoop nie hy doen cheap tricks soos om op Pierneef se graf te dans of om etniese kitch oor sy skilderye te verf nie.” Hoekom reageer hy so heftig? Dalk is hy moeg vir cheap tricks met die heilige koeie van Afrikanernasionalisme. Die punt is dat daardie koeie lank gelede reeds afgeslag is. Daar is niks snaaks daaraan om op ʼn dooie koei se karkas te dans nie. Dis net grotesk.

5
Hy wonder oor die karakter John Coetzee in J.M. Coetzee se Summertime. Daar is ʼn interessante gesprek tussen die fiktiewe outeur van die boek en een van die karakters oor John Coetzee se verhouding tot Afrika. Daar word verwys na die Wes-Kaap en dele van die Noord-Kaap wat nie werklik deel van Afrika is nie. Hy wonder weer oor J.M. Coetzee se essay oor Breyten Breytenbach se verhouding tot Afrikaans en die Kaap in Stranger Shores. Hoe dink ons dan oor Afrika noord van die Karoo? Is dit een plek? Lyk mense daar anders as mense van die Karoo? Toe hy deur Ghana gereis het, het hy besef daar is baie Afrikas. Ook Oos-Afrika. Swahili is ʼn bastertaal, soos Afrikaans. Dit het egter ʼn ander verhouding tot Afrika. Dalk is dit net mense wat in die Kaap woon wat aan Afrika as een plek dink – iets anderkant die Garieprivier, ʼn vreesaanjaende plek.

6
gou verdwyn die name van Botha, Biko en Hani
nooit sal jou kinders wat nou is eers na hulle vra nie
na die blou van ons hemel staar ek sonder om iemand te verwag
ek loop deur die strate van Oudtshoorn, ek soek na Breyten Breytenbach

7
Hoekom skryf hy in die derde persoon? Verbeel hy hom miskien hy’s J.M. Coetzee?

8
Hy wonder of Antjie Krog dalk te lank in die Kaap woon.

9
ek is Boer, ek is Brit, ek is vry en vreemd
ek is al die kleure van die reënboog nou
ek is lig soos die son, ek is donker soos die nag
ek loop deur die strate van Oudtshoorn, ek soek na Breyten Breytenbach

10
Hy het Bok van Blerk die eerste keer in Nelspruit sien optree. Dit was by ʼn kunsfees. Hy was toevallig op die feesterrein toe die vertoning begin. Dit was ʼn bietjie na die aanvanklike bohaai. Daar was niemand wat die ou Republiekvlae gewaai het nie. Daar was twee jong mans, dalk nog seuns, wat pette met die ou vlag op hulle koppe gehad het. Hulle het gehuil met De la Rey, De la Rey… Hulle het so half verlore gelyk. Die meeste van die ander mense het maar hul gang gegaan. Worsrolle en spookasem gekoop.

11
Die Carl Becker-uitstalling was uitstekend. Geen cheap tricks nie. Hy het van Pierneef se bekendste landskaptonele gaan besoek en dit geverf soos dit vandag lyk. Ook hoe dit na alle kante toe lyk. ʼn Wonderlike projek. Sommige van die landskappe het hy in Pierneefstyl geverf, met beelde wat toegevoeg is. Soos ʼn Johannesburglandskap met mynhope en naakfigure. Maar dis sonder sarkasme gedoen. Eerder met ironie, selfs deernis.

12
in die verte flikker die vlamme van gister se vreugdevure
eers was hier graffiti, nou net afgebreekte mure
ek voel so half leeg nou, al die heilige beeste geslag
ek loop deur die strate van Oudtshoorn, ek soek na Breyten Breytenbach.

13
Hoe voel dit om in ʼn gehoor te wees waar mense die ou Republiekvlag waai? Voel die mense wat deel is daarvan dat hulle ʼn nuwe identiteit vind en die verlede agterlaat? Miskien is daar iets wat hy nie heeltemal snap nie. Miskien het dit al die simboliek verloor. Dalk is dit net ʼn half-patetiese gebaar, die laaste asem van ʼn dooie koei. Hy wonder tog hoe die deursnit Duitser sal reageer as iemand ‘n swastika by ‘n musiekkonsert rondwaai. Dalk moet ‘n mens eers iewers aankom voor jy na elders kan aanbeweeg. Noodwendig? Dit klink so moralisties, so tagtigs.

14
Liriek “Strate van Oudtshoorn” deur Albert (AD) de Vos. 2004. Wolfman. Klankopname, onafhanklik vrygestel. Die prente almal afbeeldings van Carl Becker se skilderye.

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •