Rensia Robinson
Ek was bevoorreg om elkeen van die sessies van Versindaba 2009 by te woon. Vyf jaar gelede kon ek ook entoesiasties deel in die geboorte van hierdie digtersdroom. Terwyl ’n reklame en sukses-orgie die beskeie aanmelding van die digterstem gevoelloos oordonder, is ʼn ruimte geskep vir die minderheid wat van stiltes wou weet en binnestemme wat woorde droom. Dít bly die hardnekkige oorlewing van dwase wat sukses nie getalsgewys bewys nie. Ondanks stroomversnellings en “struikelblokke”, het dié enklave oorleef.
Daarvoor ’n uit die hart dankie aan die digterspaar Marlise en Louis. Elke Versindaba was ’n nuwe verbeeldingryke ontdekkingsreis. Hulle het reeds bewys dat die moontlikhede onbeperk is. Vyf jaar het gedemonstreer dat dié soort rykdom nie uit te put is nie en nie deur ʼn spreekwoordelike “mot en roes” afgeskryf kan word nie. Solank as daar digters is, word oë en ore gebore wat dié tydloosheid kan/wil in stand hou. Dít bewys die hersirkulering van die antiekste woordkuns, hoe fel die vooruitgangsindroom ook al woed. Die tydloosheid van digterlikheid, die uniekheid van elke skepping, bewaar die wonder vir elke geïnspireerde ontdekker. T.T. Cloete tipeer in sy gesprek met die aarde iets hiervan soos volg: “Die kosbaarste dinge swyg / in hulle verloop.”
Aan diegene wat ook hierdie durender rykdom kan evalueer en dit wins ag om dit finansieel in stand te hou, eweneens erkenning en groot waardering.
Wat die afgelope Versindaba betref, was die interaksie van woord- en beeldkuns en musiek in elke opsig ’n verbeeldingryke keuse. Vir my persoonlik was Philip de Vos se “Prente by ’n uitstalling” begelei deur Tertia Visser-Downie ’n verrassende sleutel vertolking van die sentrale tema. Die afwisseling van teoretisering en skeppende werk was in alle opsigte bevredigend. Die viering van ’n eerste nuwe Kinderverseboek na 50 jaar was een van die hoogtepunte. Hier was die deelname van kinders ’n baie welkome demonstrasie van die reikwydte van die digbedryf. Soos te verstaan, spreek elke bydrae nie elkeen in gelyke mate aan nie. Elkeen sou ook voorkeure kon noem wat geskitter het in afwesigheid. By nabetragting was dit die moeite werd om juis nie vas te steek by eensydige voorkeure nie maar om kennis te neem van die uiteenlopendheid van wat beskikbaar is. Die kennismaking met opkomende en/of minder prominente digters was in dié opsig waardevol en verrassend. Die meer informele ruimte, deels onder ʼn magiese sterrehemel, was buitengewoon gepas.
Die oopgelate moontlikhede bly rede vir uitsien na die volgende Versindaba. Lank lewe die Afrikaanse woordkuns en sy/haar bewonderaars en nageslag!