Die meeste van my vriende woon in Kaapstad. Hulle gaan kyk flieks by die Labia, eet die early bird special by Arnold’s in Kloofstraat, koop klere by beide YDE en muwwerige tweedehandse winkels, versamel ou langspeelplate met belaglike omslae, sit op balkonne, sing saam met Die Antwoord en Jack Parow, stage dive by music festivals, rook Marlboro Lights, suig aan die tuite van Jägermeister-bottels, gaan na Fokofpolisiekarkonserte, dans op die musiek van The Wedding DJ’s by Assembly, ry in bome vas, surf oor naweke, draf op die promenade, gee R2 vir car guards, kry verkeersboetes, benodig nuwe ruitveërs, kyk e-posse op BlackBerry’s, blog oor straatkuns, eet rocket in slaai, blaai soms verveeld deur die Vice-tydskrif, kyk oor en oor (en oor) The Big Lebowski, verloor gereeld hulle selfone en is bereid om te betaal vir geel-en-pers sneakers. Die meeste van my vriende lees nie gedigte nie.
Maar ék lees gedigte en dit het gelukkig nog nooit tussen my en my vriende gekom nie.
Ek meen nie dat geel-en-pers sneakers en ‘n voorliefde vir Jack Parow jou outomaties in ‘n ander kamp as die deursnee-digliefhebber plaas nie. Allesbehalwe. Maar as dit so is dat die mens ’n oerbehoefte het aan vers en klank, vervul die meerderheid mense wat ek ken genoemde behoefte met musiek. En hoekom dan nou nie?
Daar is natuurlik tye wat ek wens meer van my vriende lees gedigte. Soos terwyl ek op ’n stoep by ’n deurnagpartytjie sit en ’n gedeelte van Peter Blum (1925 – 1990) se “Drosterhonde bo Oranjesig” in my agterkop resoneer:
Vannag klink hulle deurmekaar geblaf
wild-vreesaanjaend van die hoër hang
se digte dennebosse af
[…]
Wat kan hul tog makeer? Is hulle dol?
(© Peter Blum)
En selfs al weet ek Blum het iets heel anders bedoel, skryf ek tog:
’n deurnagbraai in Oranjezicht
met Oros en vodka veg ons teen die daglig
en dros ons soos honde in Oranjezicht
ons wys tande en gooi ons koppe terug
teen die duifgrys glasure van die eerste lig
ons vyl ons tonge skerp teen growwe woorde,
ys klingel kil teen die dawerende akkoorde
van ons uitrafelende strontpraatsinode –
deur die donker omsingel, is ons die nag se gode
of net rompies en bene en longe en leuens
en stompies en biere en wyfies en reuns
wat blaf en sug en gluur en kreun
teen die eerste sig van oranje lig
(© Annie Klopper)