Marie-Alice Boshoff
[brief uit Gent, België]
Projek by Gedichtendag op 28 Januarie 2010
Uitstalling
As deel van my studies moes ek `ʼn projek doen saam met `ʼn kulturele instelling.
Dis vrij te kiezen en studente moet self opsoek gaan na iets. Ek het die Poëziecentrum in Gent in November 2009 genader omdat ek graag iets met Afrikaans wou doen en ek was bewus dat hulle Afrikaanse gedigtebundels het. Stefaan het voorgestel dat ek iets doen vir Gedichtendag (Over de grens) 2010 op 28 Januarie. Uit die Ernst van Heerden versameling het ek vyf gedigte gekies en daarby tekeninge gemaak.
Ek lees graag gedigte, taal is vir my belangrik meeste van my tekeninge ontstaan uit woorde. Die beelde wat in my verbeelding ontstaan inspireer my. Ek werk graag met waterverf omdat die tekening `ʼn eie lewe aanneem soos die papier die water en verf absorbeer dit is heeltemal spontaan.
Agtergrond
Ek woon al byna 5 jaar in Gent in 2009 het ek my BA graad behaal in Beeldende Kunste, Grafiese Ontwerp op die Vrije Grafiek/Illustrasie aan die Koninklijke Academie voor Schone Kunsten (KASK) in Gent. Huidiglik is ek besig met my Meestersgraad in Vrije Grafiek ook aan KASK. Ek is half Belg van my ma se kant en ek voel my ook sterk verbind met Gent en omgewing net soos met die Klein Karoo.
Ek is gebore in 1981 in Bellville en het groot geword op Oudtshoorn. Na Hoërskool het ek 2 jaar chef studies gevolg aan die ICA (Institute of Culinary Arts op Stellenbosch) waarna ek gewerk het as chef in Suid-Afrika en oorsee. In 2005 het ek in België die geleentheid gekry het om kuns te studeer.
Die ontstaan van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees op Oudtshoorn in my tienerjare het die wêreld na Oudtshoorn gebring en my laat kennis maak met hedendaagse beeldende kuns, kultuur, musiek en Afrikaans( as `ʼn belangrike deel van my identiteit). Dit het my belangstelling aangewakker naar meer, en ‘n belangrike rol gespeel in my keuse om ‘n kunssinnige rigting in te slaan.
Hier volg die beelde saam met die gedigte:

Sand en water
Ek weet die see is siel, soos ons;
is soek, is tas;
ek weet ons is die see; ons was.
Ons water het met grond getrou,
en dit het ons verover, vasgehou,
die lou-warm sand,
die wortelskietland;
maar die naelstring is nog nie
geknip nie,
die water kan ons nog nie
heeltemal ontglip nie;
die sirene sing nog in die
hart,
ons is nog bloed en water,
nog deel en part.
Erwyn Wessels
***

Soos van vlerke
Allerliefste,
ek stuur vir jou `n rooiborsduif
Want niemand sal `n boodskap wat rooi is skiet nie.
Ek gooi my rooiborsduif hoog in die lug
En ek weet al die jagters sal dink dit is die son.
Kyk, my duif kom op en my duif gaan onder
en waar hy vlieg skitter oseane
en bome word groen
en hy kleur my boodskap so rooi oor jou vel
Want my liefde reis met jou mee,
my liefde moet soos `n engel by jou bly,
soos vlerke, wit soos `n engel.
Jy moet van my liefde bly weet
soos van vlerke waarmee jy nie kan vlieg nie
Breyten Breytenbach
***

Blou
Ek het jou lief my land
ek het jou lief om jou blou
ek het oor die aarde gereis
en oral gedink aan jou blou:
lokasies waar glas en sink en gruis
onder die son snou van blou
Klutskwyt en Witbewerasie
onder geswolle donkerblou
en ek bid `n potblou klein gebed
wanneer ek wakker lê vir jou.
Sheila Cussons
***

Bitterbessie dagbreek
bitterbessie son
`n spieël het gebreek
tussen my en hom
Soek ek na die grootpad
om daarlangs te draf
oral draai die paadjies
van my woorde af
Dennebos herinnering
dennebos vergeet
het ek ook verdwaal
trap ek in my leed
Pappegaai- bont eggo
kierang kierang my
totdat ek bedroë
weer die koggel kry
Eggo is geen antwoord
antwoord hy alom
bitterbessie dagbreek
bitterbessie son
Ingrid Jonker
***

Moenie na die maan kyk nie
(gedikteer deur Diä!kwain soos hy dit van sy ma gehoor het)
laat sak jou kop as jy `n dier skiet
moenie opkyk in die lug nie
moenie kyk hoe die maan skyn nie
as jy opkyk na die maan
sal roofdiere die dier eet wat jy geskiet het
as die dier nog nie dood is nie
sal die maan se water hom laat lewe
ons moeders het ons dit alles vertel
die maan se water daar oorkant
daar op die bosse lê dit soos lopende heuning
as daardie water op die dier val sal hy regop kom
hy sal geen teken van `n gifpyl toon nie
die water van die maan sal hom heel maak
hy sal lewe
daarom
vertaling deur Antjie Krog
By waterverf hou ek veral van “Bitterbessie” asook die magiese ” Moenie na die maan kyk nie” Het ook weer opnuut bewus geword van wat ons digters al vermag het.
Voorspoed met die aanloop tot jou uitstalling ” Struisvogel herinneringe” gedurende Junie vanjaar.
Terloops by vanjaar se KKNK is choreograwe soos Gary Gordon e.a. ook besonderlik gefassineer deur die “ongemaklike en dikwels humoristiese gewoontes en bewegings” van dierdie dier van die Klein Karoo.
Wat n rare verskynsel uit ons prehistoriese verlede nie !!!!!!
Baie dankie vir die belangstelling. Ons het die werke van Marie-Alice baie geniet en ons hoop dat sy nog veel sukses sal hê als kunstenaar.
Ons is bly dat die Ernst van Heerden Collectie op dese manier gevisualiseer is en ons hoop dat ons in die toekoms nog baie kan doen met die kolleksie. Ons is regt fier daarop dat ons die kolleksie in die Poëziecentrum mag herberg.