Desmond Painter. Ook oor selfsensuur…

Mense soos ek, so hoor ek dikwels, lei aan ‘n vorm van politieke korrektheid. Ons wil “die realiteit” nie in die oë kyk nie; ons is desperaat om alle betekenisvolle verskille in Suid-Afrika te neutraliseer; ons wil ‘n onbeholpe en soms korrupte regering vergoeilik….

Siende dat baie mense soos ek wél krities oor die huidige regering is, wél dink dat diversiteit en dinge soos taalregte belangrik is, en tog bekommerd is oor geweldsmisdaad, moet “die realiteit” wat ons nie in die oë wil kyk nie, seker iets anders wees… Hierdie iets anders, “die realiteit”, is klaarblyklik dat ons nie in Suid-Afrika te make het met ‘n komplekse stel maatskaplike probleme nie – ‘n soort “sosiologisering” van “die realiteit” wat in elk geval net weer ‘n voorbeeld van politieke korrektheid is! Meer nog, omdat dit ‘n doelbewuste ontkenning van “die realiteit” is, is dit ook sommer ‘n vorm van selfsensuur!

Jy hoef maar net vir twee of wat minute op die organisasie Praag se webblad rond te hang (enigiets meer is vir enige selfrespekterende mens te veel) om te weet wat “die realiteit” is wat mense soos ek ontken en deur selfsensuur probeer verdoesel. Die kwessie is nie komplekse maatskaplike probleme nie, maar die wesenlike aard van swart mense, “die swartes” en “die swartes se regering”. Dit gaan daaroor dat swart en wit nie net verskillend is nie, maar dat swart minderwaardig is. Nee, meer: dat die swart persoon (jy sal die uitdrukking “swart persoon” egter nie eintlik dikwels op Praag se webblad vind nie; eerder net “swartes“) eintlik baie na aan ‘n dier is. Dié dat ons so sukkel met geweldsmisdaad, mos!

Die probleem is dat Praag se openbare stemme, die amptelike beriggewers en rubriekskrywers, hulleself ook maar skuldig maak aan ‘n vorm van selfsensuur. Hulle verdoesel ook maar wat hulle éíntlik wil sê. Hulle werk met innuendo en gekodifiseerde vorme van kommunikasie. Soms is dit selfs amusant. Ek bedoel, is daar iets meer tragikomies as iemand wat sy land so graag wil sien faal dat hy, al is hy nie ‘n sokkerkenner nie, ‘n sportberig skryf waarin hy homself verlekker aan SA se nederlaag teen Uruguay?! Dan Roodt (ek wonder wat sê hy oor Frankryk se vertoning? te veel immigrante in die span?) skryf: “Terwyl Suid-Afrika oor die afgelope maande getrakteer is op die onoorwinlikheid van die plaaslike sokkerspan en die regeringsgesinde media oor ‘nasiebou’ gepopel het, het Uruguay finaal die Afrosentriese seepbel geprik.” Hy gaan voort (want sal hy ooit níé!): “Die tweede helfte van die wedstryd is ontsier deur geniepsige en selfs vuil spel deur die swart Suid-Afrikaanse spelers wat telkemale hul opponente gepootjie het.” Magties! Jy sien díé soort ding gelukkig nie onder wit spelers nie. (Of miskien kyk Roodt gewoonlik net skaak.)

As jy gedink het Bafana Bafana het heelwat wit en selfs Afrikaanse ondersteuners, moenie jou oë en ore te maklik vertrou nie. Roodt het sy vinger op die pols, op “die realiteit”: “Op Facebook het honderde Afrikaners openlik kant gekies vir Uruguay en die assosiasie van die Bafana met die gewelddadige en korrupte bestel in Suid-Afrika is geredelik deur die meeste deelnemers verwoord. Wat ‘n triomf vir Afrosentriese ‘nasiebou’ en swart rassenasionalisme moes wees, is deur ‘n blou-oogman met lang blonde hare uit ‘n klein Suid-Amerikaanse land die doodskoot toegedien.” Ai, die Ariese erotiek!

Hiermee maak Roodt dan die deur oop vir sy dom, verbeeldinglose en boonop agterbakse (hulle skryf gewoonlik onder skuilname) en afknouerige lesers om kommentaar te lewer. Hierdie kommentare wissel van pateties tot walglik, maar ten minste word daar nie sensuur toegepas nie, veral nie selfsensuur nie. (Vir laasgenoemde sou ‘n soort selfrelativerende insig nodig wees, waaroor regses gewoonlik nie beskik nie. As jy heeldag “ek”, “ons”, “eie” prewel, is dit moeilik om dinge vanuit iemand anders se perspektief ook te sien. Veral, kleurgrens behoed my, wanneer die ander ‘n swarte is!)

Een van Roodt se lesers reageer soos volg:

“Hau !
Die Bobdzanna-Bobdzanna hy hêt gavorlôr. Bóggom !
Lêkkêrrrrrr…
Dom donderse useless käffors”

Op Praag is hulle nie bang vir “die realiteit” nie, en briefskrywers maak hulle nie skuldig aan “selfsensuur” nie, so gelukkig het hierdie digterlike insig nie verlore gegaan nie…

Die grootste probleem in die Afrikaanse openbare diskoers is, anders as wat iemand soos Jelleke Wierenga dink, nie selfsensuur nie. Die probleem is veel eerder die onvanpaste intellektuele selfversekerdheid en die morele agterlikheid van die meeste Afrikaanse regses. Die ander probleem is dat hierdie mense, bloot oor ons dieselfde taal praat, hulle verbeel dat ek en hulle deel is van dieselfde groep. Diegene van ons wat anders dink gee gans te veel om wanneer ons van “politieke korrektheid” beskuldig word; en ons is boonop gans te verdraagsaam!

Wat ons wel by die regses kan leer, is dat daar iets is soos politieke vyandskap, en dat ons ons vyande meedoënloos moet jag met argumente en ‘n beter verbeelding. Bowenal moet ons nie afgeskrik word deur die siniese manier waarop hulle misdaadstatistieke en moordstories misbruik om retoriese punte aan te teken nie.

Dit is ‘n cheap trick, en verwerplik.

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Desmond Painter. Ook oor selfsensuur…”

  1. Jelleke Wierenga :

    Um … bôggom … wil net op ietsie wys: Dis nie korrek om te sê ek dink “die grootste probleem in die Afrikaanse openbare diskoers is … selfsensuur” nie. Ek het nie ’n studie van die Afrikaanse openbare diskoers gedoen en tot bogenoemde gevolgtrekking gekom nie. Ek het wel top geblaas oor ’n politiek korrekte vermaning en ’n blog daaroor geskryf.

    Mnr. Painter, dit doen u klaarblykblik soveel pyn aan om Praag te besoek, waarom sou u u daaraan blootstel? Maar ek is verheug om te lees dat u nie aan politieke korrektheid ly nie (dit wil sê, pyn daardeur ervaar nie).

    Wat altyd vermaaklik is van hierdie soort debatte, is dat ’n mens jou “teenstaander” se woorde net so kan neem, of ’n paar geringe aanpassings kan maak, en ter verdediging van jou eie standpunte kan aanvoer.

    Hiermee my stukkie retoriek:
    • Die probleem is veel eerder die onvanpaste intellektuele selfversekerdheid en die morele verhewendheid van die meeste Afrikaanse linkses.
    • Diegene van ons wat anders dink, gee gans te veel om wanneer ons van “politieke inkorrektheid” beskuldig word; en ons is boonop gans te verdraagsaam!
    • Bowenal moet ons nie afgeskrik word deur die siniese manier waarop hulle misdaadstatistieke en moordstories misbruik om retoriese punte aan te teken nie. [Met verwysing na die linkses se siniese verwringing van misdaadstatistieke en moordstories tydens die apartheidstyd.]

    Ai nee, Jelleke, dis nou ’n cheap trick, en verwerplik!

  2. Jelleke skryf: “Ek het nie ’n studie van die Afrikaanse openbare diskoers gedoen en tot bogenoemde gevolgtrekking gekom nie.” Fair enough.

    En: “Ek het wel top geblaas oor ’n politiek korrekte vermaning en ’n blog daaroor geskryf.” Ook fair enough. Ek, natuurlik, dink nie die vermaning was politiek korrek nie, maar wel korrek!

    Waarom ek Praag se webblad sou besoek? Want ek dink dit is sommer net PK om te glo ons leef almal harmonieus saam en dat ons deur ‘n proses van konsensus en vriendelikheid by ‘n plek sal uitkom waarom ons almal gelukkig en tevrede is. Dus moet mens so nou en dan vyandelike gebied besoek — om te spioeneer, om ‘n aanval te loods, om te kyk of jy die vyand kan uitlok, daai soort ding.

    Oor jou inverse toe-eiening van my retoriek: 🙂

  3. Jelleke Wierenga :

    Waaroor verskil ons nou weer?

  4. Oor baie, meen ek! Maar as ek nou daaraan moet gaan sit en dink, raak ek weer so opgewerk, ek sal sukkel om vanaand te slaap, so ek sal maar ander dag weer baklei! Vir nou: kalm, vriendelike gedagtes…

    (Om darem regverdig te wees: my eie bloginskrywing was “geinspireer” deur my lees van daardie stukkie kommentaar op Praag, nie deur jou stuk nie. Ek was “aspris” deur jou te betrek, en doelbewus “over the top”. Ek dink nie mens moet heeldag oor jou taal waak, vir ingeval jy iets s^e wat iemand anders ontstel nie. Ek dink egter wel daar is nog baie vooroordele teen sg. “gemengde verhoudings” en dat daardie vooroordele oorgedra word in skynbaar onskuldige maniere van praat. Vir my is daardie soort vooroordele iets wat my vies maak; dit hoef egter nie vir sou so te wees nie. As ek my viesgeid uitspreek probeer ek jou nie stilmaak nie; ek probeer maar net s^e dit maak my vies!)

  •