Desmond Painter. Oor sit en staan

Van sit en staan kom niks gedaan, sê hulle, daarom sorg ek gewoonlik dat ek net sit. “I’m just sitting here watching the wheels go round and round / I really love to watch them roll”, het John Lennon mos gesing. Dis hoe ek ook is.

Maar soms moet ‘n mens noodgedwonge opstaan en selfs in beweging kom. Hierdie week was alreeds in ‘crazy motion’, om sommer vir Paul Simon ook aan te haal, met ‘n stimulerende sosiale teorie werkswinkel Maandag en Dinsdag en ‘n vergadering gister in Kaapstad oor die idee van ‘n Vrye Afrikaanse Universiteit.

Neville Alexander

Neville Alexander

Wat die toekoms van hierdie projek is, en wie se belange uiteindelik daardeur gedien sal word, sal die tyd ons leer. Maar die visie, soos gister weer deur Neville Alexander, Kwesi Kwaa Prah, Christo van der Rheede en ander uiteengesit is, is beslis inspirerend, moontlik revolusionêr, en laat ‘n mens nogal hoop kry vir die haalbaarheid van alternatiewe akademiese ruimtes in Suid-Afrika — hetsy in Afrikaans of enige ander taal. Kom ons kyk wat in die volgende jaar of wat op hierdie front gebeur!

Op ‘n ander noot: Vir diegene wat belangstel, hier is die skakel na ‘n onderhoud wat ek met die filosoof Bert Olivier gevoer het vir LitNet Akademies. Die tema van die onderhoud is ‘n onlangse artikel van Olivier oor die psigoanalise en die ekologiese krisis.

Nou moet ek begin pak vir ‘n kongresbesoek aan Engeland. Sal probeer om ‘n keer of wat van daar af te blog!

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Desmond Painter. Oor sit en staan”

  1. Louis :

    Lekker vlieg, Desmond. Ons sien uit na die bydraes vanuit die ander halfrond. Dit gaan ‘n gróte wees … Ons weet. 🙂

  2. Marlise :

    Ek vind hierdie gedeelte uit jou onderhoud met Bert Olivier baie interessant & tog so waar ook: “Toe Sartre oorlede is, het die hele Frankryk tot stilstand gekom; toe van Wyk Louw in Suid-Afrika oorlede is, is sy doodsberig iewers in ’n hoekie van een van die binnebladsye van die Sondagkoerante weggesteek, terwyl daar in groot, vet letters op die voorblad aangekondig is wat die eindtelling tussen die Springbokke en die All Blacks (of Wallabies) was. Dit het aanleiding gegee tot Lina Spies se gedig “Die hart van my volk is ’n voetbal”.”

    Ek haal vir jou ‘n gedeelte aan van my inleiding tot ‘n versamelbundel 2 jaar gelede, wat ook hierby aansluit: “In Antwerpen is ‘n gesellige kroegie met die troosnaam van ‘t Hof van Ellende. Dis hier waar skrywers soos Herman De Coninck, Peter Holvoet-Jansen en Hugo Claus vir troos of ‘n tête-a-tête gegaan het. En na die afsterwe van Claus vanjaar in Maart het ek self gesien hoe ‘n groot plakkaat met een van sy gedigte, handgeskrewe deur die eienaar, teen die venster van sy kroeg pryk. Sodat almal kan lees wat verbystap! Praat nie eens van groot voorbladberigte oor hom en dik bylaes oor sy werk en lewe nie. Hoe kan ons meer waardering vir óns digters kweek? Hoe kan ons die klok stel op tien voor drie?”

    Die ‘tien voor drie’ verwys natuurlik na ’n brief van Sylvia Plath aan haar ma waarin sy vra of sy die gedig van Rupert Brooke kan onthou en vertel dan verder: “Well, we had tea by the roaring fire at ‘The Orchard’ [where they serve tea under flowering trees in spring) and the ‘clock was set at ten to three’ and there was the most delectable dark clover honey and scones”.

    The Orchard was ‘n uithangplek vir vele beroemde skrywers. Nietemin, die punt is, as so min aandag aan ons digters/skrywers gegee word, kan mens seker ook nie verwag dat vele digbundels gaan verkoop nie [om nou weer by Louis se Nuuswekker uit te kom oor waarom digbundels nie verkoop nie]. Daar is geen voldoende kultuur oor al die jare heen hiervoor geskep of gevestig nie. Wat moet ons dan doen Desmond?
    Nie sit nie.
    Seker maar net aanhou beweeg en geraas maak …?

  3. Bibi :

    Kom ons doen ‘n dansie!

  •