Daai kruik is egter soms ’n bietjie aan die droë kant, maar tog is ek gelukkig dat naas skryf, fotografie al vir jare een van my belangstellings is.
Dit het in die vroeë sestigs gebeur toe ek my Donald Duck-kamera verruil het vir ’n Asahi Pentax en saans foto’s in my ma se kombuis begin ontwikkel en afdruk het. My ma het skielik begin wonder waarom al die roeskolle skielik op haar nuwe wasbak verskyn het, en ek kon dit nooit oor my hart kry om te sê dit was die foto-fikseerder se skuld nie en selfs Vim het niks vir daardie kolle gehelp nie, hulle was vir ewig en altyd daar.
Toe ek in die Kaap kom woon het, het ek aangehou met my fotografie en om een of een of ander rede het ek bekendes begin nader om foto’s in hulle eie omgewing af te neem.
Dit was toe dat ek verneem het dat Mary Renault, die wêreldberoemde romanskrywer in Kaapstad woon. Ek het haar per brief genader en was verras toe sy ja gesê het, en dis ook van haar wat ek later my grootste kompliment oor my fotografie ontvang het: You are the only photographer who ever made me relax. En die rede is, dat ek slegs met ’n kamera gewapen opdaag. Geen ligte nie, geen driepote nie, net ek en my kamera en die persoon wat ek afneem.
’n Vriend het my eenkeer gevra of my afnemery van bekendes nie miskien’n subtiele manier van names dropping is nie, maar ek hoop nie so nie. Ek weet self nie waarom hierdie tipe fotografie my interesseer nie, maar op die ou end het dit seker êrens ’n waarde – ál is dit net vir die optekening van kreatiewe persone wat op ’n sekere tydperk in Suid-Afrika hulle ding gedoen het.
Net een persoon het vir my nee gesê toe ek hom wou afneem. Tretchikoff het vir my gesê hy wou volkleur ateljee-foto’s het en toe hy hoor myne was net swart-wit met natuurlike lig, is die telefoonoproep gou beëindig.
Maar as jy ’n persoon afgeneem het, hoe kies jy die beste, of liewers die enigste foto wat jy op die ou end gaan gebruik? En daardie een foto is dikwels ontwykend, want jou flops is op die ou end net vir jou eie oë bedoel.
Ek wil vandag die foto’s van ons webmeesters Louis Esterhuizen en Marlise Joubert as voorbeeld gebruik.
’n Klompie jare gelede is ek genader vir ’n foto-uitstalling van my werk by die KKNK en omdat ek ’n tema moes hê, het ek besluit op Boekmense van die Kaap. En die enigste rede was, dat ek minder skaam is om skrywers te nader as fris en miskien visueel aantrekliker rugbyspelers, omdat al wat ek tot vandag toe van sport weet, is dat ’n sokkerbal rond is en dat ’n rugbybal effens na ’n eier lyk.
Toe ek dus begin foto’s van skrywers en digters neem het ek verneem dat Louis Esterhuizen nou in die Kaap woon en onderwyser was by Rondebosch Boys High.
Ek onthou steeds dat ek nooit met daardie dag se foto’s tevrede was nie. Daar was net hierdie iets wat ontbreek het. Ek het vanmiddag die ou negatiewe uitgegrawe, en tot my skande het ek dit opgeteken as negatiewe van Louis Eksteen (jammer, Louis!)
Die foto wat ek uiteindelik van Louis gebruik het, was een waar hy teen ’n boom staan – wat op die ou end taamlik niksseggend is.
Met die deurkyk van die negatiewe, is daar ’n ander een wat ek seker liewers destyds moes gebruik het. Louis op sy bed in ’n koshuiskamer. En skielik onthou ek dat ons saam rooiwyn gedrink het, en dat ek vir hom een van my strokiestekste gelees het, vir my comic wat destyds saam met Piet Grobler se sketse in De Kat verskyn het.
Ek dink hierdie middag se foto’s is geneem nog voordat hy vir Marlise Joubert geken het, en kort daarna het ek vir Marlise by haar huis in Stellenbosch gaan afneem. Hierdie keer was dit veel makliker om die beste foto te kies, want Marlise, en die bloese wat sy dié dag gedra het, het as’t ware saamgesmelt met die muurskildery by die voordeur.
En met vandag se deurkyk van die negatiewe, kry ek ’n paar wat ek dié middag van Marlise en haar dogter geneem het – albei uiters fraai op die oog af.
In 2005 het ek weer foto’s van Marlise en Louis, wat intussen getroud is, gaan afneem en was ek bewus van ’n groot warmte tussen hulle – en het gehoop dat ek dit in ’n enkele foto kon vasvang.
Party van die foto’s van dié middag, was slegs plesierig, en net vir die lekkerte. Marlise het nog steeds die vrolike bloese van die vorige keer besit, en ek het haar weer by die muur gaan afneem, met Louis wat geamuseerd agter die hek staan en toekyk.
Maar die foto wat ek uiteindelik gebruik het, was binnehuis geneem, met Marlise en Louis onderkant die skildery van twee geliefdes.En hierdie keer het ek onmiddellik geweet: hierdie kiekie is die mooiste een van almal. Dit sê alles en is goed genoeg om in my fotoboek Milieu te verskyn.
Ek is op die ouderdom van 50jaar besig met my doktorsgraad oor ‘n fotograaf wat tussen 1860 en 1916 foto’s op Graaff-Reinet geneem het, dws ‘n kultuurhistoriese blik dmv foto’s. Foto’s fasineer my en ek het die foto’s baie geniet! Foto’s is krukke vir ons geheue wat soms baie kort kan wees!
Philip, jy het my onkant gevang met hierdie blog! : ) Terloops, ek het nog steeds daardie bloes. Miskien op 80 my weer daarmee afneem…
Die laaste foto sê vir my die meeste!