Suiderland-blues
Kollokwium, 17 September 2010. Stellenbosch
It occurs to me that I am America.
I am talking to myself again.
– Allen Ginsberg (uit: America)
*
Suiderland, o Suid-Afrika –
land is jy van verplooide dongas en slote
land van hoogtes en in jou laagtes
die beendere van waens en riviere diep gekeep
in die handpalms van ons verstrooiing.
Suiderland, o Suid-Afrika –
land is jy deurtrek met huise van modder en stok
land wat gebaken lê met die kaart en transport
van ons wanbesit.
Die gedagte kom by my op
dat jy niks hiervan is nie: nie die stywenekkranse,
die akkedis wat leepoog op die rotsbank lê en droom,
nie die bergstroom wat bergaf druis na waar
kinders speel in ’n waterpoel
met geen roete daarheen of daarvandaan nie,
want ons is jy en soos jy, o Suiderland,
is ons leeftye reeds dood –
Ja, ons moeders het hul hare afgeskeer, kerse
geoffer, en gehuil, ons vaders het hul lippe saamgepers,
na buite gegaan en nog hout gaan kap,
want hulle het geweet hoe groot die vuur is
wat gepak sal moet word vir al die sterftes wat jy
van ons gaan vra –
Van die verkoolde hutte in Boipatong
tot die bloedheuwels van KwaMashu, orals ons lyke
wat tussen skares deur na vore gebring word.
En ons loop in David Webster se stoet, staan selfs
agter die pilaar terwyl Chris Hani in sy oprit probeer
om inkopiesakke bymekaar te maak.
En die kerse wat ons moeders aangesteek het, smelt weg
in ’n hitte, ’n hitte véél erger as wat verwag is
toe ons nog deur Soweto se strate
huilend met die geknakte woede van Hector Peterson
in ons arms kon loop, soos die jeug tevore
toe ons in Sharpeville ook reeds tussen die bladsye
van ’n pasboek geval het.
Sedertdien is ons vaders ylbehaard en krom,
ons susters getroud, ons moeders moeg en sloofsiek
tussen die skaam mure van ons agterstand.
Sedertdien is ons families uitgedun soos die bome
in Langa en Gugulethu.
Sedertdien is ons vernoem deur nageslagte,
is al ons kinders en hul vaders wees gelaat en betreur.
Want ons is jy, o Suiderland, en soos jy
leeftye reeds dood –
Ja, sterwend lê ons steeds in die sagte sand
van ons grens, in die moerasgebiede
van die Okavango en die bosse van Angola,
selfs aan die tralies in Steve Bantu Biko se sel
hang ons, en sedertdien
dra ons ook aan hom, saam met
die stil liefdes en donker feeste
waarmee ons ons dooies soms nog vermaak,
want ons weet nie meer hoe om te treur
sedert ons nie wil hê dat God ons moet vergeld nie
sedert ons nie wil hê dat vriende moet skryf of bel nie
sedert ons geheue nie meer ’n bondgenoot is nie
en ons daarteen laer getrek het
met vee en gesinne veilig agter doringtralies
sedert soveel uitgedoof en versoen word
soveel vergeet
soveel verdraai en beroof
soveel verkrag en vermoor op die plase
van naasbestaan, in die statute
van selfregverdiging.
Intussen het die seisoen verander,
intussen kan woorde nie meer vertrou word nie,
het die woorde sélf verwond
geraak, soos vloerplanke waardeur bloed ondertoe
druppel sonder ’n kraan se hoop
om gestuit te word: dit is swaargewigdrome wat ons nou
met donswoorde probeer balanseer, wil jy sê –
Nee, moenie sê daar’s soveel om dankbaar voor te wees nie,
want ons wil weer voor jou staan soos tóé,
weer naglank deur jou dryf soos ’n vis deur lui water,
weer van voor af begin, ons name weer in die boek
van die burgerskap skryf, aanhou
skryf, elke dag, tot ons hande daarvan kramp.
Want soveel maniere is daar waarop ons vir jóú kon sterf,
soveel koeëls wat ons kon tref, soveel bomskerwe
of, ja, selfs hartaanval of motorwrak.
Nee, moenie sê dat dit alles tog oorleef is nie,
want jare lank lê ons koud en verlore
langs ’n klipsteenharde paradegrond op Voortrekkerhoogte
terwyl die verlede ons inhaal teen die spoed
waarmee sneeu in klowe smelt en water bergaf
stroom na ons uitgedunde dorpies
in jóú laagte,
o Suiderland,
o bloeddeurdrenkte hinterland
van verdeelde drome –
Wees eerder stil saam met ons
en vergewe ons vir wat ons nie kon doen nie.
’n Koue skouer
is al wat ons nog het
om te gee.
(c) Louis Esterhuizen. Sept. 2010
Vrylik verwerk en aangepas uit “Langnagvure, Deel VII”. (In: Sloper, 2007, Protea Boekhuis)