
In die sesde gedig van die siklus “Bloedsteen” skryf Wilhelm Knobel:
sy woorde klink nie meer nie
het toorwoorde geword wat hól weerklink:
die ingang van die ore is gesluit
(maar almal praat) vir wat hý het om te sê (p. 36)
En hierdie woorde wil ek amper as profeties lees, as selfkommentaar deur die digter-spreker oor sy lot as digter, nie net in sy vers nie, maar ook in die gekanoniseerde poësie. Knobel se werk word deur Kannemeyer (2006: 404) as verwant aan die Nederlandse Vijftigers bestempel en hy wys ook op die temas van “die eensaamheid van die allenige mens”. Naas “Elegie” klink Knobel se woorde nie eintlik meer in gesprekke oor die Afrikaanse poësie nie. In 2006 het die bundel Twee siklusse verskyn om Knobel, wat in 1974 oorlede is, se 70ste jaar te herdenk. In haar bespreking van hierdie bundel wys Louise Viljoen op Wilhelm Knobel se posisie binne die kanon en skryf sy soos volg: “Dit is belangrik om sy posisie tussen die ander skrywers van Sestig in kaart te bring” want volgens haar is daar by Knobel, net soos by die ander Sestigers, “`n worsteling met die spanning tussen tradisie en vernuwing”. Interessant noem Viljoen ook wat sy as “voorwerk” by Knobel bestempel, naamlik sy intertekstuele gesprekke met Breytenbach, die Katolieke mistiek wat later by Cussons sou voorkom, asook sy siektegeskiedenis wat gevolg sou word deur `n bundel soos Komas uit `n bamboesstok. Inderdaad, dit wat hy het om te sê, moet bo die gepraat van andere gehoor word.
In `n gedig soos “Vir my Moeder, Kersfees 1959” wat die Tweeluik-bundel inlei, kry die leser reeds te make met die komplekse persona van Knobel. Enersyds is hy die onderdanige seunfiguur wat vol piëteit met die moeder (en die Moeder Maria terselfdertyd) praat, maar andersyds is hy die belese digter wat die donker nag van die siel koppel aan `n reeks digtersfigure: Rilke, Supervielle, Nerval, Novalis en Achterberg – selfs so ver terug as Dante. Maar terselfdertyd is daar ook die besinning oor die metafisiese en die Calvinistiese sondebeheptheid op `n werf wat later by Cussons vol “haelwit selfgeregtigheid” sou word.
Laasgenoemde sluit aan by een van die deurlopende stylgrepe in die werk van Knobel, naamlik die verdringing van die digterlike diskoers deur die diskoers van die metafisika. So word die tikmasjien se getik verdring deur “Vader-ons in die hemel / laat u naam geheilig word” (20), met sy sielvolle toëiening van die goddelike of die aanwesigheid van frases uit die Bybel gesiteer in Latyn wat handel oor edelgesteentes. Die gedig word in die verband dikwels `n tipe mistieke binnespraak, `n uitroep van smagting na die alomteenwoordige “Deus Omnipotens” (30).
Of soos in die gedig “Die slinkse” (31) waar die “brein se lig té helder brand” in die donker nag van die siel en daar na die talisman van die bloedsteen gesoek word. Net om verdring te word deur die superego van die Oupa wat uitroep, “Met God spring ek oor `n muur”. Ironies, want net direk daarna verwys die sprekende instansie in die gedigna die “wit pil en die blou pil” wat gesluk moet word om die stemme wat skielik “almal praat” te help verjaag.
Die bloedsteen wat as `n deurlopende simbool in die siklus voorkom, is volgens Knobel in `n nota wat ingesluit is by die bundel, vir hom “beeld van die skoonheid” of van “die skoonheid as gesuiwerde smart, of pyn’ (53). Die spatsels rooi van die steen gloei in kontras met die groen en die steen word dus `n ineenwewing van die hartstogtelike en die afsydige. So word die magiese krag van die bloedsteen ( die ring wat die digter gedra het, het ook so ‘n steen bevat) in die gedig “Op pad na die kantoor” so verwoord:
Voor jy gaan:
Het jy die Bybels
En sit die bloedsteen styf om jou vinger
Die bloedsteen sal wél die pad terugvind
En rustig gloei
En woorde vooruitstuur
Om deure oop te maak
En elke obstruksie wat gelê is op jou pad
Te toor. (42)
Net so word die herhalende gebruik van frases uit Kerklatyn ook aangewend as ‘n tipe besweringsmiddel teen dit wat bedreig. Elders praat die digter immers van die “bloedsteenwoorde” wat “rite” word (46) en word die poësie se rituele en magiese woordkrag beskou.
In dieselfde gedig wat ek aan die begin aangehaal het, kom die formulieragtige Kerklatyn weer sterk na vore. Die gedig word gesitueer in een van daardie abjekte ruimtes, naamlik `n kantoorgebou, en die spreker word uitgelewer aan `n groep kantoorwerkers wat hom nie verstaan nie. Sy tog deur hierdie kantoorlabirint, is erg Kafka-esk en word deurspek met sy Latynse prewelspraak. Selfs die talismansteen kan hom nie red van die aanslag nie en die Nag wat onverwyls naderkom.
Asof hy tot `n introspektiewe totstilstand kom, merk hy op:
Jy praat te veel / ek moet luister na die stilte / één word met die Stilte. (37)
Want in die Stilte met `n hoofletter kom hy tot selfkennis en sal mettertyd soos `n soort profeetfiguur kan praat en almal sal na sy woorde luister.
Die worsteling is nie net met die self nie, maar ook “met die Dier” , die ouwêreldse serpent en diaboliese Satan en wel op die “koue sementblad”, “die vloer van die stortkamer”; `n worsteling met die innerlike demoon met wie hy in kompetisie is. Daar word ook in die gedig genoem dat hy nie soos Jakob vanouds met die Engel geworstel het nie, maar met die Dier.
Wanneer hierdie mistikus dan weer hom tot die wêreld wend, het hy “skemerende oë”, oë wat tekenend is van die innerlike omwenteling en probeer hy dit versteek agter `n sonbril (39).
In die gesprek rondom Knobel se werk word dikwels verwys na die bipolariteit en die psigotiese aard van sy persoonlikheid. Die skakel tussen psigose en kreatiwiteit is niks nuuts nie. Kaufman en Baer meen byvoorbeeld dat psigotiese persoonlikhede aangetrokke voel tot die digkuns, veral vanweë die persoonlike aard daarvan. Kreatiwiteit, die ooraktiewe verbeelding is alles kenmerkend van hierdie tipe persoonlikheidtrek. Maar soos Matthew P Rick ook tereg waarsku, is daar `n direkte korrelasie tussen psigose en kreatiwiteit, maar die een is nie noodwendig die oorsaak van die ander nie.
Maar dis nie net die skryfdaad wat dien as `n afweermiddel om die ooraktiwiteit in die psige te besweer nie, dit is ook die musiek. Opvallend dat Beethoven en Wagner en Stravinsky, wat glo die maag omkrap (49) nie gespeel word nie, maar komponiste soos Mozart, Haendel, Bach en Vivaldi – almal trouens komponiste wat onder meer kerkmusiek gekomponeer het. Ook skilderye van Wallace, Sash, Louttre en Zuidema (51) kalmeer die gees.
Knobel se poësie lees myns insiens soos een lang vergestalting van wat Johannes van die Kruis “die donker nag van die siel” noem. Dit word `n inkantatiewe meditasie, `n byna New Age vermenging van Katolisisme, Calvinisme en `n Zen-geïnspireerde inkeer op die self en `n luister na die stilte. Tussendeur is dit asof die meditasie onderbreek word met `n egogerigte skel op kritici of op diegene wat nie die sprekende instansie verstaan nie, maar dan keer hy telkemale terug na die stilte. Grotendeels geskied hierdie meditasie tydens die skryfproses en wanneer die tikmasjien ophou tik, luister selfs die “half-verdroogde asters” in die blompot.
Hoe naby aan Johannes van die Kruis se oorspronklike teks is Knobel se werk nie. Vergelyk die openingswoorde van Johannes van die Kruis se gedig:
Once in a dark of night,
Inflamed with love and wanting, I arose
(O coming of delight!)
And went, as no one knows,
When all my house lay long in stilled repose
Of soos Knobel dit self gestel het in sy toeligting: “Ek het die stilte lief en soek dit: tog vrees ek dit, want dit verberg … die Uiteindelike en Absolute stilte.” Daarmee bevind ons onsself in die wêreld van die mistiek en die kontemplasie. Die Zen-stilte wat voortgesit sou word deur Breyten Breytenbach, die Katolieke deur Cussons of die Neo-Calvinistiese mistiek van Cloete. Gewis toorwoorde wat steeds opklink.
(c) Marius Crous
Nota: Hierdie lesing was aangebied tydens Wilhelm Knobel 75 as deel van Versindaba 2010.