Desmond Painter. Rock ‘n roll in Stellenbosch

Danie Marais

Danie Marais

Vanoggend word ek deur een van daardie skitterblink Stellenbosch oggende begroet; een van daardies wat jou skoon sleg laat voel oor jy so morrig is in die môre. Glashelder. Glinsterend. ‘n Honderd ander dowwe woorde en afgematte uitdrukkings skiet deur my kop, en ek besef weer waarom ‘n mens nie eintlik oor hierdie dorp gedigte behoort te skryf nie. Dit is te vanselfsprekend mooi; ‘n gedig oor hoe mooi dit is kan amper nie anders as om bloot versiersuiker te wees nie. Dit is makliker, dink ek, en meer wenslik, om ‘n gedig te skryf oor ‘n voorstedelike winkelsentrum se verlate parking lot op ‘n winderige Sondagmiddag in Januarie… Want dan besing jy nie hoe mooi, o hoe mooi dit is nie; jy probeer eerder ‘n engel uit die teer verlos. Maar soos James Bond ons geleer het, ‘n mens kan nooit sê ‘nooit’ nie. Danie Marais het dit reggekry om ‘n gedig oor Stellenbosch te skryf wat regtig tot my spreek — want ek was ook hier as student, het ook weggetrek en later teruggekeer, mixed feelings and all. Die gedig is onlangs in Danie se gedigtekamer op hierdie webblad gepubliseer, maar ek plaas dit hier ook: om Danie se soort rock ‘n roll-idioom in te span, ‘n single soos hierdie verdien die bietjie ekstra airplay!

 

Stellenbosch Revisited – Danie Marais


Stellenbosch is kastig ‘n classic,
maar ek het haar 20 jaar gelede
by die venster uitgesmyt –
“hopeloos oorskat” het ek gesê,

soos On the Road, Parys of die 60’s.
Liewer grinterig lewe en na hartelus vergaan
as ‘n versuikerde pilletjie elke dag
in dié aftree-oord van drome, dankie.

Maar dis 20 jaar later en ek weet nie meer lekker
waaroor ons provinsiale stryd destyds was nie.
Ek wantrou steeds Hollywood, Frankryk en kerkmusiek –
alles wat te geslepe, mooi of monumentaal is,

maar o, Stellenbosch, dis 20 subversiewe jare later en ek is besig
om weer ‘n swak te ontwikkel vir jou
bleddie beautiful Bolandse lentes jou teatrale
sonsondergange, jou selfingenome berge.

Jy lyk wragtig nie ‘n dag ouer nie, inteendeel,
jy’t laat werk aan jou gesig jou cappuccino’s
stoom onverstoord geborge
in die blaaie van ‘n Lonely Planet-gids.

Stellenbosch, bokkie, I’m not okay
and you’re not okay
maar dis oukei –
wat jy sien, is wat jy kry

en ek kyk nou sonder verwagtings,
sonder wanhoop of verweer na jou lanings,
jou akkers, jou wingerde, jou blakende, weselose studente
al jou edel sentimente.

Jy was eintlik onskuldig,
intellektueel misbruik soos meeste simbole
‘n magtige lugspieëling, erfsonde
van ‘n hulpelose rykmanskind.

Stellenbosch, on second thoughts,
jy is ‘n verkragte classic –
‘n bergie met ‘n gewel uit 1840
vir ‘n hoed, ‘n Picasso met ore
vir oë en monde vir ore; ‘n meer tragiese
verstrengeling van lig en donker, ‘n beter balans
tussen waarheid en digting
sal jy kwalik kry, maar ek bly

die period piece, ek is verby

nou eers kan ek jou argitektuur
in die skemering bewonder, nou eers
gaan ek vredig lê soos stof
om die fyngetrekte Kaaps-Hollandse lyne

van jou brose, jou wrede ou, barbaarse beskawing.

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •