Amanda Lourens. Op soek na ’n venster vir ’n tikkende madam

Ek het die gesprek oor veral ras in die Suid-Afrikaanse samelewing en denkwêreld na aanleiding van Pieter se blog van 14 Desember  met groot belangstelling gevolg.  Self is ek in my daaglikse lewe baie bewus van ras, klas en gender, soms in so ’n mate dat ek  al gewonder het of ek dit moontlik te ver voer en my as’t ware benadeel deur graag  vanuit hierdie perspektief na die lewe en die letterkunde te kyk? Kompliseer ek dinge dalk soms onnodig, deurdat ek dikwels vrae stel oor “onskuldige, alledaagse” situasies? 

Antjie Krog is spesifiek ’n digter en skrywer wat dit keer op keer regkry om my eie gedagtes of ervarings trefseker te verwoord, sodat ek my eie belewenisse dikwels beter begryp na ek haar werk gelees het.  So vertel sy in Begging to be black hoe sy elke gesinsbesluit oorweeg: Is hierdie spesifieke aksie  nie dalk wit-bevoorreg, uitbuitend, onregverdig nie?  Sy besluit byvoorbeeld daarteen om na ’n produksie van Lohengrin in Pretoria te gaan kyk – die sopraan se vliegkaartjie alleen kan die plaaslike township ’n jaar lank van elektrisiteit voorsien.  Wanneer ek dit lees, wil ek in die strate uithardloop en dit uitbasuin: Iemand, en boonop ’n grande dame van die letterkunde, ervaar dieselfde as ek!  Dalk is ek oplaas nie hopeloos stapelgek, soos my hoërmiddelklaskennisse reken ek is nie.  Ek wens ek kon op Antjie se voorstoep opdaag en haar vra wat máák ’n mens met jouself as hierdie dinge gereeld by jou spook; hoe leef jy met die konstante vrae oor reg en onreg, oor bevoorregting en skuld?

 Dus het spesifiek Wysneus se een stukkie kommentaar my bygebly:  “Daar is meer aan die lewe as ras, klas en geslag.”  Daarmee saam het ek  gewonder: Is dit moontlik vir my en my generasie om ooit verby hierdie werklikhede (of is hulle eerder konstruksies?) te kyk?  Ek verstom my dus gereeld aan studente se vryheid van sommige van die obsessies wat my en my tydgenote steeds striem. 

Wat gender betref – ’n anekdote.  Ek het my studente op ’n slag Krog se “weer eens” (haar intertekstuele gesprek met Eybers se bekende gedig) laat ontleed:

ek kom weer eens nie uit met my budget nie

die suiker en melkkoepons is op

langs my masjien lê stapels stukkende klere

spinnekoppe weef macramé teen die mure

my gesin grawe in leë koekblikke na iets om te eet

my baba het brandboudjies

my dogtertjie swere

my oudste hakkel van een of ander tekort

my man byt op sy tande

stoot die koolbredie agteruit

en druk sy sigaret stadig in die bordjie dood … […]

 

Ek het gehoop dat hulle die dwingelandy van die eise wat die (patriargale) samelewing aan ma’s stel, sou raaklees.  Die meeste van hulle was egter vas oortuig dat armoede die tema in bostaande uittreksel is.  Die “leë koekblikke”en “stukkende klere” is vir hulle nie die vergestalting van die huisvrou se algemene gevoel van ontoereikendheid nie ; hulle herken nie die skuldgevoel van die ma wat voel dat álles wat in die huis verkeerd loop – brandboudjies, swere, ’n gehakkel –  haar persoonlike skuld is nie.  Miskien is hulle bloot te jonk; dalk het ons verbruikersamelewing hulle gekondisioneer om te dink dat stukkende klere nie heelgemaak kan word nie en dat winkelkoekies die enigste opsie is?  Dalk het die nuwe generasie grootgeword sonder die juk van modelle van vroulike huishoudelike perfeksie.  (In my studentedae op Tukkies het die meisies nog hulle kêrels se wasgoed in die waskamer staan en stryk, sodat die hele koshuis van hulle status as onderweg-na-mevroue kon kennis neem.  Ja, regtig.) 

’n Mens sou nog kon redeneer dat vroue van my generasie dalk bloot moet besef ons leef in ’n nuwe eeu, en dat skuldgevoelens oor  nie-perfek versorgde huise en spruite maar na hul graf neffens gepermde en gespuite haarkapsels gestuur moet word.  (Of is ons in dermate ingeperk, geprogrammeer deur die voorskrifte en modelle van ons jeug dat ons as amper-middeljariges steeds probeer gehoor gee aan die eise van ’n nou minder sigbare sisteem?) 

Maar sonder om gender heeltemal saam met die skottelgoedwater uit te gooi, bly ras en klas op ’n meer direkte, en meer ontstellende manier met ons.  Sonder  ’n bewustheid van of nadenke oor die kwessies van ras en klas en sou die lewe moontlik geriefliker kon wees; ’n verleidelike gedagte, inderdaad.  Maar hoe moontlik is dit in die realiteit van ’n Suid-Afrika in 2011 waar verdelings langs hierdie lyne nog vlymskerp in die samelewing loop? 

Jare gelede het ek tydens my navorsing vir my meestersgraad afgekom op ’n artikel waarin einste Antjie Krog beskryf hoedat die bevoorregte wit vroue van die tagtigs en negentigs hulle energie kon wy aan hulle tuine, die verfraaiing van hulle huise of aan hulle kinders, terwyl swart vroue húlle kinders elders moes laat om aan wit vroue hierdie vryheid te gee.  (Ek kry nie meer die verwysing nie – is daar iemand wat dit dalk onthou?) Self besef sy haar bevoorregte posisie, soos sy dit ook treffend verwoord in ’n sleutelgedig soos “Lady Anne by die mikrogolfoond” (Lady Anne, 1989) wat skerp kritiek lewer teen die oppervlakkige lewens van hoërmiddelklasvroue en wat die ineenstorting van hierdie gerieflike lewenswyse voorspel:

o my susters in kombi’s en stasiewaens

met stylvolle donkerbrille en hare teen die grys getint

liggame wat soggens in fleurige leotards

                                                jog en gym en joga

                                                verbete klou aan soepelheid en Pil

[…]

 

soos ons op sandersonlinne sit en aai en paai

en die mans by ingeboude kroeë druk drink en desperaat praat oor naai

weet ons ons is die laaste

die laaste wat die kinders teer laat verblond op melk en heuning

ons is die laaste

agter ons onder ons langs ons

stort met die sagte geluid van as

strukture wat ons soort in stand hou

in hulle maai.

 In 2011 is die politieke strukture van destyds inderdaad in hulle “maai”, maar die ekonomiese strukture wat ’n voorstedelike lewenstyl ondersteun is tot ’n groot mate nog in plek.  Bevoorregte wit vroue is hoegenaamd nie ’n uitgestorwe spesie nie  (alhoewel daar gelukkig intussen ’n paar bevoorregte swart vroue tot die geledere toegetree het sodat die wit mevroue hulle wysmaak dat die speelveld nou gelyk is).  Die kombi’s en stasiewaens van destyds is weliswaar vervang deur viertrekvoertuie; die leotards en die res van die Body Beat-attire is uit die oude doos, maar daar is steeds geld vir duur oefendrag en gym-ledegeld.  En al is ek nie ’n wafferse gymmer nie, is ek steeds skuldig aan die soort gerieflike lewe in die suburbs wat in ’n hoë mate afhanklik is van huis- en tuinhulpe se arbeid.

Ek het toevallig ’n paar jaar gelede navorsing gedoen oor huishulpe se persepsies van  opleidingsgidse (kookkuns, kinderversorging ens.) en of hulle dit byvoorbeeld as toeganklik en ontdaan van stereotipes ervaar.  Ek het dus gesels met ‘n groep vroue wat as huishulpe werk en deeltyds by ’n nieregeringsorganisasie opleiding ontvang.  Groot was my verbasing toe ek moeite ondervind het om die gesprek op die gidse gefokus te hou, en die gesprek beweeg het in die rigting van ’n vergelyking van kantoorwerk  teenoor fisiese arbeid.  Die meeste van die vroue se mening was onomwonde: Om op ‘n rekenaar te sit en tik, is ’n ydele aktiwiteit, dis nie werk nie.  Vloere was en mop, stryk en skottelgoed was is ware werk.  Sedert daardie dag kom sit ’n skuldgevoel tussen my blaaie sodra ek my rekenaar aanskakel.  Want prakties beteken dit iemand doen daardie “regte werk” vir my, sodat ek die vryheid het om te kan studeer, te kan lees, te kan skryf.  (Ook vertel Antjie in Begging to be black : Wat moet haar weeklikse huishulp se gedagtes wees as sy haar werkgewer op haar rekenaar sien tik, en boonop daaruit ’n inkomste genereer vir  ’n huis, motor, klere en oorgenoeg kos?)  

As ek net verby ras en klas kon kyk en buite daardie parameters my lewe kon lei, sou ek waarskynlik makliker in ’n voortsedelike gemaksone kon leef.  Prakties sal dit beteken dat jy skuldgevoelvry kan sit en ‘n digbundel lees terwyl iemand anders jou kroos se wasgoed opvou.  Jy sal die spinnekopneste  in die hoek kan delegeer en Anna Karenina nadertrek.  

Soms lyk dit vir my asof die jonger generasie makliker met hierdie dinge omgaan; asof hulle reken  get over it, laat die lewe aangaan, dis dinge van die verlede.  (Vergewe tog as ek dalk veralgemeen.) Ek verwonder my aan my kinders se vermoë om verby kleur te kyk en die mens raak te sien; ook aan hoe hulle skynheilige politieke korrektheid nie nodig het nie.

Ek dink tog dat ek nie regtig anders wil of kan dink nie.  Ek wil ras, klas en geslag raaksien en ek wil aanhou om dit in tekste te vind, want ek is bloot te diep en te veel daardeur geraak om van die kennis daarvan afstand te kan doen.  Dit sal wees om intellektueel en psigies mutton dressed up like lamb te word; om myself te bedrieg dat ek kan deel in my kinders se ligter tred deur ons land. 

Miskien, dink ek intussen, het ek bloot ’n ander perspektief op hierdie kwessies nodig; ’n ander bril, ’n ander lens of filter.  Hierdie ketting van betekenisse bring my op ’n manier intuïtief by “venster”, sodat ek Loftus Marais se debuut, Staan in die algemeen nader aan vensters, van die rak afhaal en die gedig “Terug op die plaas” opnuut lees:

“daar’s min politiek in jou verse” sê my suster

“die digter het tog ’n verantwoordelikheid”

 

suster, ons generasie is die wesies van ideologieë

die groot idees staan teen die horison soos bouvalle

beeldskoon en gevaarlik soos dié ou waenhuis

’n karkas met ribbebalke en gate in sinkplate

ons loop in stof tussen blikke, klippe

verby, vermoedelik, ’n bylsteel, ’n pispot

en daardie murasies wat die kroeke was

ons onthou apartheid as alledaagse dinge

enemmelborde, selfgerolde sigarette, ’n aparte kraan

die skok van uitvind grieta het kinders en ’n man

suster, kyk na die leë skure teen die rand

waar destyds skeertyd dertig werkers per saal

geskeer, geëet, gesing, geslaap het

daar lê nou skerwe glas, draad, skerp stukke roes

daar’s ’n waarskuwing op karton

om nabye huise se kinders te verdryf:

“danger gevaar ingozi” – van meer nut

as enige gedig wat ek kan skryf

 En sedertdien loop ek rond met hierdie wonderlike gedig wat ek in my skedel van bakboord na stuurboord laat bons in die hoop om die “betekenis” of die “boodskap” te vind.  Sou dit kon wees dat die jonger geslag hulle ervaar as diegene vir wie al die ideologieë van twee of drie dekades gelede nie meer ‘n werklikheid is nie, vir wie dit nie ’n verskil gemaak het nie?  Of is hulle bloot moeg vir hulle ouers se gewroeg met ideologieë, hulle destydse flirtasies met Marxisme?  Sien hulle ‘n meer tasbare werklikheid raak – die praktiese een waarin apartheid die gesig van iets soos afsonderlike eetgerei aangeneem het?  Voel hulle dat die literatuur nie veel van ’n verskil kan maak nie en dat ons eerder prakties mense se lewens moet probeer verbeter?  Maar hoe verskil dit dan van my eie aan-die-lyf-ervarings van die verlede wat steeds saamleef, selfs in iets so eenvoudig soos die madam wat tik terwyl die huishulp die houtvloere poleer?  En watter oplossing, watter venster is daar vir ’n tikkende madam? 

Bookmark and Share

22 Kommentare op “Amanda Lourens. Op soek na ’n venster vir ’n tikkende madam”

  1. Andries Bezuidenhout :

    Amanda, dankie vir ʼn uitstekende blog. Ek sien uit na die gesprek wat volg en ek hoop dis ʼn konstruktiewe een. As verwysingspunte sou Marlene van Niekerk se “Die sneeuslaper” en “Die verkorte raklewe van Anastasia W” miskien kon bydra. Op ʼn sekere vlak staan die twee amper in spanning met mekaar. In my siniese oomblikke dink ek afstomping is dalk die enigste haalbare voorwaarde vir oorlewing in ʼn postkolonie soos ons s’n. Dis die gevoel wat ek gehad het na ek “Anastasia W” gesien het – geen morele mens kan hier oorleef met al jou varkies op hok nie. Maar dis darem ʼn verskriklike quaint houding. So middelklas. In my histeriese oomblikke wil ek byvoeg tot die lys. Ek wil praat oor die stiltes, waar ras, klas en gender die heteronormatiewe orde uit die pad uit skouer. Hoekom is daar so min in die media oor die verkragting van en moorde op lesbiërs, byvoorbeeld? Natuurlik word dit ook onderlê deur ras, klas en gender. Dis meestal arm, swart lesbiërs wat verkrag en vermoor word – die interseksies. En dan sou ek dinge soos generasie, nasionaliteit (xenofobie) en geografie wou byvoeg. Ek dink mense in groot dele van die Wes-Kaap het fundamenteel ʼn ander ervaring van Suid-Afrika as elders. Dis ʼn ander land, waar wat ons Africans noem insidenteel tot mense se daaglike lewens is, of slegs op TV. In my meer praktiese oomblikke kies ek waar ek my energie spandeer om ʼn verskil te probeer maak, maar nooit sonder ʼn sin vir ironie nie. Soms mis ek daardie gevoel wat ek gekry het toe ek op “Energie” gedans het met Voëlvry, of na “Hillbrow” geluister het. Maar ek dink ʼn mens is beter af daarsonder. ʼn Toestand van ontgogeling maak dalk beter gedigte. Die mooiste letterkunde word seker gemaak as tale mag verloor, in oomblikke van nederigheid.

  2. Louis :

    Onwillekeurig dink ‘n mens hier aan die volgende reëls uit Van Wyk Louw se magistrale “Groot Ode”:

    “niemand tref dit móói met die heelal nie;
    eintlik moet ons leer ironies lewe:
    én: binne ironie nog liefde hou.”

    Dankie vir ‘n geweldige bydrae, Amanda.

    En Andries – jou slotopmerking is ‘n magtige stelling!

  3. Andries Bezuidenhout :

    Louis, mag ek byvoeg dat die vraag oor betrokke letterkunde ‘n ander een was toe Afrikaans die taal van mag in Suid-Afrika was, toe gedigte waarskynlik soms op kabinetsvlak bespreek is. Dalk oorskat ek nou die kabinet.

  4. Joan Hambidge :

    Amanda, Hierdie bly komplekse kwessies. Terwyl Sartre glo mense ontmoet het, was De Beauvoir tuis met huistake. Daar is helaas klasseverskille en ten minste gee jy werk vir iemand. (Ek doen my eie huiswerk en ervaar dit as terapeuties.) Bevryde vroue moet eerder die manlike huisgenoot aanspreek om hand by te sit. Net soos ‘n mens moet kennis neem van die harde werklikhede waarbinne jou werkers moet leef (oorleef). Maar skryf is nie ‘n mindere werk nie. Dis eweneens slopende en uitputtende werk.
    En daaroor moet jy nie skuldig voel nie.

    Digteres as huisvrou

    Vir Elisabeth Eybers

    Altyd ‘n Mr Delivery-boks teen die muur,
    nooit ‘n besoeker op die onvanpaste uur.

    Agendavolle dae waardeer sy gatvol,
    moerig van vergadering na vergadering tol.

    Wasgoed wat deur haar Bosch-masjien swaai,
    sewe stelle klere plus gymbroeke aan die draai.

    Eksamenskrifte, e-posse, verslae op haar lessenaar
    (‘n Toring van Babel), neffens kritieke wat stof vergaar.

    Tussendeur skryf sy stiekem gedigte wyl sy werk,
    haastig beweeg van dead-line tot dit wat haar binneste versterk.

    O muses, wees haar genadig:
    laat haar maar parodies dig!

    Joan Hambidge: Vuurwiel.

  5. Desmond Painter :

    Ek dink Loftus Marais se “Terug op die plaas” is soos God se antwoord op Job: dit klink aanvanklik baie indrukwekkend, maar later wonder mens of dit nie ‘n bietjie van ‘n cop-out is nie… 🙂

    Hierdie is belangrike goed wat jy aanroer, goed waaroor ek myself verknies, en waarop ek beslis min antwoorde het. Soms geen. Soms te veel en te selfingenome. Dis ‘n deurmekaar plek die. Frantz Fanon se The Wretched of the Earth is hierdie jaar 50 jaar oud. Ek lees dit tans weer vir ‘n referaat waaraan ek werk oor Fanon, taal en ras, en dis nogal skokkend om te sien hoe aktueel daardie boek, geskryf in die hitte van ‘n oomblik, as ‘n call to arms en ‘n waarskuwing, nog is in die Afrika van ‘n halfeeu later.

    Anders as baie van my studente uit Durbanville en Plattekloof dink ek egter nie die wit, Afrikaanse middelklasse is vandag die verdoemdes van hierdie aarde nie… 🙂

  6. Danie Marais :

    Ek twyfel diep aan die impak of moontlikhede van proteskuns, maar ek weet ook nie hoe ‘n mens nie oor ras, klas, bevoorregting en protes kan wroeg nie. Ek keer dikwels terug na Tony Hoagland se gedig “Hard Rain” wat oor al hierdie goed gaan:

    “Hard Rain” by Tony Hoagland

    After I heard It’s a Hard Rain’s A-Gonna Fall
    played softly by an accordion quartet
    through the ceiling speakers at the Springdale Shopping Mall,
    I understood there’s nothing
    we can’t pluck the stinger from,

    nothing we can’t turn into a soft drink flavor or a t-shirt.
    Even serenity can become something horrible
    if you make a commercial about it
    using smiling, white-haired people

    quoting Thoreau to sell retirement homes
    in the Everglades, where the swamp has been
    drained and bulldozed into a nineteen-hole golf course
    with electrified alligator barriers.

    You can’t keep beating yourself up, Billy
    I heard the therapist say on television
    to the teenage murderer,
    About all those people you killed—
    You just have to be the best person you can be,

    one day at a time—

    and everybody in the audience claps and weeps a little,
    because the level of deep feeling has been touched,
    and they want to believe that
    the power of Forgiveness is greater
    than the power of Consequence, or History.

    Dear Abby:
    My father is a businessman who travels.
    Each time he returns from one of his trips,
    his shoes and trousers
    are covered with blood-
    but he never forgets to bring me a nice present;
    Should I say something?
    Signed, America.

    I used to think I was not part of this,
    that I could mind my own business and get along,

    but that was just another song
    that had been taught to me since birth —

    whose words I was humming under my breath,
    as I was walking through the Springdale Mall.

  7. Leon Retief :

    Voortreflike blog Amanda, alhoewel ek van jou moet verskil oor opera-kaartjies :-). Ek is tans besig met Christopher Hitchens se outobiografie Hitch-22 en het toevallig gisteraand die stuk gelees waar hy Sir Peregrine Worsthorne (wat ‘n naam!) voorstel aan Sir Roy Welensky: “… the tough old right-wing white trade unionist and former prime minister of Rhodesia who had broken with the treasonous pro-apartheid riffraff around Ian Smith. “It’s always seemed perfectly simple to me, Mr. Verse-torn,” this old bulldog growled in the unmistakeable accent of the region. “If you don’t like blick min, then don’t come and live in Africa.”

  8. Amanda Lourens :

    Baie dankie vir al julle kommentare, en groot verskoning dat ek nou eers daarop reageer (ek het vir ‘n wyle verkas na die planeet van ouers wie se kinders vandag terug skool toe gaan).
    Andries, dankie vir die inbring van “Die sneeuslaper” en “Anastasia W” – ek gaan vanaand weer eersgenoemde lees. En ja, ek is so bly dat jy die lys uitbrei, want ek dink daar is nog soveel gesprekke wat dodoeenvoudig gevoer moet word. Soveel stemme moet nog na die oppervlak kom, soos jy tereg uitwys. Ek is net soos Louis getref deur jou slotstelling, en op ‘n vreemde (ironiese?) manier voel ek geweldig opgewonde as ek dink wat hierdie nederiger posisie van Afrikaans dalk gaan oplewer. (Miskien kom Afrikaanse gedigte gouer as wat ons dink weer op kabinetsvlak ter sprake :)). En Louis, baie dankie om ons weer te herinner aan Van Wyk Louw se woorde, en dat jy hierdie kwessies dan ook daaraan koppel – ek het nog nooit so daaraan gedink nie.
    Dankie Joan, vir jou gedig en jou wyse woorde. Ja, die parodie (soos ironie) is dalk ‘n hanteringsmeganisme, anders gaan mens sowaar jou varkies kwyt wees tussendeur jou vuil gymbroeke en die eweige e-posse (dink Etienne van Heerden het dit ‘n tsoenami van e-posse genoem in In stede van die liefde). Dankie ook vir die deel van die gedig, Danie, bly iemand anders reken ook dat mens gaan sukkel om nie te wroeg nie. Ek sal die gedig beslis lees en herlees.
    Desmond: Ek sal ook graag Fanon se boek wil lees, ek ken dit nie, maar dit klink baie interessant. Miskien is al die pogings tot antwoorde maar almal baie na aan cop-outs? Maar dit beteken seker ook dat ons moet aanhou dink, soek, al kom ons dalk nie baie ver nie. Dis dalk waar die ironie ons behoud is?
    Leon, dis darem Antjie K vir wie die operakaartjies bietjie dik vir ‘n daalder is, self sal ek heel waarskynlik swig 🙂 Dankie ook vir jou verwysing en die stukkie swart humor (kon die pun nie verhelp nie).

  9. Wysneus :

    Churchill het gesê: “The best investment society can make is to put milk in to babies,” of so iets. “Quotations on the Internet tend to be of dubious veracity.” – Abraham Lincoln.

    Al was hy (Churchill) ‘n snobistiese, seksistiese, rassis (maar soveel meer as net dit, presies!), was hy nie reg nie? Jou eie kinners is kinners, ôk. As jy ‘n beter wêreld wil hê, is die belangrikste nie om eerstens goeie mense groot te maak nie? Met ‘n bietjie liefde, a la van Wyk Louw hierbo. En miskien moet mens hulle saamvat opera toe. Die kunste ondersteun. Want as die kunstenaars glo die estetiese kan wag tot alle rasse, klasse, geslagte, seksuele oriëntasies, en geografiese groeperinge perfekte materiële en sosiale gelykheid bereik het, dan is die voorspelling nog ‘n duisend jaar se Sokkietreffers plek-plek, met Steve Hofmeyr elders.

    Moet sê, al is dit nie konstruktief nie, dat Antjie Krog se opera-boikot seker die lafste ding is wat ek nog gehoor het. En dit sê baie, want ek moes deur hoeveel Geestes-weerbaarheidperiodes (een woord?) sit in die ’80s, in aaklige bruin kadetklere.

    “I cannot pretend to feel impartial about colours. I rejoice with the brilliant ones and am genuinely sorry for the poor browns.” – Winston Churchill (die Internet).

  10. Desmond Painter :

    Wysneus, verskriklike ding om aan herinner te word so vroeg in die oggend — daai bruin kadetklere… Myne was omtrent tiendehands, gebleik deur die son, hard in die oksels van jare se sweet, te klein, en ek moes ‘sak vir twintig’ elke keer as ek die beret of die vlaggie op die bors vergeet het…

  11. Louis :

    Welkom terug, Wysneus! Gisteraand werk ek aan ‘n Nuuswekker met die voorneme om dit volgende week te publiseer; ‘n Nuuswekker wat grootliks rondom die volgende aanhaling sentreer. Aangesien dit ten nouste aansluit by jou kommentaar, plaas ek dit ter wille van die gesprek maar solank hier.
    “You need the arts-literature, music, film-as a universal language that allows people to see beyond the walls that separate us. To stop thinking of each other as different religions, or different cultures, or different ethnicities, or nationalities, and start thinking of each other as human beings. As people with the same aspirations, and the same dreams, the same conflicts and the same issues. It’s only through that recognition of same-ness that you really do change people’s minds. …” (Reza Aslan – samesteller van die bloemlesing “Tablet and Pen – Literary Landscapes from the Middle East.”)

  12. Amanda Lourens :

    Hallo Wysneus en Desmond, ek het darem nou self ver teruggedink aan skooldae in die 80’s – ek was in ‘n meisieskool en is eindeloos, tot siekwordens toe, in daardie Geestesweerbaarheidsperiodes gebombardeer met die ‘n-goeie-meisie-doen-nie-sus-of-so-diskoers. En dan nog die Rooi en Swart gevaar en oppas vir Pink Floyd. Alhoewel ons darem die kadetklere gespaar is, is ons omtrent in ‘n dwangbuis van propaganda teen enige kleur (darem behalwe bruin) geprop.
    Ek dink dat Antjie ook probeer het om haarself bietjie op te stuur met haar vertelling oor haar opera-weiering. Sy noem immers darem dat haar man reken sy gaan totaal oorboord. Die waarde van so ‘n gedagte is net vir my dat dit so radikaal ingaan teen ons aanvaarde denkwyses dat dit ‘n mens dwing om jou alledaagse maniere van doen te bevraagteken; dis vir my ‘n soort morele emmer koue water as ek te gerieflik raak in my middelklaslewe. En dit open dan weer ‘n nuwe gesprek, soos wat nou aan die gebeur is.
    Ek dink julle almal se insette help dat ons stukkie vir stukkie weer na ons eie lewens kyk, aanhou bewus wees van ons ontsettend komplekse samelewing, na oplossings soek wat meer konstruktief is as Antjie se boikot. Dalk waardeer ons die opera en al die ander kunste meer as ons besef dis nie net ‘n gegewe nie? So soek ons na nuwe waardes – die nederigheid in ons taal en kultuurlewe waarvan Andries gepraat het? Want dis wat jy inderdaad doen, Wysneus, deur melk en liefde en ‘n bietjie opera voor te stel. En ek gaan dit onthou en my bes probeer om dit te doen. (Maar dan loop ek my weer vas. Ek en spruite ry skool toe en sien een van die vroue wat in ons buurt werk, aangestap kom met haar kleuter. En dis ‘n hengse ent bult-op, want die taxi’s ry net tot in die grootpad. Ja, ek weet my oupa het ook omtrent honderd kilometer ver kaalvoet skool toe moes stap, maar ek ry nou hier in lugverkoeling en my kinders het nog nie een dag nodig gehad om saam met ma werk toe te stap nie. Dis nou my realiteit, nevermaaind my oupa se dalk aangedikte swaarkry.)
    Ek lees soms in verveelde etensure die nuuskommentare, omdat dit vir my so ‘n venster is op wat regtig in ons samelewing gedink word. ‘n Swart vrou skryf verlede jaar op News24 hoe sy haarself as kind in ‘n skottel moes was terwyl haar ma haar werkgewer se kinders in ‘n badkamer met sagte handdoeke gebad het. Ek kry die idee dat verbittering nog vlak le. Daardie beeld van die sagte handdoeke bly by my. Dan wil ek weer handdoek ingooi, by wyse van spreke, want hoe maak ek en my liefde vir die kunste ‘n verskil?
    Ai Louis, dis so ‘n ongelooflike mooi visie. Mag ons dit maar glo?

  13. Andries Bezuidenhout :

    Ja, wel, Wysneus, my gevoel is dat dit deesdae amper subversief is om na opera te luister. Of Van Wyk Louw as lieder getoonset in die HB Thom of Musaion saam met mense in aandpakke en stolas. Dis WAARLIK subversief, soveel meer as Die Antwoord of Pretoria se sewe Goths!

  14. Desmond Painter :

    @Amanda: hulle was reg oor die oppas vir Pink Floyd! Daai ouens het meeste van die tyd vergeet rock ‘n roll moet ook uit die heupe kom, nie net uit die brein nie!! 🙂

  15. Desmond Painter :

    @Andries, ek stem heeltemal saam met jou opmerking hier bo oor wat subversief is. Hulle s^e die kapitalisme kan alles koopteer, van Beethoven tot die Kubaanse Revolusie, van James Dean tot Die Antwoord — maar ek wil nog hoor hoe hulle tandepasta of finansiele dienste verkoop met ‘n jingle uit Schoenberg! 🙂

  16. Amanda Lourens :

    @Desmond – ja genade, ons is darem uit alle oorde die leviete voorgelees oor hoe die verderf in alles skuil. Dink jy dat ons spulletjie uit die 80’s ons regtig van dit alles kon losmaak, of sit daar maar nog ‘n stuk programmering in die agterkop?

  17. Andries Bezuidenhout :

    Amanda, ek onthou hoe hulle op veldskool vir ons musiek agteruit gespeel het. Ons moes hoor hoe Pink Floyd of iemand “smoke marijuana” s^. Maar dan klink dit net soos “mmwhhuum wwhhaaau”. Ek wonder wat in daardie mense se koppe aangegaan het dat hulle sulke dinge hoor as hulle agteruit na musiek luister. Hoekom speel hulle dit in die eerste plek agteruit? Ek dink dis dalk net Amerikaners wat uit die suide ontsnap het wat sal verstaan van watter weeeeeiiiiiiird plek ons kom.

  18. Leon Retief :

    Ek stem Wysneus – daai opera-boikot is sulke ANGSTIGE politieke korrektheid. Ek dink nie dit laat mense dink nie – eerder lag.

  19. Amanda Lourens :

    @Andries: Wonder wat in ons vorige lewens het ons in die SA van die 80’s laat beland? Dat ‘n mens nou sulke nonsens aan kinders kan opdis en waarskynlik trots voel op jouself as opvoeder. Ons is ook vertel dat die Hollywood-flieks vervuil is van subversiewe boodskappe wat vir ‘n breukdeel van ‘n sekonde vertoon word, wat ons onbewustelik sou korrupteer en volbloed-kommuniste van ons maak.

  20. @Leon, ja, die probleem met hierdie soort ‘protes’ (benewens nou dat dit nie konsekwent gehandhaaf kan word nie: iemand soos Antjie Krog woon sekerlik in ‘n durerige huis, reis oorsee, koop boeke, eet ordentlik — en hoekom nie?) is dat dit die aandag eerstens van die wesenlike probleem aflei (die feit dat wat skandalig is die onderontwikkeling van dele van die land en van menslike potensiaal is, nie die prys van operakaartjies of vliegkaartjies of watookal nie) en tweedens te maklik ‘n soort moralistiese ‘one-upmanship’ word: ‘jy behoort sleg te voel oor jy opera toe gaan, nie organiese kos eet nie, nie ekstra ‘boomplantbelasting’ betaal elke keer as jy vlieg nie, ens. Miskien het Antjie Krog dit anders bedoel, ek weet nie!

  21. Amanda Lourens :

    Desmond en Leon, ek dink agter Antjie se anekdote le ‘n soeke na ‘n waarlik morele lewe en keuses in ‘n land soos ons s’n, eerder as wat dit dalk “protes” is of dat sy miskien ‘n punt probeer maak. Sy vertel dat sy in haar eie lewe sekere redelik drastiese keuses gemaak het, juis as deel van hierdie soeke, en in die proses soms haarself en haar gesin benadeel het. Hulle het byvoorbeeld na ‘n armer deel van die dorp getrek en by die sendingkerk aangesluit (alhoewel sy later in Begging to be black vertel dat haar man haar hieroor as naief bestempel). Ek dink tog dat dit basies vir haar gaan oor dit wat Desmond die wesenlike probleem noem – die feit dat soveel mense eintlik nie eens menswaardige lewens lei nie en dat sy sukkel om met haarself en haar bevoorregte posisie saam te leef terwyl sy dit om haar sien. Dis dan ook vir my die kern van die saak – om met jouself en al die goeie dinge in jou lewe saam te leef terwyl soveel ander sonder die heel basiese dinge moet oorleef. Miskien neem sy dinge te letterlik op, voer haar argumente te ver en verloor die eintlike plot omdat sy alles in praktiese aksies wil vertaal. Ek kry wel nerens die idee dat sy al vingerwysende almal veroordeel wat nie saam met haar wroeg en tuisbly nie; eerder die idee van iemand wat opreg haar eie keuses weeg in terme van hulle moraliteit.

  22. Leon Retief :

    @Amanda: ek stem saam met wat jy se oor Krog se waarskynlik opregte pogings om ‘n morele lewe te lei en dis bewondernswaardig. Ek probeer haar ook nie (ver)oordeel nie. Probleem is net dat mens inderdaad maklik kan verval in ‘n soort van fundamentalisme en die werklikheid uit die oog verloor. Mens moet kyk na wat die praktiese gevolge is van dit wat jy doen as jy iemand anders se lot wil verbeter en nie na dit wat jou laat goed voel nie – waarmee ek nie insinueer dat Krog doen wat sy doen om haarself “goed” te laat voel nie. Feit is egter dat die instansie wat vandag die meeste mag het om armes se lot te verbeter die regering is en hulle faal jammerlik daarmee om redes wat aan almal van ons goed bekend is. Ons kan almal bydra tot liefdadigheid en/of vrywillige werk op daardie gebied doen en dit sal sonder twyfel meer doeltreffend wees as om nie konserte by te woon nie – oftewel, die etiese beginsel wat vir my die meeste sin maak is utilitarianisme. Mens moet ook maar onthou dat ‘n groot deel van hierdie ondermaanse bestaan uit die vermoe/pogings om met teenstrydighede saam te leef. Hoe Krog haar optrede bedoel het sal ek nie weet nie en ek het respek vir haar, maar soms, soos met operakaartjies, sit sy die pot mis – net soos almal van ons maar doen. Terwyl dit nou oa oor opera gaan: mens moet ook in gedagte hou dat Kaapstad ‘n aktiewe operaskool het en dat heelwat swart SA-ners al oorsese loopbane uitgekerf het JUIS danksy opera – dink maar aan Pretty Yende.

  •