Desmond Painter. Uys Krige oor Manuel Bandeira
In ‘n kommentaar onder aan my vorige bloginskrywing verwys Daniel Hugo my na ‘n opstelletjie wat Uys Krige jare gelede oor Manuel Bandeira geskryf het. Dit het oorspronklik in Die Burger van 25 Augustus 1975 verskyn, maar is later opgeneem in Die Naamlose Muse (Protea, 2002; red: JC Kannemeyer).
Krige begin sy opstel met ‘n uitstekende, bondige beskrywing van die mees kenmerkende eienskappe van die moderne Brasiliaanse digkuns. Hy skryf onder andere: ‘… omdat die Brasiliaanse digters so ‘n sterk aanvoeling had vir die ritmes van die gesproke taal, hulle so ‘n fyn oor had, het hul beste gedigte altyd ‘n besondere subtiele musikaliteit, ‘n soort innerlike sangerigheid wat langsamerhand vat kry op ‘n mens se gehoor en jou hoe langer hoe meer bekoor.’
Krige gaan voort om Manuel Bandeira die ‘veelsydigste en grootste’ Brasiliaanse digter te noem. Hy vertel die volgende staaltjie: ‘Terloops, ek onthou nog goed die dag toe ek op die terras van die Clifton Hotel my feitlik letterlike vertaling van Bandeira se beroemde gedig, ‘Seepsopstraat’, aan Van Wyk Louw voorgelees het. Van Wyk was verruk — en het op ‘n slag besluit om dit by sy keuse van die beste gedigte in ons taal in te sluit.’
Krige noem die feit dat hy Bandeira nooit ontmoet het nie ‘een van die teleurstellings van my literêre lewe’. Maar dit was amper. In die 1950s het Krige vertalings van Bandeira se gedigte in Afrikaanse koerante gepubliseer. Bandeira het in Rio de Janeira ‘n Nederlandse vriendin gehad wie se suster op haar beurt in Durban gewoon het. Die suster het op die vertalings afgekom en dit Rio toe gepos, met die gevolg dat Bandeira van die vertalings te hore gekom het. Hy het vir Krige ‘n waarderende brief geskryf en dit het, volgens Krige, ‘tot ‘n lang, vrugbare korrespondensie tussen Bandeira en my gelei. Hy het my later ook verskeie van sy digbundels gestuur, met lang vriendelike opdragte in Portugees op die titelblad’.
Bandeira het Krige uitgenooi om hom in Rio de Janeiro te besoek, maar die beplande besoek moes weens persoonlike redes afgestel word: ‘Na my besoek aan die VSA in 1959 sou ek ‘n vliegtuig uit New York na Rio neem om daar ‘n paar dae by Bandeira deur te bring. Maar toe kry ek ‘n brief van my dogter Eulalia uit Londen waarin sy my vertel dat sy my aldaar binnekort verwag. En bloed, soos ons almal weet, is dikker as water, uit watter springfontein ook, vanaf die heilige sangberg, Helikon…’
Hier volg Bandeira se ‘Vas vas’ in Krige se vertaling. Krige noem dit ‘n ‘wonderlik eenvoudige, spontane en ontroerende gedig — ‘n tere gedempte treurlied oor die mens se sterflikheid, die kortstondigheid van alle menslike geluk…’
Vas vas – Manuel Bandeira
Toe ek vanmelewe aan die slaap geraak het
In die nag van Sint Jan
Was daar vrolikheid rumoer
Ontploffings klapperlawaai
Stemme liedere en gelag
Om die knetterende vreugdevure
Ek het in die middel van die nag wakker geword
Toe het ek nie meer stemme gehoor nie of gelag
Net buite
Het ballonne
Stil verby geswewe
En af en toe
Het die geluid van ‘n traan
Die stilte gesny
Soos ‘n tonnel.
Waar was hulle wat kort tevore nog
Gedans
Gesing
En gelag het
Om die vreugdevure?
Hulle het almal geslaap
Hulle het almal gaan lê
Hulle was vas aan die slaap
Vas vas.
Toe ek ses jaar oud was
Het ek nooit die einde kon sien nie van die fees van Sint Jan
Want ek het aan die slaap geraak.
Vandag hoor ek nie meer die stemme nie van dié tyd
My ouma
My oupa
Totonio Rodriques
Tomasia
Rosa
Waar is hulle almal?
Hulle slaap almal
Hulle het almal gaan lê
Hulle is vas aan die slaap
Vas vas.