Onderhoud met Joan Hambidge

Stempels op my paspoort

Joan Hambidge in gesprek met Louis Esterhuizen 

 

Joan Hambidge

Joan Hambidge

Joan Hambidge is professor in Afrikaans en Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad. Haar jongste digbundel is Vuurwiel (2009).

Sy is ‘n gereelde boekresensent en skryf rubrieke oor letterkunde en films. Sy bied ‘n MA-kursus in Kreatiewe Skryfwerk aan by die Universiteit van Kaapstad. Hambidge behaal twee doktorsgrade. In 2000 “Gender-konstruksies in die Afrikaanse letterkunde – ‘n Ondersoek in kultuurstudies, literêre teorie en kreatiewe skryfwerk” aan die UK en ‘n eerste aan Rhodes Universiteit “Die metaroman – ‘n dekonstruksie-ondersoek” in 1984.

Sy het ook satiriese romans (Swart koring, Die swart sluier, Sewe Sonjas en wat hulle gedoen het) en ernstige romans: Die Judaskus, Palindroom en Kladboek gepubliseer. Die Buigsaamheid van verdriet (2004) bevat ‘n keur uit haar poësie. Verder is sy bekend vir haar teoretiese essays. Vir haar digkuns is sy bekroon met die Eugéne Marais- en Litera-pryse. Sy is tans besig met ‘n studie oor die digkuns van Johann de Lange.

 

 
Joan, veels geluk met ʼn besonderse 22ste digbundel; synde ʼn keur uit jou voorheen gepubliseerde reisgedigte, plus heelwat nuwes. Maar – ter wille van volledigheid, waarom hierdie volgehoue drif tot reis en reisgedigte óór die reis?

Sedert 1979 verken ek vreemde lande. Van die VSA, Suid-Amerika, die Skandinawiese lande, Europa, Rusland, Hongarye, Tsjeggo-Slowakye, Japan, Sjina, die Britse Eilande, Kanada, Indië, Korea, o.a. – en later Afrika: Egipte, Marokko, Zanzibar, Kenia. Reis was nog altyd gekoppel aan die verwerking van ʼn emosionele insident, hetsy die verwerking van die dood van ʼn verhouding of om groter perspektief te kry op myself. Reis is ʼn proses van liminaliteit, dit is ʼn letterlike verskuiwing van grense in jouself. Jy reis na nuwe plekke wat jou verander. Ek is ʼn nuuskierige mens wat gou verveeld raak. ʼn Ongelukkige displaced jeug waar ek altyd buite alles gevoel het, het my lewensuitkyk bepaal. Ek leef nou volgens my wette, ritmes, begeertes – en ek is voortdurend besig om mites aan die kaak te stel. Oor verhoudings, die lewe, die dood – watookal.  Jacques Lacan en Žižek is bepalend tot my siening van die self…

Visums by verstek is ʼn besonder mooi titel. Maar hoe vind dit volgens jou aansluiting by die gedigte? “Verstek” dui immers op iets wat afwesig is, is dit nie?

Die gedig staan altyd in die plek van die afwesige: die gedig representeer dit wat nie is nie. Wanneer jy ʼn gedig oor ʼn plek of mens skryf, bevestig jy dat dit nie meer daar is nie. Die gedig is dus ʼn visum-by-verstek. Dit sluit aan by Derrida se siening van die La carte postale…

Reisverhale en -beskrywings is natuurlik nie iets ongewoons in ons letterkunde nie. Nogtans is dié tema nog selde, indien ooit, so deurlopend volgehou soos wat jy dit met hierdie publikasie van jou vermag. Uiteraard bestaan die gevaar dat dit as “geleentheidsverse” afgemaak kan word; iets wat jy meesterlik vermy deur bykans elke vers uit ʼn posisie van besinning en ondersoek te benader. Was dit ʼn vaste voorneme by jou, of is dit gewoon die intuïtiewe ingesteldheid waarmee jy reis?

Die gedigte het oor ʼn besondere lang tydperk ontstaan; sommige verse in die stad, ander het eers jare later hul beslag gekry. In my driftige jeug het ek Verdraaide raaisels tydens ʼn reis deur Suid-Amerika voltooi. Die verse oor Kuba, o.a. het eers jare later tot uiting gekom. Ek het vir jare ʼn reisrubriek vir BY behartig en sodoende die verskillende moontlikhede van dig oor ʼn stad of vreemde land ondersoek. Die buigsaamheid van verdriet (2004) was ʼn keuse uit my “beste” verse, juis omdat ek oor soveel lande geskryf het.

Nog ʼn opvallende kenmerk van die verse – en hoeka iets wat aansluiting vind by die vorige vraag – is die groot hoeveelheid vrae wat gevra word in die gedigte; enersyds wek dit ʼn gevoel van onsekerheid en vertwyfeling – wat eweneens deel is van enige reisiger se ervaring – dog, andersyds ondersteun dit die besinning en soeke na bevestiging. Sou hierdie as ʼn werkbare siening oor die unieke aanslag van hierdie reisgedigte beskou? M.a.w., die teks as instrument van ondersoekende bevestiging eerder as beskryfde waarneming?

Die verse vergestalt waarskynlik die twee fasette van my persoonlikheid: enersyds intellektueel, andersyds twyfelaar. My verse is dikwels selfondermynend, tobbend oor die proses van dig. Dit gaan sover terug as Hartskrif (1985) en veral in Die anatomie van melancholie (1987) is ek besig om die proses van dig en ervaar op sy kop te keer. Iewers dig ek: soms loop die gedig die ervaring vooruit….

En besonder belangrike – én insiggewende – toevoeging tot dié keur is die voorwoord waarmee jy dit inlei. In die voorwoord verwys jy daarna dat die gedigte kommentaar lewer op die kwessie van “liminaliteit en grense”. Myns insiens is dit ʼn besonder belangrike stelling oor die aard van dié gedigte. Kan jy hierop uitbrei vir ons, asseblief?

Liminaliteit is tans ʼn buz-woord in die literatuurteorie. Alle sekerhede en grense word daagliks afgebreek: die internet, o.a. het ʼn geweldige impak gehad op ʼn verskuiwing van grense. Met een enkele e-pos is jy blitsig in ʼn vreemde stad. Ons skype. Daar is FaceBook en Youtube. Alles is vinniger, sekuurder en selfone is maar uiteindelik net ekstensies van onsself. Ons is binne oomblikke binne ʼn vreemde landskap.

Hierdie keur van jou is in drie afdelings gegroepeer. Volgens watter ordeningsprinsipe het jy die gedigte as sodanig geplaas?

Resent (hoewel ʼn paar in die gedigtekamer van die Versindaba verskyn het), bydraes wat reeds in tydskrifte/koerante opgeneem of op die internet geplaas is en dan verse wat reeds in bundels opgeneem is.

Joan, tydens die lees van die bundel het dit vir my gevoel asof daar ʼn baie subtiele verskuiwing in toonaard was; die vroeëre verse in die keur is myns insiens verse waarin opgewondenheid en verwondering die botoon voer, maar gaandeweg raak die verse meer melancholies en dring die temas rondom verlies en veral verganklikheid sterker na vore. Was hierdie ʼn bewustelike ingesteldheid by die samestelling? Veral ten opsigte van die keuse oor watter verse uit jou vorige publikasies by hierdie keur in te sluit?

Dit is toevallig. Of dalk lees jy dit so. Ek dink die kwessie van verganklikheid en verlies, is van meet af aan in my digkuns aanwesig.

Vanuit ʼn hele aantal verse blyk dit dat jy op ʼn besonderse manier met die stad New York identifiseer. Is daar bepaalde redes waarom juis dié stad so sterk tot jou spreek?

Ek vind NYC opwindend. Die boekwinkels, die gedrewenheid – my eerste digbundel Hartskrif het haar beslag gekry in ʼn koue winter in New Haven toe ek navorsing gedoen het en mense soos Harold Bloom, Geoffrey Hartman, Barbara Johnson, J. Hillis Miller, e.a. ontmoet het. Later het ek by herhaling terug gekeer na die VSA en weer navorsing gedoen toe ek ʼn tweede doktorsgraad voltooi het. Hierdie keer was die ruimte Boston en Cambridge, Mass. Harvard se biblioteke kon ek besoek weens ʼn reisvergunning. Hier het ek Pinsky ontmoet, weer met Johnson (sy is ondertussen oorlede) kennis gemaak en Marjorie Garber se wonderlike studies oor gender bestudeer.

In een van die New York-gedigte (“Start spreading the news“, p.89) plaas jy die volgende woorde in Petrus se mond wanneer hy die stad aanspreek: ” … Jy was ʼn hawe vir digters. In jou buik / kon verskoppelinge hul een voel met jou paradoksale aard: / van hoe groter en blinker na buite, / hoe weerloser en sensitiewer na binne. Alles was hier by jou moontlik. En almal welkom.” Hierdie reëls is natuurlik ook net so op jóú van toepassing, want ek ken nie juis baie ander digters wat soveel doen om juis die jonger, minder ervare, digters by die hand te neem en leiding te gee nie. Hierdie is uiteraard iets wat vir jou persoonlik ʼn saak van enorme belang is. Ek hoop nie dat hierdie vraag jou verleë laat nie, maar hoekom is juis dié ‘digterlike begeleiding’ so ʼn belangrike funksie vir jou?

Kreatiewe skryfkursusse – en ek is trots op my studente soos Carina Stander, Martina Klopper, Fourie Botha, Aniel Botha, Lou-Ann Stone en Karen Kuhn wat afgestudeer is en reeds solo gepubliseer het of in bloemlesings opgeneem is – is ʼn dubbelloop-aksie. Jy leer ander mense, maar jy leer self ook. As iemand vra wat bedoel jy met die gedig moenie ʼn argument wees nie, moet jy fyn formuleer. Of jy leer presies en helder nadink oor wat behels ʼn stelling soos vorm en inhoud is een. Of ek leer my studente mantras soos beeldkongruensie, vermy rymdwang, skryf konkreet … Ek bied elke jaar ook ʼn skryfkursus aan by die UP. Ek probeer elke digter sy of haar eie stem vind.

Dikwels antwoord ek sommer met ʼn gedig:

 

Die intieme aard van die digkuns

 

Hoe weet ek, vra jy my,

ʼn argument in ʼn vers werk of nie?

Jy soek ʼn reël, eis jy dringend; die regsgeleerde

vra vir uitsluitsel, anders blote snuifsels van die gode.

Ek kyk na al die handleidings vir dié stil bedryf,

blaai verwonderd deur Ottone M. Riccio se boek,

ontdek ʼn kaart van Praag: Hotel Jalta,

110 00 Praha 1, tel.no. 265541.

Nóg my naam nóg aankoms en vertrek

hier aangestip. Maar in my verbeelding

is ek weer op soek na Franz Kafka se huis

met die klein plattegrond in my hand

na ʼn kontinentale ontbyt om ses,

verby die Krym Bar (dit was vóór die internet

ons blitsig kon konnekteer), af, af, af

tot voor die rooi dakke van die asemrowende stad.

Daar was ʼn wagtende geliefde, ja,

en ek sou haar ontmoet in St. Petersburg

om die verlore Rembrandts te bespied.

“Die lewe is ʼn reis”, staan dit opgeteken

in ʼn klein notaboek,” en die liefde ʼn hellevaart”.

Later in die Hermitage staan ons verwonderd:

“Die ontering van Haman” en in die meester

se fyn balans tussen donker en lig,

geskiedenis en verbeelding,

weet ek dat daar altyd iets buite woorde lê.

ʼn Gedig word voltrek in stille toeval. 

 

Vir my persoonlik vorm die groepie gedigte oor Oosterse stede in Afdeling III ʼn besonderse hoogtepunt. Veral die gedig “Daardie man wat stap in Jodhpoer” (p.97) is vir my ʼn uitsonderlike vers. Vertel ons ietsie meer van die omstandighede wat tot dié vers se ontstaan aanleiding gegee het?

Ek was in Jodhpoer … ek het ʼn man sien stap en die gedig is sommer net ʼn fantasie.

Vervolgens nog twee meer persoonlike vrae, Joan. Ten eerste – jy is na alle waarskynlikheide ons mees produktiewe skrywer; nie net ten opsigte van kreatiewe skrywe nie, maar ook met resensies, verslae, navorsings, ens. ens. Alles teen nekbreekspoed en van gehalte. Kan jy dalk vir ons ander wat maar net verwonderd kan staan ten aanskoue van jou werkywer ʼn kykie gee na jou werksroetine?

Ek werk baie geroetineerd. Ek spring soggens vroeg weg met die lees van e-posse en dan begin ek skryf aan ʼn lang werk (soos ʼn studie). Dan oefen ek op my oefenfiets vir sowat 40 minute, terwyl ek ʼn film kyk op my DVD-speler. Dan skryf ek weer, gee klas (waaroor ek gaande is), skryf tot vier uur, nuttig ʼn laat middagete met ʼn vriend of skryf op my laptop. Ontmoet dan my geliefde of ʼn vriend – Kaapstad het wonderlike restaurante – en lees in die aande.  Dan oefen ek weer en kyk ʼn film. Ek besit nie ʼn TV nie. Lacan se nosie van leë spraak is iets waarvan ek wegskram. Soms word ek in die middel van die nag wakker, dan skryf ek. Kom tot die punt, is my mantra en moenie my tyd mors nie. Op my kantoordeur is ʼn bordjie: Klop en wag. En eet jou rape eerste is ʼn lewensfilosofie. Ek behoef lang tye van stilte en alleenwees. Ek glo aan hard werk en hard speel.

ʼn Laaste vraag – Jy het jou loopbaan aanvanklik as professionele akademikus gevestig en eers enkele jare later as digter gedebuteer. In watter stadium het jy begin om gedigte te skryf? Was dit maar altyd daar van skooldae af, of het dié begeestering jou eers op ʼn latere stadium betrek?

Ek het as jong kind baie gedigte gelees (Van Wyk Louw en Eybers), een vers geskryf en aan die US gestudeer waar almal probeer het om gedigte te skryf onder die invloed van Opperman. Ek het prosa in verset geskryf en in 1984, na ʼn paar pynlike ervarings, het ek begin dig. Johann de Lange het my eerste gedigte in Standpunte gelees en my aangemoedig. Ek het wel DJO se laboratorium bygewoon as kritikus en alles geleer wat daar te lere is van dig by hierdie meester. Hy het my aan Wallace Stevens voorgestel en sy onskatbare werk as kanoniseerder en mentor is nog nie na waarde geskat nie.

Dankie vir die gesprek, Joan, en nogmaals geluk met ‘n besonderse toevoeging tot jou oeuvre. Mag Visums by verstek altyd vir jou uitstaan as ‘n hoogtepunt in jou uitgebreide reis as digter. Ten slotte wil ek nogtans vriendelik vra – by wyse van groet – of jy dalk bereid is om ‘n gunstelinggedig uit die bundel hieronder vir ons lesers te kopieer? 
 
 
Las Vegas, Nevada

 

Hier staan dobbelhuise neffens kerke

hul plek vol en sy ry met ‘n Greyhound,

geleerbaadjie en gerugsak, die Sondestad binne.

Met ‘n achy breaky heart word die woestyn

die perfekte back drop vir ‘n down town-motel,

waar reisigers en hoere, kortsondig vertoef.

Fear and loathing in Las Vegas. Agter haar lê

die Stad van Engele en vóór haar Miami. Nou,

in die oomblik, beleef sy die Mojave-woestyn,

nageboots in restaurante dwarsoor die wêreld,

met kaktus en klip kompleet. Vir haar is dit hel,

hierdie flikkerstad met sy gebedekrale van $-tekens.

La$ Vegas. Lush Vegas. Leaving Las Vegas.

In die Liberace-museum verpand broer George

handtekeninge namens die virtuose vertolker.

‘n Boekwinkel stal Barthes se Mythologies uit.

Saam met die semioloog vertolk sy die xeriscapes,

nabootsings, afbeeldings, flikkerligte: dollar a fuck.

Sy verkas uit Vegas, op pad na Dallas, op soek

na die American Dream, the greening of America:

na dit wat soos ‘n mirage in die woestyn glimmer.

 

***

15.  Dallas, Texas

 

Op die spoor van JFK, dáár waar die Zapruder

die kavalkade skiet, goewerneur John Connally voor,

Jacqueline agter, in Dealey Plaza: November 22, 1963.

Lee Harvey Oswald (“I’m the patsy”) deur Jack Ruby vermoor.

“Mr. President, you can’t say Dallas doesn’t love you,”

sê die goewerneursvrou en tussen raam 155 en 169 draai

almal eers na links dan na regs, behalwe die President.

Die skoot tussen raam 210 en 225 wys nie die bloed

of stukkies been nie: nog ‘n skoot slaan van agter.

Ene James Tague, die toevallige waarnemer, presies 162 m,

getref met ‘n opslagkoeël, en in die Parklandshospitaal

word John F. Kennedy deur dr. George Burkley dood verklaar.

‘n Rooms-Katolieke priester bedien die laaste sakramente.

In ‘n outopsie-verslag word elke wond presies opgeteken.

Lyndon B. Johnson in ‘n Airforce One in sy plek ingesweer.

Die 1961 Lincoln Continental limousine staan in die Henry Ford,

in Dearborn, Michigan, met die bevlekte pienk rok geberg.

Koeëls, die geweer, selfs die hospitaaltrollie en outopsieverslag

vir die toeris op uitstalling, met ‘n X gemerk op die plek

van die eerste slag. Die nes van die vermeende koppesneller

hier in Dallas, Texas lewensgetrou gerekonstrueer.

Glo my vry. Dit alles en nog meer. Op die spoor van JFK.

 

© Joan Hambidge (Uit: Visums by verstek, 2011: Human & Rousseau)

 

Bookmark and Share

22 Kommentare op “Onderhoud met Joan Hambidge”

  1. Marida Fouché :

    Dankie vir die onderhoud. Joan Hambidge is een van die grootste en stimulerendste geeste in die Afrikaanse letterkunde. Ek wens ek kon haar ontmoet. Haar skryfwerk en intellek is absoluut verbysterend.

  2. Dorothy :

    So ‘n stelling kan nie sonder kommentaar gaan nie. Die woord “verbysterend” is die leidraad wat die skryfster van die kommentaar se identiteit verraai: Dit moet Joan Hambidge self wees? Want daar is net een persoon wat so embarraserend hiperbolies skryf en dis Joan Hambidge.

    Bogenoemd onderhoud is ‘n verleentheid vir enige krities kultuur. As enige leser van letterkunde van buite so iets lees moet ek mys skaam. Nee, Mnr Esterhuise, u is besig om die kluts te verloor met woorde soos die van “meesterlik”. Het u die bundel gelees? Want dis werklik nie op die “meesterlike” vlak nie. Dit val miskien in iemand se smaak. Maar respekteer vergelykende woorde aseblief. Al hoe wel ek self ‘n dosent in Engels was, en Afrikaans is nie my moedertaal kan ek geen manier sien hoe ‘n woord soos “meesterlik” daarby kan inpas nie. Dis inflasie!

    En wie ook Marida Fouche is, sy moet steeds baie lees voordat sy sulke woorde kan gebruik, sowaar. Grow up!

  3. Louis :

    Welkom terug, Dorothy. Jou kommentaar verdien eweneens ‘n reaksie aangesien jy bepaalde aannames maak wat totaal foutief en vol insinuasie is. Ten eerste kan ek dit onomwonde stel dat dit nié Joan Hambidge is wat as Marida Fouché haarself bewierook nie. (Nie net verskil die e-pos adres nie, maar ook die rekenaar se IP-adres waarvandaan die kommentaar geplaas is.) Ten tweede verwys my gebruik van die woord “meesterlik” na die manier waarop Joan die gebruiklike slaggate van geleentheidsverse (wat reisverse dikwels is) vermy het en nie na die gehalte van die verse nie. As onderhoudvoerder is dit nie my taak om ‘n waarde-oordeel te vel nie. (Gaan kyk dus weer na die vraag?)
    Maar- het JY al die bundel gelees, Dorothy? Persoonlik het ek die bundel wel deeglik gelees met die oog op die onderhoud en ook vir my persoonlike plesier. Trouens, ek het dit sommer gekoop ook. En jy?
    Met waarderende groete,
    Louis Esterhuizen

  4. Joan Hambidge :

    Elke rekenaar het ‘n unieke IP-adres soos Louis Esterhuizen tereg hier uitwys. Die skep van personas is ‘n fassinerende verskynsel. Miskien kan Die Burger se wetenskapskrywer, Elsabe Brits, vir ons hieroor iets skryf. Dit sal goed aansluit by Amanda Lourens se blog.
    Is daar dalk ‘n genetiese defek in die brein dat mense verskillende personas wil skep?
    Alles is immers geneties herleibaar en ja ‘n defek in die brein kan ons ook so verduidelik.

    En vir Dorothy (over the rainbow): dit was beslis nie my eie kommentaar nie. Jy kyk die sarkasme mis van Me.Fouche. (Kyk net na jou taalfoute voordat jy reageer.) So watter skrywer sal haarself met sulke sarkasme ondermyn?

    Ons wag op die artikel van ‘n gedugte wetenskapskrywer!

  5. Dorothy :

    Dear Louis,

    Let us cut to the nerve; it is about inflationary or hyperbolic language. You run a good website. I read what you have to say ever so often. I know the poems in the said volume of poems because many of them have appeared on your website!
    I was alerted to your interview by two Afrikaans poets who along with myself were sitting on the porch at Boekehuis, Johannesburg doing our correspondence. The topic was not good or bad poetry, by any good or bad poet. If I cast undue shadow on a book I haven’t read first hand, well,my apology. That would certainly be wrong.

    But plse; go to the latest edition of any international review publication. I have one in front of me. The writers reviewed include Ian McEwan and Murakami. NOT ONCE is the word “masterly” used, though both the books reviewed are masterly.

    SHOW, DON”T TELL.
    It works for the Paris Review books, it works for the Time Literary, etc. It WILL work for Versindaba as well.

    That is a rule I learnt at school and it is still the best thumb rule outside of the book.:)

    Good luck to Joan Hambidge and good luck to you.

  6. dorothy :

    And Louis, plse send the ID number of my computer to Joan? And send it to me too, plse. I would like to know what it is. 🙂

  7. Webmeester :

    Dorothy, the IP address Joan was refering to does not implicate your comments. Sy verwys na iets anders. Jou IP adres sal op jou rekenaar wees & iemand daar kan jou help indien jy dit wil weet. Jy gebruik geen ander personas wat ons betref nie. Ons verskaf ook geen IP adresse aan enige leser/kommentator/bydraer/medewerker van ons blad nie.

  8. Joan Hambidge :

    Dorothy
    Wat personas skep en intellektuele fopdossery behels: ek het nie na jou verwys nie, maar na die verskynsel op webblaaie.

    Jy ken nie al die gedigte in Visums by verstek nie. Net ‘n handvol het op die Versindaba se webtuiste verskyn.

  9. Joan Hambidge :

    Jy het ook vermoed dat ek die hiperboliese self-kompliment geskryf het? Dit was veral waarteen ek dit had.

  10. Dorothy :

    A couple of comments: I reiterate; my gripe is with a trend of ludicrous, hyperbolic commentary – quite recent in a country with a rather elegantly conservative tradition of criticism. My gripe is not with any volume of poetry.

    This trend cropped up in the following recent instances: The “shout” on Joan Hambidge’s said volume (or was it a shout on behalf of her by Versindaba?); the comment by a student or some other fuzzyheaded youngster on this very forum (if it is not a youngster, it is a stupid grown up); and the continued usage of such facile order of descriptions by Louis, the interviewer, also on this forum.

    For the record, alas, my irony obviously did not shine through in my comment that Joan bemoans? I must try and be less subtle. I never thought that you wrote the comment, Joan. What I was trying to get across was that you, Joan, are known for the use of such irritating, unfounded, unmotivated and ludicrous hyperbole (in your reviews and some other public statements), that other more “innocent” folk may think this is the right thing to do and they obviously emulate you (!!!), that you are encouraging a detrimental trend which has become synonomous with you; and that the whole thing runs contrary to the best we have in our public commentary and criticism (in both Afrikaans and English).

    If this type of shout appeared on a volume by Douglas Livingstone, my response would be: You are a good enough poet Douglas, why hide it by allowing such a nervously egotistical statement on your book to go through? Shame on you!

    To sum up: hyperbole desecrates a good book. In the case of a bad book, it simply makes bad taste fun at the expense of a reader. This would be the inmpression any refined reader – like myself, sorry to say – would get.

    I say again: Grow up! If that extract of Joan’s book also appeared on her published hard copy edition, and I think it did, the editor has something to answer for. Who is he/ she? By all means forward him/ her this comment. They are an embarrassment to publishing!

  11. Joan Hambidge :

    Vir iemand wat hiperboliese taal onaanvaarbaar vind, gil jy self, Madame. Of is dit maar jou hamartia?
    Vir die rekord: “Dit moet Joan Hambidge self wees? Want daar is net een persoon wat so embarraserend hiperbolies skryf en dis Joan Hambidge.” wat jy nou afmaak as ironie!
    Daar is geen “shout” op my bundel nie. Net ‘n foto van Machu Picchu wat ek geneem het. Voor en kleiner agterop.
    Bly jy beskou jouself as ‘n “refined reader”. The jury is still out on that. Ek het nog nooit ‘n harde kopie gepubliseer nie – al my bundels is in sagteband! (Vergewe die uitroepteken hier.)

  12. Louis :

    Your point is well taken, Dorothy. I shall endeavour to refrain from the hyperbolic use of words in future. However, in my defense I need to point out that I am NOT an academic and has never pretended to be such. I am an amateur lover of poetry who is addicted to enthusiasm. That is my nature. 🙂
    Kind regards,
    Louis

  13. Wysneus :

    Dorothy, I was taught never to take seriously anyone employing multiple exclamation marks, let alone in parenthesis. Sage advice.

  14. Joan Hambidge :

    Waarom verskoning vra Louis? Is die Afrikaanse digkuns nie juis veelstemmig, omdat daar gesprek (woord en wederwoord) is nie? Kyk na al die nuwe stemme, na optredes by Woordfeeste, radio-voorlesdings wat Daniel Hugo en Margot Luyt behartig. Ons het Groot verseboeke wat alreeds die veelstemmigheid bewys. Die Engels Suid-Afrikaanse digkuns het ‘n digter soos Douglas Livingstone opgelewer, maar ek dink nie dat ‘n ekstatiese reaksie op ‘n goeie bundel (soos Breytenbach se jongste) ‘n hiperboliese oortreding is nie of dat ‘n erkenning en kopknik in Louis Jansen van Vuuren se rigting met sy debuut oordrewe is nie.
    Gee my Springbok-biltong, gee my boerbeskuit (en los die ander uit!). Vir die rekord (anglisisme, jammer): my kennis van die digkuns strek wyer as die Afrikaanse letterkunde en my liefde vir veral Amerikaanse digkuns is oorbekend. (Ek praat nou as kritikus).

    Nou praat ek weer as digter:

    The well-wrought urn

    Vir Breyten Breytenbach

    Hoe gepas, meneer Cleanth Brooks
    die gedig as ‘n goed gevormde, netjiese kruik.
    ‘n houer vir die as van uitgebrande liefde,
    verlore drome en veral ónwillige lesers.
    Met ‘n glasie Usquebaugh in die hand
    dink ek na oor die gedig se lewensloop:
    uit stof ontstaan en vol stof sal jy ondergaan!
    Hef aan lê voor, want die gedig
    mag kruikvormig (dus urkeolaties),
    met ‘n eerste oogopslag lyk;
    of soos die uvea van kleur verander,
    dog word met elke lesing ge-usukap,
    bepaald gepraatjie-vir-die-vaak…
    Boonop word vertelle ‘n vers se uvula
    word deur stiksienige kritici uitgekap.
    Hoe gepas, meneer Cleanth Brooks
    die gedig as ‘n goed gevormde, nuttelose kruik.

    Joan Hambidge

  15. Amanda Lourens :

    Is dit nie juis met sulke venynige kommentare wat ons mense wegdryf van die literatuur af nie, reg in die arms van ‘n meer simpatieke gehoor nie? Arme Marida (as dit wel haar naam is, maar dis inderdaad ‘n gesprek vir ‘n ander dag) sal dalk in haar lewe nie weer ‘n kommentaar waag nie. Ons wil immers nie ook ‘n pretensieuse inkwisisie begin nie – daar’s sekerlik reeds genoeg van laasgenoemde?

  16. Joan Hambidge :

    Pretensieuse inkwisisie? Die punt is dat daar mense bestaan wat onder skuilname aanvalle loods op mense wat onder hul eie identiteite skryf. Kuber-koppesnellers. Dis waarteen ek dit het. Mense wat dink hulle kan sonder enige gevolge skryf en belaster. Of is jy onbewus van hierdie bedryf wat veral op Litnet gedy het?

  17. Dorothy :

    My dear friends,

    This is preposterous.

    I complained about a shabby, immature and universally discredited practice – the use of inflationary complimentary language to announce a new book (we not even talking about a review, but a marketing ploy) – and I pointed out, by means of a pertinent example, which happened to be right at hand, why this is not sanitary practice: I referred to a comment left by a reader on this forum, a comment which, unsurprisingly, emulated exactly this unsanitary practice (which had occurred in a blurb of the said book) on this very forum – in style, in word choice, in delirium.

    I said the practice seems attracted to Joan Hambidge, and vice versa.

    I then said it is a practice that would be insulting to the best of writers, and I mentioned Douglas Livingstone. (I could have said Wallace Stevens). The better, the more insulting.

    Let me add, the blurb comments were so inflationary, so auxiliary, so prematurely charitable, it would be insulting to Viagra.

    This can’t be good for a writing community?

    No one engaged with the rubric of my argument. Was I right, then?

    Instead, I get accused of writing under a pseudonym for God knows what nefarious reason (to unjustly discredit a writer?)(Hambidge?)(whom I quite often appreciate, let me say!); and I further get accused by another commentator of scaring away new, impressionable readers of literature.
    Has anyone given it a thought that I, as a seasoned reader of literature, might also have been scared away? From Versindaba, who, judged by the standard of commentary, needs people like me to visit here?

    It seems Joan Hambidge lives in a small world judged by her belief that I am someone from what? – Litnet?! (Is that a Swedish firm?) – who purportedly engages routinely in pseudonomous slander of her and others.

    This is amazing. Truly.

    I repeat: Grow up, guys.

    Julle is maar baie sensitief, my Kaapse vriende, so lyk dit. Moenie laat die Suidoost julle hare so deurmekaar blaai nie!

    Regards,
    Dusty. (My pseudonym would be Lynn, if I have a choice.) (Does THAT help?)

    PSST: By the way, Afrikaans poetry is great, on the whole. It doesn’t need Viagra. Just carry on getting it up, and cox the unneccessary Annunciations. 🙂

  18. Amanda Lourens :

    Hallo Joan, ek is juis aan jou kant. Ek verwys met “pretensieuse inkwisisie” na die dame wat Louis beskuldig dat hy sogenaamd nie genoeg “show” nie en te veel “tell”. Dis vir my pretensieus en ek dink mense wat kamtig te geleerd is om geesdriftig oor die digkus te raak, doen die kuns eerder skade aan. En om die beskuldiging te slinger dat jy kwansuis self die Marida-inskrywing geskryf het, grens vir my aan die soort onnosel en ongegronde beskuldigings waarmee die inkwisiteurs van ouds vorendag gekom het. Ek skud regtig my kop dat iemand wat haar op “akademiese standaarde” en internasionale publikasies beroep, sowaar sulke wilde en afbrekende stellings kan maak. Ek skaar my dus absoluut by jou oor die anonieme lasteraars – dis skandalig en lamsakkig.

  19. Joan Hambidge :

    1. Die kwessie van kuber-koppesnellers was ‘n red herring.
    Jy is nie beskuldig nie. Ek het oor die fenomeen gepraat op die internet en dat Marida waarskynlik ‘n nom de plume is.
    2. Ek is nie Marida Fouche nie. Dit bevestig die webmeester tog. Jou vernuftige voetwerk om te maak dat dit ‘n blote konjunktief was, koop ek nie. Jy het geskryf: “So ‘n stelling kan nie sonder kommentaar gaan nie. Die woord “verbysterend” is die leidraad wat die skryfster van die kommentaar se identiteit verraai: Dit moet Joan Hambidge self wees? Want daar is net een persoon wat so embarraserend hiperbolies skryf en dis Joan Hambidge.”
    3. Die blurb is deur die uitgewer geskryf en dit kom uit die keurverslag.
    4. Jy hou nie van hiperboliese taalgebruik nie, maar gebruik uitroepe.
    5. Jy praat van ‘n harde kopie van my digbundel. Ek het net een roman in hardeband gepubliseer. Jy skryf:”I say again: Grow up! If that extract of Joan’s book also appeared on her published hard copy edition, and I think it did, the editor has something to answer for. Who is he/ she? By all means forward him/ her this comment. They are an embarrassment to publishing!”
    Gevra: lees eers ‘n boek, kyk hoe lyk die voorblad, alvorens jy die blurb aanval. Die uitgewer is Human & Rousseau, dr. Etienne Bloemhof, ‘n kundige leser en begeleier.
    Jy’s reg. Die Afrikaanse digkuns het nie Viagra nodig nie. Ons is nie sensitief vir kritiek nie, net vir verkeerde aannames, naamlik dat ‘n skrywer verantwoordelik gehou moet word vir ‘n bemarking van ‘n boek.
    Naskrif:
    Ek hou van gepekelde lesers van die literatuur. En Wallace Stevens is ‘n gunsteling-digter. Hierdie is nie ‘n gewone aand in New Haven nie, maar ‘n koppige reeks misverstande. Ons weet jy hou nie van hiperboliese lanserings nie. Ons het jou gehoor.

  20. Middag,
    Tot my uiterste skok het ek ‘n week gelede verneem, daar word nie net gedink nie, maar sowaar geglo dat ek, Elsabé Brits – wetenskapjoernalis – glo hier op Versindaba digters anoniem sou aanval. Noudat ek hier lees vermoed ek, ek sou Dorothy wees?
    1) Dus het ek, soos ‘n nuuskierige joernalis dit betaam, kom soek waar lê die bohaai – want ek moet erken ek was seker nog net twee keer die afgelope jaar op die blog/webtuiste
    2)Ek skryf nie sulke lang boring goed in Engels nie, ook nie op die trappies van Boekehuis waar ek nog nooit was nie.
    3)Ek val nie mense anoniem aan nie
    4)Ek weet gans en al te min van digkuns om kritiek te lewer – ek stel ook nie belang nie, ek lees meestal nie-fiksie
    5)En ek het besluit om hier iets te post, want werklikwaar – ek hou nie van valse beskuldigings nie, en die vet weer hoe ver die skinderstorie nou al loop.
    Groete
    Elsabe Brits

  21. Nee, Elsabe, jy is beslis nie verdink of beskuldig nie. Joan het jou hulp ingeroep.

  22. Terloops, ek het nog nooit soveel misverstande in een polemiek teengekom nie!

  •