Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
8 March 2011

Toe dit nog vroeg was

Toe dit nog vroeg was. Deur Mari Grobler. Tafelberg. ISBN 978-0-624-04942-5. Prys: R130. 71 bladsye. Sagteband.

Resensent: Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

 

toe dit nog vroeg was
toe dit nog vroeg was

Mari Grobler, veelsydige en bekroonde skrywer uit die Oos-Kaap, se natuurliefde was die inspirasie vir die haikoe-agtige verse in Wat sigbaar is in amber. Dit was die bundel waarmee sy in 1990 gedebuteer het.

“Volkse” elemente, soos J.C. Kannemeyer dit stel in Die Afrikaanse literatuur 1652-2004, was toe al sigbaar in haar verskuns. Dít sou lei tot gedigte met die Khoi- en San-kulture en leefwyses as agtergrond in Eggo’s in bewolkte water (2004), haar tweede bundel.

Op die beskikbare gegewens oor die Khoi- en San-tradisies word voortgedig in Toe dit nog vroeg was, maar dié keer betrek Grobler ook die karige kennis beskikbaar oor die oer-strandlopermense wat die Khoi en San voorafgegaan het as bewoners van Suidelike Afrika. Die gedigte in die openingsafdeling, “Voortyd”, is spesifiek op laasgenoemde gebaseer.

Grobler verduidelik soos volg in ‘n onderhoud wat elders op die Versindaba-webwerf gepubliseer is: “Daar is min werklike kennis oor die oermens, maar genoeg sodat ‘n mens jou verbeelding saam met die feite van opgrawings kan gebruik om hulle tot versmense te verwoord.” Sy erken dat die onderneming “‘n bietjie waagsaam” was, al was dit onderskraag deur relatiewe wetenskaplike ingeligtheid. Die strewe om die prehistorie so “sonder geskiedkundige gebeure” in momentopnames te probeer vasvang, laat iets van die haikoe-agtige aard van haar vroeër verskuns voortleef.

Verbeelding en verhaalvorming, al is laasgenoemde rudimentêr, was derhalwe haas onvermydelike hulpmiddele in haar poging. Vergelyk die suggesties in die volgende gedig:

 

Oer

 

Grotvloere hou vas

aan klip, been, skulp en as.

Vlermuise swiep soos onthou

uit rotsoorhange.

 

Dis vroeg

en die aarde is groot

met genoeg kos en tyd

om stories op die wind uit te laat loop.

 

Verromantisering (ver-eksotisering) is alte dikwels die gevolg van verbeeldingskryfwerk oor die oudste inwoners van Suider-Afrika. Iets van hierdie gevaar sien ‘n mens in die feit dat liefdesverhoudings ‘n belangrike rol in al vier die bundelafdelings van Toe dit nog vroeg was speel – soos ook die geval was in Eggo’s in bewolkte water. Waarby ‘n mens kwalik anders kan as om te begin dink aan die kritiek wat uit sekere postkolonialistiese teorie-oorde teen die (Europees-Westerse) neiging uitgespreek is om die amoreuse liefde as ‘n universele literêre tema te beskou.

Selfs in “Beweging”, die slotafdeling van Toe dit nog vroeg was en waarin die sjamaanfiguur in die kollig staan, ontbreek dit nie aan ‘n liefdeskinkel nie.  As die “reënman” (“Kxau”, die sjamanistiese reënroeper) te sterwe kom, verneem ons  eensklaps van die “alleen-vrou” wat hom nou moet mis:

 

die !gixa soek waar meisies voëls naroep

             kiewiete saamloop

             skadu’s onder reënswaar bome spook

sy luister met oë asof sy uit haar lyf is

       eien niemand nie

nes ‘n grysbok wat lank sonder water kan bly

moet sy gewend word sonder hom

[…]

 

Sulke bedenkings oor die hoof gesien, is daar veel aan te prys omtrent die grootliks oortuigende, meermaals bekoorlike wyse waarop Grobler die oer-leefwêreld uitbeeld en stilisties beslag gee. Één voorbeeld:

 

dors

 

die nag is twee mane vol

dryf luglangs in die poel

waar ek maanwater drink

 

sterre wat eers meisies was

weerkaats blink in die reëngat

breek as ek bakhand skep[.]

 

Grobler vertel in die genoemde onderhoud sy moes die hele tyd streef na eenvoud en “tydlose” woorde; geen “ontydige klanke” (waarskynlik bedoelende: anachronismes) moes in die verse opklink nie.

Die benutting van – meestal ráák en suiwer – woordkeuses en natuurbeelde val dwarsdeur die bundel op; daarby die korter, dikwels enkelvoudige sinskonstruksies, soms mét kompakterende, suggestiewekkende weglatings van veronderstelde woorde. ‘n Sfeer van die magiese te midde van konkrete eenvoud word oortuigend geëvokeer.

Ek het wel ietwat langtand gekou aan ‘n uitdrukking soos “berese seeboon” in hierdie verband. En gedink die digter moes twee keer gedink het voor sy nie-inheemse fauna soos “karp” en “tier” in hierdie Suider-Afrikaanse voorwêreld laat opduik het.

Hoewel Grobler nie noodwendig berge versit in die Afrikaanse poësielandskap nie, verteenwoordig haar drie bundels, veral die laaste twee, ‘n gewaardeerde bydrae tot ‘n nou al aansienlike Afrikaanse digterlike stroom van werke oor die Khoi- en San-ervaring. In hierdie verband kan ‘n mens haar werk in dieselfde asem noem as dié van Eugène Marais, Abraham Fouché, Donald W. Riekert, Piet van Rooyen en Antjie Krog.

 

Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Ligloop
Duskant die donker / Before it darkens →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. verskille
  • Anne-Marie Bartie. vlinderslag
  • Hendrik J. Botha. Teen sononder
  • Anne-Marie Bartie. bewys van betaling
  • Marius Crous. Twee mombakkiesliedjies

Nuutste bydraes

  • Meyer van Rensburg. Werkwese
  • Resensie: “Krap – oop toe om rond uitkrap” (Koos de Wet)
  • Koos de Wet. vóór die smelting
  • Digtersprofiel: Gert Vlok Nel
  • Meyer van Rensburg. Spieëlkamer

Nuutste kommentaar

  1. Hester Steenkamp on Digtersprofiel: Melt Myburgh3 August 2026

    Oewerbestaan is een van my kosbaarste besittings. Die bundel lê my baie na aan die hart.

  2. Miel Vanstreels on Miel Vanstreels. Voorlopig1 August 2026

    Dankie, Marieta

  3. Conrad on Hans du Plessis. Psalm 121 (Stemgreep)30 July 2026

    Goeie middag ek is n koorleier van die VGK Kerk Kraaifontein en is op soek na die SATB Blad musiek…

  4. Marieta McGrath on Miel Vanstreels. Voorlopig30 July 2026

    Stout gedig! Baie snaaks!

  5. Bernie on Rainer Maria Rilke. Almal wat Jou soek, beproef Jou (vert.)29 July 2026

    Kan die vertaler dalk verduidelik waarom hy hoofletters gebruik in sy vertaling terwyl Rilke kleinletters gebruik.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • onderhoude
  • Onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d