VW
Vrye Woord
E-pos/Email: hermes@absamail.co.za
Posadres/Postal address: Berglaan 717, Florauna 01
Vrye Woord is ‘n losse groepering van hoofsaaklik Afrikaanse skrywers, akademici, uitgewers en ander belanghebbendes. LitNet is die gasheer vir die nuusbrief (http://www.litnet.co.za/). Ons hoofdoel is om spraak- en meningsvryheid teen toenemende bedreiging te beskerm en die belange van alle skrywers en ander woordwerkers in ‘n ope demokrasie te bevorder. Ons is aan geen politieke of belangegroep verbonde nie. Deur die sytak WikiLigni beoog ons om enige vorm van magsmisbruik, korrupsie en verswyging aan die kaak te stel nadat dit vertroulik aan ons onthul is.
Redaksionele raadgewers: Jeanette Ferreira, Pieter Haasbroek, John Miles en Charl-Pierre Naudé. Redakteur: Charles Malan (hermes@absamail.co.za).
__________________________________________________________________________________________________
Soos onderneem is, is aanbevelings oor die ope brief in ag geneem en die volgende brief aan die bestuur gestuur.
OPE BRIEF AAN DIE BESTUUR VAN MEDIA24
Aan: mnr. Francois Groepe
CC: mnre. Abraham van Zyl, Peet Kruger, Tim du Plessis
Beste mnr. Groepe en ander bestuurslede
Vrye Woord is ‘n drukgroep skrywers wat die vrymoedigheid het om u vrae oor die enkele beoogde nasionale boekeredakteur vir u streekskoerante te vra nadat mnr. Tim du Plessis reeds ‘n basiese verduideliking vir die besluit gegee het en ons dit aan woordwerkers help deurstuur het.
U is bewus van die wydverspreide ontevredenheid oor die stap onder skrywers, uitgewers en ander woordwerkers. Sommige van ons oorweeg selfs ‘n boikot indien dit die enigste alternatief is. Die nasionale bylaag word oorwegend gesien as ‘n verskraling van die literêre diskoers en nie ‘n verbreding nie. Die kritiek is reeds uitvoerig beredeneer op webwerwe soos LitNet en Versindaba, asook interne e-poskorrespondensie soos hierdie een wat wyd uitgestuur word.
DIE VRAE
Na raadpleging op al hierdie kuberplatforms oor die aard van ons korrespondensie met u wil ons dus graag die volgende vrae stel:
1 Wat is die basiese motivering vir hierdie sentralisering van redaksionele verantwoordelikheid? Is dit werklik slegs “beter gehalte” in ‘n gesentraliseerde blad, soos ons meegedeel word? As dit ook besparing is, hoeveel word werklik bespaar?
2 Waarom sou ‘n enkele nasionale boekeredakteur die redaksionele werk beter kon doen nadat drie streekredakteurs van boekeblaaie en (aanvanklik) By volgens Media24 ‘n onvoldoende/ondoelmatige diens gelewer het? Gaan so ‘n superredakteur dus onbeperkte bladruimte tot sy/haar beskikking hê om alles te dek wat in die verlede oorgeslaan is?
3 Is meerstemmigheid in literêre en verwante besprekings belangrik en hoe word dit hierna geakkommodeer, behalwe deur die keuses van die superredakteur wat sekerlik nie telkens drie resensies oor ‘n bepaalde boek gaan publiseer nie?
4 Is redaksionele meerstemmigheid en besluitneming oor boekverwante sake in die drie streke van die dagblaaie belangrik en wat gaan nou daarvan word?
5 Gaan die nuwe superredakteur by magte wees om landwyd te weet watter persoonlike oorweging agter die moontlike bespreking van ‘n publikasie deur ‘n bepaalde resensent kan skuil in die lig van verskillende onderstrominge in die literêre wêreld?
6 Gaan daar naas die superredakteur ook nou ‘n uitgesoekte groepie superresensente wees wat volkome objektief alles kan beoordeel sodat almal landwyd hulle oordeel in (gewoonlik) ‘n enkele resensie moet aanvaar? Kortweg: sal hulle dus in die posisie wees om ‘n publikasie te kan “maak of breek”?
7 Gaan die verskeidenheid huidige literêre blaaie en bylaes (met die uitsondering van Rapport en Huisgenoot) nou in die nuwe superuitgawe opgeneem word sodat een uitgawe oor alles van alle boekesake vanoor die land en veral ook in die streke verslag sal doen?
8 Daar is waardering vir Rapport se boekebylaag as ‘n bykomende besprekingskanaal (hoewel talle nuwe boeke nie bespreek word nie), maar is Huisgenoot soos dit tans lyk, ook enigsins ‘n realistiese alternatief, soos ons meegedeel is?
DIE VERHOUDING MET MEDIA24
Media24 het duisende woordwerkers in sy diens, direk of indirek. Minstens honderde van ons se belange word deur hierdie plan vir ‘n superredaksie geraak. Talle van ons as skrywers is onder Media24 en in die besonder NB-uitgewers se vleuels. Ons glo dus u sal verstaan as ons antwoorde op die vrae hierbo versoek.
Ons het geensins ‘n “vete” met u nie, want die woordwerkers, media, uitgewers en ander belanghebbers is wedersyds van mekaar afhanklik. Ons glo ook dat Media24 ons belange op die hart dra. Die meerderheid van ons is egter oortuig daarvan dat hier ‘n groot inperking van die literêre, intellektuele en akademiese diskoers gaan plaasvind. Afrikaanssprekendes se intellektuele ruimte is daagliks besig om te verskraal as gevolg van faktore soos ‘n regering wat steeds minder in ons regte belangstel en kommersiële instellings wat steeds meer verengels. Skrywers, akademici en ander denkers se bydrae in hierdie beperkte diskoers is van vanselfsprekende belang en mag nie verder ingeperk word nie.
Ons maak staat op u besinning oor soveel gedeelde belange. Dankie vir die aandag wat u, en in die besonder mnr. Du Plessis, reeds aan die aangeleentheid gegee het. Vrye Woord sal almal op hierdie groter forum op die hoogte hou van die korrespondensie oor die saak met Media24 en noukeurig nagaan wat met die beoogde superpublikasie gebeur.
Ons hoop egter dit is nog nie te laat vir herbesinning daaroor nie. Verskeie skrywers het reeds daarop gewys dat die nuwe superredakteur in ‘n onhoudbare situasie geplaas gaan word omdat kritiek landwyd gaan instroom. Talle van ons glo dat dit ‘n veel beter opsie is om die bestaande boekeblaaie in u drie streekskoerante met onder meer permanente redakteurs te verstewig. Daar is reeds die agterdeur oop gelaat dat Media24 maar eers “moet kyk hoe dit werk” – maar waarom wag totdat dit klaablyklik volgens soveel kundiges en ‘n reeks argumente nie gaan werk nie?
Miskien moet ons bloot wag totdat u na die aansoeke vind dat ‘n alwetende en dapper superredakteur nie daaronder tel nie!
Vriendelike groete
Charles Malan
Koördineerder, Vrye Woord
Berglaan 717, Florauna 0182
Vrye Woord: http://www.litnet.co.za
Leon Dreyer, jy praat nou nonsens. Daar is eintlik niks verder om ‘bohaai’ oor te maak nie. As die koegel deur die kerk is, is hy mos deur die kerk. Punt. Seker maar wag en kyk wat verder gebeur. Skrywers wil skryf, hulle wil nie regtig resenseer nie. Ons het eintlik maar min resensente in die Afrikaanse letterkunde. Ek dink dis nogal ‘n nagmerrie vir enige boekredakteur om gewillige resensente op te spoor.
Ja nou is die skrywers wat so ‘n bohaai gemaak het skielik tjoepstil. Hulle het seker al klaar by die nuwe redakteur begin gatkruip sodat sy hulle as resensente kan gebruik.
Hulle bestaan nie, Jan.
Dit lyk my niemand dink iets nie … almal swyg. Mens kan haar maar net sterkte toewens met die groot taak op hanne. Persoonlik sou ek graag ‘n skrywer in daardie posisie wou sien, iemand wat met almal goed oor die weg kom, en geen persoonlike agendas troetel nie, of is hulle maar dun gesaai?
So wat dink Vrye Woord en Breyten Breytenbach van Elmarie Rautenbach as die nuwe super-boekredakteur?
MEDIAVRYSTELLING
Protes teen ‘n nasionale boekebylaag
Vir onmiddellike vrystelling, 16 Maart 2011
Die skrywersdrukgroep Vrye Woord het ‘n aantal vrae oor die rol van ‘n enkele nasionale redakteur aan die koerantbestuur van Media24 gestuur. Dit het veral gehandel oor die wyd bekende beswaar dat ‘n enkele bylaag en redakteur nie ‘n verbreding van die literêre toneel sal behels nie, maar eerder ‘n verskraling.
Mnr. Francois Groepe, uitvoerende hoof van Media24, het geantwoord dat hulle van die besware bewus is. “Ons redakteurs besef hul koerante het ‘n spesiale verantwoordelikheid teenoor die Afrikaanse literêre gemeenskap. Tog is die grootste belanghebbers hier die kopers en lesers van Die Burger, Beeld en Volksblad. Ons het weinig aanduiding gekry dat hulle by voorbaat ongelukkig is met die besluit.”
Mnr. Groepe het verder gemotiveer: “Die redakteurs bly oortuig dat die beoogde bedeling beter boeke-inhoud aan ‘n wyer front beskikbaar sal stel. Behalwe om ‘n beter diens aan lesers te lewer, wil hulle ook hê meer mense moet ‘n waardering kry vir skeppende skryfwerk in Afrikaans. Die redakteurs is bewus van die noodsaaklikheid van verskeidenheid en ‘n veelheid van stemme, asook van die potensiële gevare van sentralisme. Maar hulle is oortuig die beoogde bedeling bied innoverende moontlikhede om te verseker dat stem en teenstem gehoor word, veral so in die digitale sfeer.”
Vrye Woord het hulle standpunt gestel dat spesifieke vrae oor probleme steeds nie beantwoord is nie. “Ons waardeer u versekering dat u slegs ‘n verbeterde diens aan lesers wil bied, waarmee min deelnemers aan die gesprek (ook en veral lesers) kan verskil. U sal egter ook weet dat ‘n hele aantal van die voorste ingeligte en ervare kundiges verskil dat die nuwe bedeling die beste is om veral lesers en dan die talle ander betrokkenes te dien.”
In die aanvanklike brief aan Media24 het Vrye Woord dit jammer gevind dat die aanstelling ‘n voldonge feit is en dat ‘n boikot vir ‘n aantal skrywers nou die enigste alternatief vir verset is. “Media24 het duisende woordwerkers in sy diens, direk of indirek. Minstens honderde van ons se belange word deur hierdie plan vir ’n superredaksie geraak. Talle van ons as skrywers is onder Media24 en in die besonder NB-uitgewers se vleuels.”.
Daar is beklemtoon die skrywers het geensins ‘n “vete” met Media24 nie, want die woordwerkers, media, uitgewers en ander belanghebbers is wedersyds van mekaar afhanklik. “Ons glo ook dat Media24 ons belange op die hart dra. Die meerderheid van ons is egter oortuig daarvan dat hier ‘n groot inperking van die literêre, intellektuele en akademiese diskoers gaan plaasvind. Afrikaanssprekendes se intellektuele ruimte is daagliks besig om te verskraal as gevolg van faktore soos ‘n regering wat steeds minder in ons regte belangstel en kommersiële instellings wat steeds meer verengels. Skrywers, akademici en ander denkers se bydrae in hierdie beperkte diskoers is van vanselfsprekende belang en mag nie verder ingeperk word nie.”
Ter afsluiting is daar in die aanvanklike skrywe gesê: “Verskeie skrywers het reeds daarop gewys dat die nuwe superredakteur in ‘n onhoudbare situasie geplaas gaan word omdat kritiek landwyd gaan instroom. Talle van ons glo dat dit ‘n veel beter opsie is om die bestaande boekeblaaie in u drie streekskoerante met onder meer permanente redakteurs te verstewig. Daar is reeds die agterdeur oop gelaat dat Media24 maar eers ‘moet kyk hoe dit werk’. Maar waarom wag totdat dit klaarblyklik volgens soveel kundiges en ‘n reeks argumente nie gaan werk nie?”
Charles Malan
Koördineerder, Vrye Woord
Hiermee die uitvoerende hoof van Media24, mnr. Francois Groepe, se antwoord op die ope brief; daarna my reaksie namens Vrye Woord. – CM.
Geagte Mnr Malan
Ons reageer graag soos volg op die ope brief.
Die belangrikste besware is beantwoord in die verduideliking wat Tim du Plessis vroeër vir die gesamentlike besluit oor ‘n boekeblad vir Die Burger, Beeld en Volksblad verstrek het.
Die bestuur van Media24 het kennis geneem van die ontevredenheid by sekere Afrikaanse skrywers en ander literêre figure. Ons redakteurs besef hul koerante het ‘n spesiale verantwoordelikheid teenoor die Afrikaanse literêre gemeenskap. Tog is die grootste belanghebbers hier die kopers en lesers van Die Burger, Beeld en Volksblad. Ons het weinig aanduiding gekry dat hulle by voorbaat ongelukkig is met die besluit. Hulle wag bes moontlik om te sien wat aangebied word. Ook moet onthou word die besluit raak nie enige ander titel in Media24 nie.
Die redakteurs bly oortuig dat die beoogde bedeling beter boeke-inhoud aan ‘n wyer front beskikbaar sal stel. Behalwe om ‘n beter diens aan lesers te lewer, wil hulle ook hê meer mense moet ‘n waardering kry vir skeppende skryfwerk in Afrikaans. Die redakteurs is bewus van die noodsaaklikheid van verskeidenheid en ‘n veelheid van stemme, asook van die potensiële gevare van sentralisme. Maar hulle is oortuig die beoogde bedeling bied innoverende moontlikhede om te verseker dat stem en teenstem gehoor word, veral so in die digitale sfeer.
Ons het ‘n indrukwekkende lys van aansoekers vir die pos van heeltydse boekeredakteur vir Die Burger, Beeld en Volksblad. Die maatskappy verwag nou van die redakteurs om hul planne te implementeer. As dit blyk die besluit was defektief, sal opnuut besin word. Maar die doelwitte sal dieselfde bly : ‘n verbeterde diens aan lesers, boeke-inhoud van hoër gehalte en groter doeltreffendheid by ons redaksies.
Beste wense
Francois Groepe
Uitvoerende Hoof : Media24
ANTWOORD NAMENS VRYE WOORD
Geagte mnr. Groepe
Ons waardeer die spoedige antwoord. Vrye Woord voel nie al die vrae is voldoende beantwoord nie, selfs na mnr. Tim du Plessis se antwoord wat op al die verskillende platforms wat hier ter sprake is, gepubliseer is. Andersins sou ons nie pertinente vrae gevra het om meer inligting te kry nie.
Ons waardeer u versekering dat u slegs ‘n verbeterde diens aan lesers wil bied, waarmee min deelnemers aan die gesprek (ook en veral lesers) kan verskil. U sal egter ook weet dat ‘n hele aantal van die voorste ingeligte en ervare kundiges verskil dat die nuwe bedeling die beste is om veral lesers en dan die talle ander betrokkenes te dien.
Vrye Woord matig onsself egter nie die reg aan om namens alle skrywers en woordwerkers te reageer nie. Wat ons wel sal doen, soos onderneem, is om u antwoord op soveel moontlik kuberplatforms te plaas. Ons sal ook ‘n mediavrystelling vir moontlike gebruik deur die drie betrokke streekkoerante stuur. Daar is tans ‘n gesprek aan die gang om formeel ‘n nasionale skrywersorganisasie te stig en hulle sal meer verteenwoordigend namens woordwerkers kan praat.
Ons vind dit jammer dat die aanstelling ‘n voldonge feit is en dat niks dit meer kan verander nie. U is bewus daarvan dat ‘n aantal skrywers reeds bereid is om tot ‘n boikot oor te gaan, al gaan hulle hulself benadeel en dus moet opoffer – as daar nie meer ‘n gesprek of alternatief moontlik is nie. U is ook bewus daarvan dat skrywers eers van die plan met die superredakteur gehoor het toe die advertensie verskyn en Breyten Breytenbach dit aan die groot klok gehang het.
Ons kan maar net hoop dat u uit die indrukwekkende lys aansoeke vir ‘n redakteur iemand gaan aanstel wat aan al die nuwe eise kan voldoen. Vrye Woord dink nie dit is moontlik nie, maar dit is ons beperkte mening. Miskien verras Media24 ons deur die nuwe bylaag met volledige streeknuus en verskeie resensies oor dieselfde boek te publiseer.
Nietemin, dankie vir u spoedige reaksie en verduideliking. Hierdie skrywe met ons antwoord word nou so wyd moontlik uitgestuur.
Beste wense aan u ook, dankie
Charles Malan