
Beste mnr. Du Plessis – baie dankie vir u verduideliking aangaande die geadverteerde pos vir ‘n Nasionale Boekeredakteur wat ons via Jo Prins, u boekeredakteur by Beeld, ontvang het vir plasing op hierdie webblad. Graag reageer ek daarop in my hoedanigheid as boekhandelaar; iemand met ‘n passie vir die letterkunde in die breë en boeke in die besonder. Ook weet ek nie of u deel vorm van die keurpaneel wat oor hierdie aanstelling gaan besluit nie, maar aangesien u in u verduideliking dié besluit probeer regverdig, rig ek hierdie skrywe tot u.
Eerstens, met die finansiële oorwegings wat u argument onderlê, het ek as amper-besigheidsman volle begrip. Maar die oplossing waarop besluit is (naamlik die aanstelling van ‘n Nasionale Boekeredakteur), is myns insiens kortsigtig en iets wat op die lange duur meer skade gaan berokken as goed; nie net aan Media24 se eie nuusblaaie nie, maar ook aan die boekbedryf. Hoekom? Omrede ‘n koerant as openbare nuusforum dit ten doel behoort te hê om sy totale leserskorps tot diens te wees. (En ja, binne ‘n demokratiese bestel is die oordrag van inligting enersyds ‘n plig, maar andersyds ook ‘n diens. Dit gaan immers daaroor om u lesers in staat te stel om onder andere ingeligte standpunte in te neem of keuses te maak.) Hiertoe dien u eie rubrieke en u program Sondagaande op KykNet as toepaslike voorbeelde.
Maar hoe gemaak wanneer dit kom by boeke?
Graag hou ek die volgende uitspraak aan u voor. Dit is iets wat dr. Nicol Stassen, hoofbestuurder van Protea Boekhuis, enkele jare gelede tydens Die Burger-lesingsreeks by die KKNK onder die gesprekstema Die laaste (Afrikaanse) boek gesê het. ” ‘n Geestelike, intellektuele wêreld sonder boeke bestaan nie – nie vir die mensdom nie, en ook nie vir Afrikaanssprekendes nie. Boeke is die basis van alle intellektuele vooruitgang […] Benewens Afrikaanse uitgewerye en boekwinkels is die belangrikste manier waarop Afrikaanse intellektuele kommunikeer, die gedrukte en elektroniese media. Die boekeblaaie van veral Beeld, Die Burger, Die Volksblad, Rapport en Insig moet hier uitgesonder word vir die feit dat hulle standhoudend, oor dekades heen, die Afrikaanse intellektuele wêreld in stand gehou en uitgebrei het.”
Sedertdien het Insig getransformeer na Boeke-Insig en saliger. Verdermeer is die beskikbare publikasieruimte aan boekenuus en -resensies in die ander publikasies drasties ingekort. En nou wil Media24 die drie bestaande boekeblaaie, wat hierbo genoem is, afskaal tot één landswye boekeblad? Hoe gaan hierdie besluit byvoorbeeld daarin slaag om aan die volgende uitspraak, wat in 2002 deur ú gemaak is as ‘n kopknik na u voorgangers Schalk Pienaar en Piet Cillié, gestand te doen? “Hulle het dus op hul manier hul lesersgemeenskappe nader gebring aan Karl Popper se ‘oop gemeenskap’, waar daar maksimale vryheid is vir die individu, waar idees vryelik sirkuleer en meeding sonder die dwingelandy van ideologie en onverdraagsaamheid. Die soort samelewing wat ons vandag in Suid-Afrika moet vestig.” (Rapport, 10/11/2002) Terloops, u kon hier ook net sowel verwys het na ‘waar idees vryelik sirkuleer en meeding sonder die dwingelandy van rand en sent’.
Nietemin, die punt is dat die onderskeie boekbylaes deel vorm van die intellektuele inhoud van die betrokke koerante. En deur die verskillende stempels wat die drie boekeredakteurs onafhanklik van mekaar daarop plaas, vorm dit sekerlik deel van die ‘oop gemeenskap’ waarna u verwys het. Soos Breyten Breytenbach dit in sy griefskrif stel: “Vir die literatuur is ‘n neiging na hegemonie of ortodoksie in meningvorming altyd ‘n verstarring. Op ‘n tydstip waar daar juis behoefte is aan die verryking van die literêre wêreld en die bevordering van diversiteit in opinies en uitdrukkingsvorme, sal dit ‘n kwade dag wees wanneer die koördinering van mening en mag in die hande gegee word van één über literêre redakteur of raadgewer.”
Die lesers van ‘n boekeblad mag min wees, soos u beweer, maar hulle vorm heel waarskynlik deel van daardie groep wat meningvormers is; daardie groep wat lojaal aan u publikasie is en ander sal vertel en debateer oor wat hulle daar te lese vind. Nie dat dit u noodwendig direk sal baat nie; maar hulle sal boeke koop en op dié manier ‘n ander koffer in die arsenaal van Media24-bagasie vul. As sulks dien dit tóg die korporasie, is dit nie? Of staan die onderlinge vertakkings van die Media24-konglomeraat in kompetisie tot mekaar?
‘n Gerespekteerde (Poolse) digter het by geleentheid gesê dat ‘n volk die digters verdien wat hy kry. Waarskynlik is dit ook waar ten opsigte van die nuusblaaie wat vir daardie volk beskikbaar is. En u “volk” van lesers verdien beter as wat u tans beoog om aan hulle op te dis, want hoe u dit ook al probeer versuiker: dié besluit gáán weens praktiese oorwegings ten opsigte van tyd én publikasie-ruimte tot ‘n verskraling van boekfokus en -nuus aanleiding gee; iets wat direk verband sal hou met die openbare ontvangs en uiteindelike verkope van nuwe literêre werke. ‘n Boekeblad is immers ook die vertoonkas van ‘n letterkunde se prestasie al dan nie.
Maar terug na besigheidsbeginsels. Soos u na alle waarskynlikheid weet, is die belangrikste oogmerk in ‘n kompeterende mark die kwessie van kliënte-lojaliteit. Met hierdie afwatering aan intellektuele inhoud gaan u juis aan dié lojaliteit inboet, want watter lojaleit sal daar jeens Media24 se nuusblaaie bestaan indien hulle soos enige volgende sensasiebeluste publikasie uitsluitlik ter wille van verkope funksioneer? (Trouens, ek wonder hoeveel Afrikaanssprekendes lees eerder Engelse koerante juis omrede hulle tans meer intellektuele inhoud bevat as hul Afrikaanse ekwivalente?) Daardie groepie lesers van u boekbladsye waarna u verwys, is waarskynlik die laaste lojale lesers waaroor u beskik aangesien daar geen dekking aan Afrikaanse boekenuus of besprekings in Engelse nuusblaaie te vinde is nie. U behoort hulle daarom eerder te bemagtig en nie te ontmoedig by wyse van hierdie beoogde geringskatting nie.
Nee. Indien Media24 wil bespaar, is daar sekerlik ander plekke waar daar besnoei kan word; net nie aan dit wat bydrae tot die statuur van ‘n publikasie wat “standhoudend, oor dekades heen, die Afrikaanse intellektuele wêreld in stand gehou” en uitgebrei het nie. Myns insiens moet Media24 eerder die pligstaat van hul bestaande boekeredakteurs sodanig aanpas dat hulle in staat gestel word om dit wat hulle reeds doen – te midde van moeilike, onsimpatieke omstandighede – meer effektief te bedryf.
Laat hulle eerder onder mekaar meeding om die beste boekeblad in die land tot stand te bring, as om alles af te water tot ‘n gesentraliseerde niks-vir-niemand. Want, indien daar maar één resensie per boek landswyd in ons vernaamste nuusblaaie gaan verskyn, is dit die dood in die pot. Ons letterkunde is immers dinamies en geskakeerd.
Die media behoort juis dít met ‘n soortgelyke ingesteldheid te reflekteer.
Met waarderende groete,
Louis Esterhuizen
***
Maar terug na die webblad. Graag fokus ek die aandag op twee nuwe bydraes in Wisselkaarten. Luuk Gruwez skryf oor Lieke Marsman se debuutbundel wat die afgelope maande heelwat vreugde in die Lae Lande ontketen het, terwyl Vrouwkje Tuinman vertel van die bondel vrae wat sy as digter telkens mee gekonfronteer word. En dan is Bernard Odendaal se resensie van Onder die appelboom ontvang en geplaas. (Dit is die keur uit Rutger Kopland se gedigte wat deur Daniel Hugo vertaal en einde verlede jaar gepubliseer is.)
Gepraat van Daniel Hugo – vanaand om 20:30 kan jy op RSG na Leeskring luister wanneer hy met Joan Hambidge oor haar nuutste bundel, Visums by verstek, gaan gesels. Lees sommer die onderhoud wat met Joan oor dié bundel gevoer was, indien jy dit gemis het. (So ook die onderhoud wat met Daniel Hugo gevoer was oor Onder die appelboom.)
En daarmee eers weer groet; in die woorde van die Portugese grensvegter: A luta continua.
Inderdaad, die stryd duur voort.
Mooi bly.
LE
Alt-137!
Charl-Pierre, met Alt-136 kan mens ‘n hoër kultuur daarstel. (ronde geel glimlagman)
Charl-Pierre, as Solidariteit met daardie oogmerke saamstem en meewerk, het ek geen besware nie.
Dit sal goed wees, Louis. Intussen voel ek mens kan ten minste ‘n losse verbintenis met Solidariteit aangaan. Miskien ‘n beswaarskirf met handtekeninge waarin ons die oogmerk – ‘n Stigting van ‘n ONAFHANKLIKE fonds bepleit (Solidariteit verstaan die woord “onafhanklik”, so lyk dit) en sommer skrywers nader aahn die roots van die mense bring. Miskien kan mens dit duidelik in die beswaarskrif stel dat dit gaan om ‘n “hoer kultuur” vir ALLE Afrikaanse mense uit alle “rasse” en stande.
Die punt is: skrywers is in die algemeen nie deurwinterde organiseerders nie, vakbond- en ander bondsmense is wel. Wat ons ‘n lang rukkie sal neem om te doen gaan hulle dalk ‘n oggend neem.
Dis ‘n kwessie van kragte saamspan?
Breyten, met graagte sal ek probeer om so ‘n voorkamergesprek aan mekaar te sit. Ek sal op ‘n latere tydstip besonderhede bekendmaak van wie, wat, waar, wanneer en waarom.
Louis
Lewies, ek dink jou tirade is sommer heeltemal in die kol; enige pleidooi vir ‘n sagter, mensliker, regverdiger en meer besinnende wêreld hoort beslis in hierdie gesprek.
Daar skep ek toe sommer so bietjie moed met die lese van Trevor se briefie, sowaar as wragtig het ek al begin wonder of daar enige murg en durf in die broekspype of onderrokke van die leiers van die land oor is. Dat dit so ‘n gevreet by die krippe is dat enige ordentlikheid een kant toe geskop word en ons (hul) in ons vraatsigheid vergeet het (of fokkol omgee) waaroor die struggle was, dat dieselfde vrot van Apartheid besig is om deel te word van ons gemeenskap; ongeregtigheid, liefdeloosheid en minagting van menswaardigheid om enkele te noem . Mag die krag van Madiba se Rivonia toespraak nooit in hierdie harde bitter land van ons uitdoof nie. Sorry kamerade my tirade is seker heeltemal van koers af in die gesprek,vergeef my maar.
Breyten, hier’s die brief:
http://www.iol.co.za/news/politics/trevor-manuel-s-open-letter-to-jimmy-manyi-1.1034606
Dit klink nou amper soos daai song van Jan Blohm!
Louis, ek sekondeer die idee van ‘n vergadering by die Woordfees om planne te maak.
Dankie, Andries! Trevor Manuel se brief is een van die beste goed wat die openbare diskoers in ‘n lang tyd getref het! En hy hou nie terug nie: ‘I have a sense that your racism has infiltrated the highest echelons of government.’ Ek yl dalk, maar ek glo nogal die stryd vir ‘n nie-rassige, nie-rassistiese samelewing, immers ‘n verbeeldingsdaad, het uitstekende boeke- en kunsblaaie broodnodig. So Manuel se brief en ons debat oor resensies is polities aan mekaar verwant… Of behoort te wees. Myns insiens.
Andries, ek kom nou net af op jou bogaande skrywe. En ek stem heelmondig saam met jou deurwinterde waarskuwings. As jy sê “workerist” begin ek sommer weer opgewonne raak! Ek het nog net een keer in SA gestem, tydens die eerste vrye verkiesing, en toe vir ‘n Workerist party wat sedertdien ongelukkig blykbaar soos ‘n groot speld verdwyn het. (Wat dalk verklaar hoekom die vakbondbeweging se broek afgeval het sodat hulle nou kaalpoephol voor die politieke manipuleerders staan.) (Of toi-toi.) Ek hoop daar is genoegsaam ander skrywers wat ook so voel – dat ons moet saamstaan (soos Johann bepleit) rondom spesifieke vraagstukke en aangeleenthede wat ons ambag raak – in welke geval die kwessie van affiliasie nie eens te berde hoef te kom nie. M.a.w., ek trek my gedagte van affiliasie met Solidariteit of wie dan ook terug.
Wat ‘n lekker brief is dit van Trevor! Is dit gepubliseer? Waar? Dis skitterend en wys jou net mens moenie gaan sukkel met ‘n ou aktivis nie. Ek het nog altyd swaar gesluk aan blou-oog Trevor se ‘blackness’, gedog so ‘n kategorisering (basies negatief want slegs om jou te onderskei van ‘whiteness’) is amorf (wat maak ons met Che en Giap?), dat dit net tot opsweping dien en ten minste semanties gesien ‘n treurigheid op note is. Maar soos hy Manyi daar smeer en sommer sy ‘blackness’ ook van hom wegvat – ek wil “Atta, boy!” skree. Hoe heerlik paradoksaal is hierdie land tog. Wanneer daar aan my mense (die bruines) se swartheid gevat word wil ek saam met Trevor opruk barrikades toe!
Ek is bly Desmond Painter bevestig die belangrikheid van Leeskringe. Dis immers die ‘basiese’ beliggaming van lesersbelangstelling en hulle kom blykbaar so na aan magsafwentelende outonomiteit as wat mens van kan droom. Sentralisering is dikwels meer van ‘n euwel (mag, en dan ‘bestuur’ wat ‘n eie Kafkarige lewe aanneem) as wat dit doeltreffendheid fasiliteer – maar wéét enigiemand hoeveel Leeskringe daar is? Skakel hulle met mekaar? Hoe sou mens te werk gaan om hulle te ‘aktiveer’ vir steun aan, sêmaar, ‘n Literêre Ontwikkelingsfonds?
Louis – almal is kniesterig of knorrig besig met eie dinge of hou mekaar dop soos porseleinhonde (dis ‘n Franse gesegde) – wil jy nie in jou boekwinkel ‘n vergadering belê van ‘n paar ‘aandeelhouers’ (Joan, Marga, Charl-Pierre, Johann, Gerrit.., om slegs enkeles te noem) dalk in die loop van die Woordfees, want ek neem aan daar sal heelwat belanghebbendes in die dorp wees, om bestekopname te maak en dalk iets van ‘n koördinerende momentum aan die gang te kry om van die voorstelle te konkretiseer nie?
Breyten, by COSATU sou ek ook nie wou affilieer nie, maar nie oor standpunte oor regstellende aksie nie. Dis juis hulle ander alliansies wat vir my problematies is. (Ek sukkel om mense ernstig op te neem wat hulself in dese tye nog “kommuniste” noem.) Ek sou ‘n organisasie verkies wat op grond van spesifieke kwessies kies met wie hulle saamwerk – nie die openhartige omhelsings van die affiliasies en alliansies wat Suid-Afrikaanse politiek so vertroebel nie. Noem my maar ‘n “workerist” – of ‘n “skryweris”, dan – in die taal van destyds. Ek wil eerder die saamstaan bewaar waarna Johann de Lange hier bo verwys.
Oor regstellende aksie wil ek nie die gesprek in ‘n ander rigting stuur nie, maar darem Trevor Manuel se brief aan Jimmy Manyi hier plaas. (Ek het nie gedink ek sou ooit met GEAR se baas saamstem nie):
Dear Jimmy,
Let us drop titles for the purpose of a necessary exchange. So let us forget for now that I am a cabinet minister and that you are a director-general equivalent, in the same government.
I want to address you simply as a compatriot South African.
I want to draw to your attention the fact that your statements about “an over-concentration of coloureds” are against the letter and spirit of the South African Constitution, as well as being against the values espoused by the Black Management Forum (BMF) since its inception.
That you were a director-general of the Department of Labour, as well as the president of the BMF at the time when you made these statements is quite a mystery.
It is a mystery because I must assume that you were elected as president of the BMF, without any familiarity with the history and constitution of that organisation; and that you were appointed as director-general of the Department of Labour, without any familiarity with the Constitution of the Republic of South Africa or the legislation administered by the department.
I observe from a Government Communication and Information System (GCIS) press release, that Mr Vusi Mona issues in his own name, that you apologise for the statement because “some people may have taken offence”. This continued negative behaviour merely serves to confirm the values that you hold, or more precisely, lack.
Firstly, why Mr Mona had to issue a statement is beyond comprehension since you distinctly did not utter those racist sentiments as an official of the GCIS.
Secondly, that you lack the moral conviction to publicly apologise says so much about your acute lack of judgement.
Thirdly, that the statement apologises only for the fact that “some people may have taken offence” says to me that you clearly fail to appreciate the extent to which your utterances are both unconstitutional and morally reprehensible.
These “things”, (as the ANC statement says, your utterances reduce people to being mere commodities) in your view, “the coloureds who are over-concentrated in the Western Cape”, are the sons and daughters of those who waged the first anti-colonial battles against the Portuguese, the Dutch and the British when they set foot on our shores.
These “things”, which so irritate you, include many who made huge sacrifices in the struggle against apartheid, at a time when people with views like Jimmy Manyi were conspicuous by their absence from the misery of exile, the battles at the barricades and from apartheid’s jails. By the way, what did YOU do in the war, Jimmy?
I want to put it to you that these statements would make you a racist in the mould of HF Verwoerd. I want to put it to you that you have the same mind that operated under apartheid, never merely satisfied with inflicting the hurt of forced removals and the group areas act, would encamp language groups so that horrible aberrations, such as Soshanguve, were created to accommodate “non-Tswanas” in their own little encampments in greater Mabopane.
Mr Manyi, you may be black, or perhaps you aren’t, because you do not accept that label and would prefer to be “only a Xhosa”. Whatever the label you choose, I want to put it to you that your behaviour is of the worst-order racist.
I refer to you in this way because those of us who found our way into the struggle through the Black Consciousness Movement have always understood the origin of the Black Management Forum, as we have understood and supported the ANC documents that speak of “blacks in general, and Africans, in particular”. Regrettably, in your understanding the term “black” has quite a different meaning. As a consequence of your behaviour, people like me – in the ANC and in government – are being asked to explain what was in the mind of the drafters of the amendments to the Employment Equity Act.
We were present at the point of the debate of the first Employment Equity Bill; we expressed a complete comfort with the assignment of “designated groups” to include “black people” which means “Africans, Coloureds and Indians” because it served as a representation of our constitutionality and as the fruits of our struggle.
When, in your capacity as chairperson of the Employment Equity Commission, you made strange utterances that sought to carve away the basic premise of the Employment Equity Act, we should have been more vigilant.
The just and constitutionally obligated provisions for redress are not and can never be an excuse to perpetuate racism.
Now, in the light of the utterances you made when you were the DG of the Department of Labour, and given the fact that the amendments to the Employment Equity Act were drafted during your tenure, I have a sense that your racism has infiltrated the highest echelons of government.
Count me among those who, in spite of my position, will ensure that parliament acts in the letter and spirit of our constitution when it adopts amendments to the act.
I have never waged any battle from the premise of an epithet that apartheid sought to attach to me but I will do battle against the harm you seek to inflict. When I do so, it is not as a coloured but as a non-racist determined to ensure that our great movement and our constitution are not diluted through the actions of racists like you.
I have been prepared to sacrifice before for the cause of the kind of society articulated in the Freedom Charter. It is not a cause that has ended. I have simply not been called upon to make the same kind of sacrifices since 1990. I must declare my willingness to make sacrifices now in deference to the opening lines of the Freedom Charter that boldly declare that “South Africa belongs to all who live in it”.
I now know who Nelson Mandela was talking about when he said from the dock that he had fought against white domination and that he had fought against black domination.
Jimmy, he was talking about fighting against people like you.”
Breyten Breytenbach verwys hierbo weer na Leeskringe. Ek is seker hulle sal so ‘n inisiatief verwelkom. Daar moet honderde Leeskringe regoor die land wees. Die paar in Stellenbosch/Somerset-Wes waarmee ek al te doen gehad het het my onder die indruk gebring van hoe belangrik en dinamies hierdie groepe (selle!) is en kan wees. Hierdie is netwerke van ingeligte lesers; hulle lees resensies, koop boeke, bespreek dit. Hulle koop Media24 se koerante. Jammer mens kan nie op ‘n manier van hierdie se stemme ook hoor in hierdie debat nie. Dis ‘n bietjie van ‘n onsigbare maar uiters belangrike deel van die hele liter^ere sisteem. Hoe aktiveer mens hierdie netwerk?
Dit is altyd inspirerend om te sien hoe Afrikaanse skrywers onderlinge verdeeldheid opsy kan skuif & kan saamstaan wanneer dit belangrik is. Dis jammer dat dit ‘n krisis vat om dit te bewerkstellig, maar laat ons dit nie verloor nie. Kyk net hoe ver, & vinnig & wyd die gesprek in ‘n baie kort tyd gevorder het. Die ‘powers that be’ het duidelik nie met die stryd om sensuur die les geleer nie, al het die opposisie destyds ‘n ander masker gedra. Dit is belangrik dat hierdie gesprek nie momentum verloor nie.
Louis, dis darem altyd plesierig as jy ‘n man (Tim du Plessis) se eie woorde teen hom kan laat getuig!
Joan en C-P: Kom ons neem nou die voortou, stel ‘n versoek op wat vra vir die stigting van ‘n Afrikaanse Literêre Ontwikkelingsfonds, kry genoeg onderskrywers om dit geloofwaardig te maak, maak dit duidelik dat so ‘n fonds in die eerste instansie gebruik gaan word om goeie resensies en gesprekke oor boeke aan die gang te hou. Sou Leeskringe, bv., dan nie so ‘n inisiatief verwelkom nie? Maar hoe gaan ons daarby uitkom as daar nie ‘n groepering van skrywers is om so ‘n veldtog en die administrasie van ‘n fonds te hanteer nie?
Wat Solidariteit betref; ek hoor jou bekommernis, Andries. Ek is nie seker of ‘ras’ nog vir hulle ‘n gegewe of ‘n probleem is nie. En in ieder geval, interaksie met ‘n skrywersunie sal juis so ‘n gesprek oopsteek indien dit nog nodig is. (My eerste voorkeur vir affiliasie – wat seker nie noodsaaklik is nie – sou COSATU wees. Maar hoe dan gemaak met die steun vir die regerende alliansie wat dit sou impliseer?) Solidariteit is interessant: basies is hulle ‘n vakbond met werkerswortels, maar hulle oorvleuel ook ander aktiwiteite wat al hoe belangriker word – die beskerming van boere, die opheffing van mense wat in hokke krepeer, beurse vir kinders wat nie geld het om skool toe te gaan nie, kundige regshulp… En nou begin hulle selfs werk aan ‘n onafhanklike universiteit. En hulle begryp die skakel tussen maatskaplike kwessies en taal…
Charl-Pierre, ek is nie seker oor Solidariteit nie. Ek het baie respek vir die organisasie (soos van my kollegas in NUM), maar is bekommerd dat so ‘n skuif pogings om kwessies van ras te ontrafel kan belemmer. Eerder nie affiliasie nie.
Bob Dylan: “Money don’t talk, it swears.” Deesdae in korporatiewe Afrikaans!
Mag ek julle almal herinner aan die droewe geskiedenis van ons intellektuele lewe: die dood van Standpunte en die belofte van Insig. Insig sluit, ons lawaai en gaan tekere, en ons kry ‘n troosprys: Boeke-Insig. Hierom is Breytenbach se voorstel in die kol: “My derde voorstel is daarom dat ‘n Afrikaanse Literêre Ontwikkelingsfonds gestig word, geborg deur die privaatsektor en deur bydraes, om Afrikaans te bly dra.” Wat al hierdie besluitnemers oor boeke nie besef nie, is dat die effek (soos Louis Esterhuizen uitwys) ‘n impak het op die hele geestesklimaat. Maar vir diegene wat $-tekens eerder as brilglase dra, is ons rewolusie waarskynlik net ‘n irritasie.
Ek stem veral met Punt 3 saam. Maar dit bring my by my eie punt: Dat ons die privaatsektor moet nader, maak nie saak met watter omweg nie, soos byvoorbeeld ‘n ontwikkelingsfonds. En as daardie ontwikkelingsfonds daar is, kan die fonds ekstra geld beskikbaar maak vir Boekeblaaie aan die koerante.
‘n Vakbond is ‘n goeie meduim-termnyn idee, maar is wetlik minder haalbaar op die kort termyn as ‘n ontwikkelingsfonds. Ons krisis is korttermyn. Om die soeke vir fondse vir so ‘n fonds onder die vaandel (of in samewerking) met Solidariteit te doen, is ‘n blink idee. Kom ons nader Solidariteit in hierdie verband. Ja? Nee?
Vriende, kantoorprotestante, woestyngeuse, kameeldrywers, dwaalgeeste en klavierkenners:
Kom ons gaan ‘n bietjie verder. Ek wil my veroorloof om ‘n paar punte te maak waarvan julle almal baie bewus is, oftewel dan ‘n paar honde in die bos gooi.
1. Daar is nie ‘n gebrek aan lewenskrag onder Afrikaanse skrywers nie. Die verskeidenheid en kwaliteit werk wat gedoen word is nogal indrukwekkend – veral vir ‘n ‘minor language’ (in Deleuze-hulle se definisie) vir wie die staatsspene opgedroog het. Dit moet darem seker beteken dat daar nog ‘n taamlike klompie nuuskierige en oordeelkundige lesers daar buite is. Dit beteken ook dat daar nog ‘n organiese verbintenis tussen taal (‘n spesifieke taal) en eksistensiële bevraagtekening en verkenning is.
2. Afrikaans se reikwydte het gekrimp. Amptelik is sy in haar glory. Dink maar Afrikaanse departemente aan universiteite, dink staatsinstellings, dink aan die selfingenome barbaarse pragmatisme van die nouveaux riches, dink tydskrifte, dink ontleding en navorsing, dink aan die onverkwiklike bakleiery om resensieruimte en -diversiteit. Dink taal.
3. Dink veral taal. Hoeveel ruimte vir skeppende denke is daar nog in Afrikaans? (Ek praat nou nie van die ‘vryheid’ wat elke mens het om siel-alleen op sy eie mishoop te sit en dink net wat hy lus het nie.) Kan ons in Afrikaans nog met heilige onrus die onrusbarende kwessies van en rondom identiteit, geheue, geskiedenis, kreolisering, etiek, saam-mekaar-andersmaak, die stryd teen magskorrupsie… aansny? Want dis hierdie veranderingskrag wat slegs in die moedertong tot haar reg en potensiaal kan kom. Wat sou die resepsie en die impak van ‘n Johan Degenaar of ‘n Adam Small of ‘n Jan Rabie of ‘n MER vandag gewees het?
4. En dis nie die ANC se skuld nie. Daar was ‘n tyd toe baie van ons geglo het die ANC se hartsaak is om die potensiaal van taal en diversiteit en sosiale en ekonomiese geregtigheid te ontsluit. Eisj, my tjaainas… (Maar dit beteken nie dat ons die droom en die najaag van ‘n regverdiger Mzansi moet laat vaar nie.) Ons vernouing is ons eie toedoen. Óf ons krepeer/emigreer óf ons kruip onder die vaandel van “die etiek van stilte en skaamskande” en kruip weg agter die mure van ons weelderige kampongs.
5. Ons kan vergeet van die institusionele kultuurdrakrag en -ruimte van die sg. ‘Afrikaanse’ instansies en sake. Hulle gaan ons nie optel langs die pad nie. Hulle is net so gierig en winsgedrewe soos enige ander besigheid. Hulle lewe in die ‘regte wêreld’ van korrupsie en aansien en invloed en gjelt en Black Economic Entitlement. Hoekom sou ons ons in ieder geval verlaat op ‘n patriargie? Die verryking van Afrikaans as nodige ontginning van die burgerlike samelewing se potensiaal is nie vir hulle ‘n prioriteit nie. As ons nou maar Chinese kon wees… Die toekoms, sal hulle vir jou sê (wanneer dit nou gaan oor kommunikasie wat eintlik slegs bemarking van self of ander vulgariteite is), lê in die kuberruim, loop en skree nie in die strate van Tunis of Kaïro nie.
6. Ons blaf teen ‘n toe deur wanneer ons vra dat Media24 tog asseblief nog ‘n bietjie genade moet betoon vir die afvlerk Afrikaanse denk- en skepwêreld. Hulle sal vir ons verduidelik hulle het nie meer geld nie. Hulle lieg, maar niemand sal hulle daarvan kan oortuig nie want ‘n korporasie het sy eie oorlewingsinstinkte.
Nou wat dan?
Ek dink een van ons swakhede is dat ons nie saam stem dik kan maak as burgers van “die republiek van lettere” nie. (En is dit nie ‘n taalstaat nie?) So, my eerste voorstel is dat ons ‘n vakbond of ‘n unie van skrywers en ander literêre betrokkenes op die been bring. Kom ons noem dit “Solidariteit Afrikaanse Skrywersunie” en affilieer dit met die Solidariteit vakbondsbeweging. Dan kan ons ook sommer “teruggaan na die basis” toe en met die hulp van Solidariteit Helpende Hand bewus word van die haglike omstandighede waaronder mense wat deur die krake geval het en teen wie daar gediskrimineer word moet oorlewe.
My tweede voorstel is dat daar nuwe lewe geblaas moet word in ‘n joernaal (ook aanlyn) soos Tydskrif vir Letterkunde, dat so ‘n ‘kollektief’ die diversiteit van lees en resenseer kan genereer en federeer, en dat die kaleidoskopiese sienings vandaar aan Afrikaanse koerante en ander publikasies beskikbaar gemaak word. En dis verdomp nie onvermydellik dat lesers tot verdomming verdoem hoef te word nie. Die monopolistiese Media24 sal nie ruimte in hulle publikasies kan bly beskikbaar maak nie tensy ‘n ander instansie daarvoor betaal nie.
My derde voorstel is daarom dat ‘n Afrikaanse Literêre Ontwikkelingsfonds gestig word, geborg deur die privaatsektor en deur bydraes, om Afrikaans te bly dra.
Buiteblaf
Ek stem saam met Andries — dit is duidelik nie volhoubaar vir die Afrikaanse letterkunde om amper 100% op Media24 aangewese te wees nie, so dit is sekerlik belangrik om alternatiewe te ondersoek. Daar is geen logiese redes waarom M&G, Business Day of wie ook al nie van hierdie funksies kan oorneem nie. Dit sal regtig baie interessant wees om te sien of so iets moontlik is. As daar een keer ‘n week ‘n Xhosa bylae in ‘n koerant soos The Daily Dispatch kan verskyn, waarom nie ‘n maandelikse M&G Books/Boeke nie?! Dit sal lekker wees om my boeke- en kunsnuus te kry in die koerante wat ek in elk geval lees vir indiepte-nuus.
Charl-Pierre, ek skat al wat regtig sal werk is om ‘n Afrikaanse boekeblad te begin in samewerking met een van die publikasies wat ons in elk geval moet lees weens die gebrekkige aanbieding in Afrikaans. M&G of Business Day? Sal interessant wees om te sien of hulle in so iets sal belangstel. M&G skryf reeds soms heel insiggewend oor Afrikaanse boeke (en musiek ook).
PLEIDOOI VIR HULP
Beste kollegas,
Die situasie raak net verskrikliker. Ek is bevrees ek is nie oortuig deur die positiewe prentjie wat Tim geskets het nie.
Ek vra die koerante, en spesifiek vir Tim du Plessis, wat iemand is wat die hoër funksies van taal op die hart dra: Besin weer!
Die kardinale punt is die skeiding van “magte”. Daar moet verskillende Boekeredakteurs wees, wat elk verskillende resensente kan aanstel. Een Boekeredakteur wat verskeie resensente mag aanstel (AS HY OF SY LUS VOEL, as hy dink dis belangrik?)- dis geen skeding van “magte” nie. Dit is steeds toevertrouing aan ‘n enkele individu.
Belangrike boeke moet ‘n absolute minimum van vier resensies, en wenslik sewe kry – in verskillende fora. (Ek sluit nou die elektroniese forums hierby in.)
Die plan wat Tim verduidelik is gewoon NIE “checks and balances” nie. In kulturele terme vertaal daardie belangrike politieke beginsel (wat Tim tog seker ook ondersteun?) in die volgende: meervoudige punte van inset om die bes moontlike uitkoms te bewerkstellig. ‘n Ster kan nie skyn met net een hoek nie.
Die Boekeblaaie verg voltydse aanstellings. En die aanstellings moet kundige mense wees wat weet watter resensente om te nader vir watter boeke. Die wegkalwing van die hoër funksionering in die nasionale en die taalgroep-psige moet gekeer word. Die uitkringende effek daarvan sal nag wees, en nogmaals nag. Die behoud van Boekeblaaie is een so ‘n front wat beskerm moet word. Vandag, nie more nie.
Die oplossing kan wees in fondse wat verkry word uit die private sektor wat die bestaande boekeblaaie nie slegs in stand hou nie, maar in hul oorspronklike vorm laat uitbrei.
Die reëling moet so getref word dat dit nie die joernlistieke integritiet van die koerante skaad nie. Dit behoort nie te moeilik te wees nie? Punt is: Ons het hier te doen met ‘n kulturele funksie wat nie slegs aan die joernalistiek behoort nie, maar daaraan toevertrou is.
‘n Pleidooi aan die privaatsektor, onderteken deur skrywers, moet van stapel gestuur word. Ons moet vra vir partye wat bereid is om te help. Ons moet sorg dat die pleidooi by hul “voordeure” afgelewer word. Daardie partye moet dan aanklop by die koerante, namens ons, sodat die koerante nie meer ‘n tekort aan fondse kan pleit nie; iets wat wel waar is).
Kan dit, Breyten? Hoe lyk dit, Louis? Charles Malan? Gerrit? Joan Hambidge? Ek voel dat Gerrit die regte persoon sal wees om die bewoording te doen. En laat die pleidooi dan met al wat Afrikaanse skrywer is, se handtekening op uitgaan.
Maar die idee moet eers breër goedkeuring geniet (onder julle) voor dit ‘n opsie kan wees.
Wat ek werklik hier mis, is die teenwoordigheid van ‘n stem wat nie regstreeks met die letterkunde gemoeid is nie, maar wat die onmisbaarheid van Boekeblaaie as burgerlike funksie bekragtig, iemand van “buite”. Iemand soos Roda Kadalie (om een voorbeeld te noem). Selfs iemand soos Helen Zille.
Waaronder word die Boekblad deesdae gesorteer? Onder “Ontspanning”! Dis die eerste fout! ‘n Onmisbare funksie is nie blote ontspanning nie.
Laat ons nou inspring en werk maak vir al wat ons kan; en dit nie slegs oorlaat aan die koerante nie. Soos ek in my skrywe op Litnet geargumenteer het, hierdie is in die eerste plek ‘n funksie van die burgerlike samelewing, nie die joernalistiek nie; dit is een van enige burgerlike samelewing se kroonjuwele. Daarom is dit ons verantwoordelikheid, of die koerante nou rede insien of nie. Ek help graag waar ek kan.
Charl-Pierre Naude
Persoonlik bring ek al hoe meer tyd op http://www.goodreads.com deur – en daar vind ‘n mens nie noodwending Afrikaanse boeke nie omdat dit ‘n Amerikaanse webwerf is! My punt is egter, indien die Afrikaanse media (hier in SA) nie meer doen omtrent Afrikaanse letterkunde nie, is dit waartoe meer en meer lesers hulle gaan wend – afgewaterde webwerwe waar ‘n mens moet SOEK voordat jy ‘n ordentlike resensie van enige boek kan kry.
Die probleem is natuurlik dat koerantredakteurs soos Tim du Plessis verantwoording moet doen aan Media24-direksielede wat waarskynlik meer op hoogte is met die finansiële state van hul onderskeie publikasies as die inhoud daarvan.