In ‘n tyd waarin literêre tydskrifte ‘n desperate stryd om oorlewing voer, (was daar ooit ‘n tyd toe dit nié die geval was nie, wonder ek meteens) staan die Vlaams-Nederlandse poësietydskrif Het Liegend Konijn sekerlik as uitsondering. Jozef Deleu, redakteur en selwers digter, het dié tydskrif, wat sesmaandeliks verskyn, in 2003 tot stand gebring met as enigste oogmerk ‘lezers in verwondering te brengen en hun nieuwsgierigheid op te wekken, precies zoals het konijn overkomt in het gelijknamige verhaaltje van Paul van Ostaijen waar het tijdschrift naar is vernoemd.‘
En steeds met die 29ste uitgawe wat pas verskyn het, is dit die geval. Volgens De Papieren Man: “Bij het eerste nummer van alweer de negende jaargang blijkt dat nog altijd een goed uitgangspunt. Het liegend konijn ziet er niet alleen prachtig uit, gedrukt op een zware kwaliteit papier en met een mooie opmaak, maar brengt, anders dan de meeste literaire tijdschriften, poëzie in pure, onverdunde vorm.”
Hierdie uitgawe beslaan 260 bladsye en bevat meer as 200 gedigte deur gevestigde, sowel as ontluikende digters. Onder die gevestigdes is daar name soos Pieter Boskma, Luuk Gruwez, Gerrit Komrij en Charlotte Mutsaers. Volgens De Papieren Man se beriggewer vorm die siklus van Willem van Zadelhoff (1958) ‘n besonderse hoogtepunt: “Heden en verleden, leven en dood, woorden op papier en het lichaam dat ze beschrijven: dat alles loopt door elkaar, wanneer de dichter zich een gestorven dierbare herinnert:”
en van geen vergeten willen weten desondanks
blind en doof voor alle tekens geen vogels aan de hemel
alleen haar verhaal in laat avondlicht fluisterend
en wetend dat onze jaren nooit de hare waren
Nog ‘n interessante verwysing is dié na Wesley Albstmeyer (1979), ‘n Nederlandstalige digter wat in Kaapstad gebore is. “Albstmeyer schrijft een gedicht dat letterlijk over ‘grenzen’ gaat, en zo ook heet. De dichter stelt zich voor een landschap te zijn met zachte grenzen die ongenaakbaar lijken/maar vloeibaar en zijdeachtig blijken / als je ze overschrijdt / die je vrees met terugwerkende kracht/belachelijk maken.” Iets wat natuurlik ook verband hou met die uitspraak wat Jozef Deleu in sy redaksionele oorsig maak: “De grenzeloosheid van poëzie vormt haar kracht en haar mysterie, ook al denken we soms daaraan te kunnen ontsnappen.”
Inderdaad. En ‘n mens kan nie anders as om saam met De Papieren Man se beriggewer hande te klap vir ‘n uitmuntende prestasie nie: “Meerstemmigheid is het handelsmerk van het Konijn. Deleu laat zich bij zijn keuze leiden door zijn eigen gevoel, en dat werkt. Hoewel onmogelijk alles van je gading kan zijn, valt op dat er niks bij zit dat stijlloos is of zonder originaliteit. Het liegend konijn is een tijdschrift om te koesteren.”
Maar alvorens jy té mismoedig raak oor die gewaande onhaalbaarheid van ‘n soortgelyke inisiatief hier ter lande: Is dit nie presies dít wat die jaarlikse publikasie van die Versindaba-feesbundel bied in soverre dit gedigte van bykans ál die digters wat in daardie bepaalde jaar gepubliseer het, byeenbring nie? So – indien jy nog nie Versindaba 2010 onder oë gehad het nie, moet jy beslis ‘n plan maak. Bernard Odendaal stel dit byvoorbeeld soos volg in sy resensie van dié bloemlesing: “‘n Mens neem dus met ‘n vleugie trots en ‘n skeutjie dankbaarheid ‘n publikasie soos Versindaba 2010 ter hand. Agtien digters, wat almal by vanjaar se indaba op Stellenbosch opgetree het, is met een of twee gedigte daarin verteenwoordig. Dit beteken dat meer as ‘n honderd digters nou in die ses jaar van die bestaan van dié poësiefees daaraan deelgeneem het, ongeveer almal wat tans as digters aktief is in die Afrikaanse literêre veld.”
En dít, liewe leser, is eweneens geen geringe prestasie nie.
Dit gaan immers goed met die digkuns wêreldwyd. Of wat praat ek nou?!
***
Vanoggend is daar twee nuwe bydraes om aan te kondig. Pieter Odendaal vertel van sy familie-belewenis tydens Familiedag verlede week, terwyl Andries Bezuidenhout dit weer het oor die Natte se argitektoniese visie (of gebrek daaraan).
Lekker lees en geniet die week wat uiteindelik op hande is.
Mooi bly
LE