Waterblommetjies
Onder my gehekelde kombersie skuil ek in ‘n hoekie op die houtdek
besig om klein jong strandertjies wat ek vanoggend geoes het
af te dop vir ‘n middagslaai van roket en soet tamatietjie, olyfolie
en balsamiese asyn. hoër op met die steil wal van die rivier groei
wilde vinkel en frambose. kookboeke en veldgidse oor eetbare plante
wag jare reeds in stilte tussen geskrifte oor skulpe, seevoëls, fynbos
proteas en die sterre. my eerste kennismaking met artisjokharte
knolseldery met rémoulade sous, Weisswurst en prosciutto, pissoins
glasies Veuve Clicqout Ponsardin by kafees in boomryke
boulevards, die gebombardeerde strate van Berlyn, flamenco dansers
in Buonos Aires, die wolf in haar Romeinse hok op Michealangelo
se heuwel. die groot post-apartheid kulturele avontuur, intellektueel
sensueel, opwindend soos noedels wat Marco Polo van sy reis na Sjina
na Venesië gebring het. ek klap verbeeldingryke melksnysels
tussen gemeelde vingerpunte, skuur die kastrol blink en loop
in die wind wat sy hand uitsteek om die pad na die ewigheid te beduie
hoe kan mens sonder wrok leef in ‘n wêreld deurtrek met onreg en geweld
of leef sonder geluk in ‘n landskap oorlaai met fisantgeluide teen sononder.
© Melanie Grobler. Mei 2011