Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
17 June 2011

die lekkerste perske is ‘n vy

Anne-Ghrett Erasmus. 2011. die lekkerste perske is ‘n vy. Helderview: Benedic Boeke. ISBN 978-0-9814408-5-9

 

Resensent: Heilna du Plooy

die lekkerste perske is 'n vy
die lekkerste perske is

Volgens die postmodernistiese denke is ‘n hiërargiese onderskeid tussen verskillende soorte literatuur ongeldig. Populêre romans en ernstige meer filosofies georiënteerde verhalende tekste wat dikwels ook eksperimenteel met taal en tegniek omgaan, staan volgens hierdie denke teoreties op dieselfde vlak van belangrikheid. En poësie is dan altyd poësie, ongeag die estetiese kompleksiteit of die mate van tegniese vaardigheid en subtiliteit wat in die gedigte voorkom.

Maar terwyl daar inderdaad vir alles ‘n plek is onder die son, is alles wat geskryf word vir baie lesers nie dieselfde in aard of gehalte nie. Daar is die bietjie gesonde verstand wat die teoretisering relativeer en wat wel lei tot nadenke oor waar en hoe bepaalde tekste in die huis van die literatuur inpas.  

Op die agterblad van Anne-Ghrett Erasmus se debuutbundel word die woord “vriendelik” tweekeer gebruik. Die digter word “die vriendelike digter” genoem en die begin van die bundel word beskryf as “‘n vriendelike uitnodiging”. En dit is dan ook so dat die bundel as geheel ‘n “vriendelike” indruk maak.

“die lekkerste perske is ‘n vy” bevat ligte verse oor verskillende aspekte van die lewe van ‘n taalsensitiewe mens. In nege kort afdelings word die gedigte in die bundel saamgegroepeer rondom temas of onderwerpe. Daar is ‘n afdeling oor skryf en die ontdekking van die vermoëns van die woord as poëtiese instrument en dan volg gedigte waarin natuurindrukke van die gewone omgewing weergegee word (eintlik impressies soos in die impressionisme). Daar is ‘n groepie gedigte oor religieë, oor vriendskap en vriende, oor seerkry en ontnugtering, maar ook oor die durende aard van liefde, aspekte van moederskap en seks, die vrees vir en verwerking van siekte, smart en die aanwesigheid van die dood.

Die gedigte toon min onderlinge samehang en is dus ‘n verslag van die verskeidenheid dinge wat ‘n lewe vul of eintlik ‘n lewe uitmaak. Dit bly dan ook ten spyte van ‘n bepaalde woordvirtuositeit losstaande stellings. Daar is duidelik ‘n literêre verwysingsveld waaruit die digter put, soos blyk uit die verwysings na Van Wyk Louw, Breytenbach, Jan (Jan Rabie?), Lindenbergh en Cloete. Daar word ook met duidelik vertroude kennis na skilderye en die praktyk van skilder verwys sodat die gedigte in die wyer wêreld van die kunste asemhaal.

Tegnies vloei die tekste glad, maar dit is asof daar ‘n metaforiese noodwendigheid en oorspronklikheid ontbreek en dat soms van oorbekende verbande gebruik gemaak word (byvoorbeeld, die herfs as tyd van besinning, wyn en seerkry, liefde en asyn, vissershuisies en die dorpshotel vir armoede en voorspoed, ens.). Dit is ook asof die poëtiese middele wat tot die beskikking van die digter is, nie genoeg ontgin word nie, asof dit onderbenut bly.

Erasmus skryf hier maklik verstaanbare verse, sag op die oor en die oog en waarskynlik vir ‘n bepaalde lesersgroep maklik om mee te identifiseer. Die gebrek aan dieperliggende binding in die verse en metafore wat soms onoortuigende oorgange of groot spronge teweegbring, asook die wisseling van byna naturalistiese verse ( “Oorryptyd” en “Pielieman”) tot verse wat eintlik ‘n bietjie sentimenteel is (“Lente”, “Kardoes” en “Diva”), val mens op. In die poësie is niks sekerlik verkeerd nie, maar die ervare poësieleser soek wel ‘n groter samehangende beweging of onderliggende gedagtegang in ‘n bundel, al handel die gedigte oor baie verskillende en selfs uiteenlopende onderwerpe. Hier is daardie deurlopende lyn bloot die uitbeelding van ‘n bewonderenswaardige vermoë om voluit te lewe, maar die vraag kom na vore, wat die toegif of meerwaarde is wat bewerkstellig word deur die feit dat dit gaan om die poësie, dat die poësie gekies is as medium van uitbeelding. Die gewaarwording dat die gedigte nie veel meer is as die belewenis van die digter as sodanig nie, wil nie wyk nie. Die vraag wat gevra kan word, is seker “Hoef gedigte meer te doen?”

Daar is ongetwyfeld ‘n plek vir ligter toeganklike poësie, waarmee mense kan identifiseer, soos wat ook met verhalende tekste die geval is. Maar daar is ook ander soorte poësie.

 

Junie 2011

 

 

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Onderhoud met Anne-Ghrett Erasmus
Resensie: Insektarium (Johann Lodewyk Marais) →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. verskille
  • Anne-Marie Bartie. vlinderslag
  • Hendrik J. Botha. Teen sononder
  • Anne-Marie Bartie. bewys van betaling
  • Marius Crous. Twee mombakkiesliedjies

Nuutste bydraes

  • Koos de Wet. vóór die smelting
  • Digtersprofiel: Gert Vlok Nel
  • Meyer van Rensburg. Spieëlkamer
  • Margaret Cordier-Biermann. Verlossing
  • Wynand J Booysen. koue afgrond

Nuutste kommentaar

  1. Miel Vanstreels on Miel Vanstreels. Voorlopig1 August 2026

    Dankie, Marieta

  2. Conrad on Hans du Plessis. Psalm 121 (Stemgreep)30 July 2026

    Goeie middag ek is n koorleier van die VGK Kerk Kraaifontein en is op soek na die SATB Blad musiek…

  3. Marieta McGrath on Miel Vanstreels. Voorlopig30 July 2026

    Stout gedig! Baie snaaks!

  4. Bernie on Rainer Maria Rilke. Almal wat Jou soek, beproef Jou (vert.)29 July 2026

    Kan die vertaler dalk verduidelik waarom hy hoofletters gebruik in sy vertaling terwyl Rilke kleinletters gebruik.

  5. Bernard Odendaal on Daniel Hugo. Plaagbeheer28 July 2026

    Ja, hoe beheer ‘n mens die plaag waarvan in die slotreël gewag gemaak word …?

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d