My Bybel
‘n Geparste blom
stingel langs die woorde
ek het jou by die naam geroep;
‘n Sondagskoolboekmerk
vou by louheid as ‘n sonde oop,
en ‘n hart van sywurm-sy
wys die weg ritselend na Eden aan.
Onderstrepings met ‘n balpuntpen
rig my jong geloofslewe
in hierdie geskenk van my ouers.
In my middeljare verloor ek my geloof,
verwerp hulle Bybel en veral hulle waardes,
ontdek die hel is beslis ander mense,
die lewe ‘n absurde, hier-en-nou.
Voetjie-vir-voetjie word jy on-gelowig,
agnosties, skepties…:
‘n andersoortige Bybel, die Bardo Todol,
word ‘n meetsnoer toe die lewe
nie in lieflike plekke vir my val.
Vanoggend gaan die cadeau oop
by ‘n ander openbaring:
woorde, soos geloof,
nie meer ‘n Toring van Babel.
© Joan Hambidge. Junie 2011

Baie dankie Joan
‘My Bybel’ is ‘n baie aangrypende en ontroerende gedig.
Die skade wat berokken is aan brose menslike liefdevolle wesens se psiges… die absolute wreedhede… dit oorswelg die goeie werk en naastediens van die religie by verre.
Steeds is daar die spirituele… die bewustheid van die wonder van lewe… die siel wat miskien kan terugkeer, of vertrek… waarnatoe ookal in die heelal dalk.
Groete
Annora
Die Woord en die woord … Ek hou van die mooi suggestie in die slot.
Enel – don’t give up your day job.
Nee wat!
Ek neem aan, Hennie, jy skryf vanaf anderkant die graf. Slegs sulkes soos jy weet tog hoe lank ‘n lewe is. Vertel ons meer.
Ek het ‘n driekwart lewe lank ook vas geglo aan ‘n “god” wat op ‘n berg afgeklim het en met “sy” vinger tien wette op ‘n klip ingekrap het, maar selfs my beperkte intellek kon van heel kleins af nie die een van “die vrou uit ‘n man se rib” afgesluk kry nie.
Tot ek hier teen die einde sou weet, ons kan uiteindelik slegs seker wees dat ons twyfel. Dalk was Van Wyk Louw reg met: “Ons kan U nie ken nie, slegs vermoed.”
🙂
Van heinde en verre
kyk mense na die sterre
Om hul toekoms te probeer voorspel,
En dan vir mekaar te sê, ‘wel, wel!’
Hulle soek geluk,
Maar gaan onder ongeluk gebuk
En wil dan skielik weet,
hoekom is God so wreed.
Maar hulle vergeet gou
As dit goed gaan vir nou
Wat God egter gesê het
Kort na Hy die wêreld vas gelê het.
Die mens het gesondig
Want sy vooruitsig was kortstondig
Bedrieglik is die hart bo alle dinge
Maar nou wys die mens die vinger.
Daar was `n definitiewe keuse
Want die mens het mos gesê: ‘Ek’s my eie goddelike wese’
Toe doen hy net wat hy wil,
Maar dit maak toe `n drastiese verskil.
Dood, geweld en baie wreedheid
Raak toe in die wêreld `n werklikheid
Die goeies was kort-kort in die verleentheid
En God sê toe, ‘hierdie klomp moet hier uit!’
Hy stuur toe verwoesting oor al wat lewe
Behalwe die wat veilig na die Ark strewe
Vir sewe dae het die deur nog oop gestaan
Vir enige een wat sou bely en ingaan.
Maar die mense het die regverdige gespot en uitgelag
Tipies soos die godloënaars van vandag
Hul sê hierdie godsdienstiges is so klip dom,
Maar o wee, die oordeel kom.
Die som van die saak is so eenvoudig soos dit:
Die mens het homself in hierdie gemors gesit
Die gelowige kan juig, want sy verslossing is naby
Maar die ongelowige ontken hierdie feite albei!
(My eie gedig)
Uit ‘n oosterse perspektief is die weste vol mistiek;
Gode wat op water loop en maagdelik
Geboorte gee ‘n slang in die paradys
Wat die naakte twee moer toe stuur
Gode vet soos die Boeddha
Wit bebaard wat deur die lug kan vlieg
Al die diere in paartjies op ‘n boot oorleef
‘n Apokaliptiese tsunami. Oprah is ‘n god,
Dr Phil is die guru wat verkondig;
“Werk dit vir jou?” as my Roomse vrou
‘n Kersie brand by haar klein altaar
Raak al die spoke wat my so pla
Heel bedaard.
Al wat ek vra wanneer mense sulke dinge skryf, is net hoekom? Ek het persoonlik gevind dat baie vraagtekens wat rondom die Bybel geplaas word, eintlik maar die recycling van eeue oue skepticisme is wat baiekeer al lankal beantwoord is. Alhoewel ek besef dat daar Christene is wat soms glad nie reg maak nie, dink ek dis nog steed meer sinvol om te leef met die wete dat die mens darem meer is as `n sak molekules wat deur blinde en doellose prosesse ontstaan het. En die Oosterse mistiek doen dit net nie vir my nie. Ook nie Islam, of die Rooms-Katolieke nie. Net `n gedagte 😉
Groetnis,E
Het jou gedig baie geniet! Die hele reis meegemaak in jou gedig en eie lewe