Meditasie, Agon
Op ‘n Sondagoggend, hoe anders, met U eie keuse,
tobbend oor die veelvlakkigheid van die psige,
lees ek Harold Bloom oor twee bindende nihilismes:
die ware gedig se verhouding tot die leser se pneuma.
Die sublieme leser waarsonder helaas geen gedig.
Wat oorbly naas die aaklige lewe, aldus Emerson,
is ‘n vonk ónder die toevouende, heelmakende psige.
En die begrypende leser word dan een met ‘n revelasie,
‘n Gnostiese proses, word meegevoer, herskep die vers.
Verhewe Wallace Stevens in “The Sail of Ulysses” herdig
die eenwording van die wêreld en ons lot of fata:
“The inner direction on which we depend”…
Op ‘n Sondagoggend wat soetjies oorgaan in ‘n middag,
beleef ek hierdie waarheid wat buite woorde lê.
Die digter, soos die leser, sprokkel in dié transisie.
© Joan Hambidge. 2012