Desmond Painter. Droedeldig: Die Keiser is Kaal – Emperors Palace, September 2011
1.
Sy parkeer die huurmotor laatmiddag voor die hotel.
Sy boek in, haal haar ringe af, vanuit haar kamer bel
sy hom. Om 20h00 ontmoet hulle in die Ocean Basket,
streng volgens die reëls wat sy self gemaak het.
2.
Sy vind dit altyd ongemaklik om voor die tyd te pis
terwyl hy op die bed lê en wag. Sy sorg dat dit porselein is
wat sy tref, nie water nie. Wanneer sy geluidloos uitloop
lê hy en glimlag, asof van sy eie naaktheid onbewus.
3.
Haar hotelkamer: dit is waar hulle eindig, vanself-
sprekend. Die TV bly aan, hulle doen dit op haar helf-
te van die bed. Dit duur nie lank nie. Hy trek
aan, is terug in sy kamer skuins na elf.
4.
Laatnag gaan try hy weer sy luck in die lobby bar.
Hy bestel ʼn whisky, sit ʼn rukkie, sien niemand daar
nie. Hy loop buitentoe, gaan rook op die parkeerterrein.
ʼn Week soos ʼn country song, vyf dae en ʼn refrein.
5.
Hy moet vlieg, hulle sal mekaar nie sommer
weer sien nie. Hy wis hulle sms’e, haar nommer
van sy foon. Te lank reeds het hy hier gesloer.
Hy los die handdoeke ongeërgd op die vloer.
Dit is veel meer as droedels dié, Desmond. Dit is poësie.
En baie geluk met jou verjaardag!
Daniel, baie dankie — vir die vriendelike kommentaar en vir die verjaardagwense. Dis deels agv jou amper daaglikse kwatryne op Facebook dat ek die wêreld op die oomblik knaend in vier reëls sien. Ek het ook Johann de Lange se nuwe bundel kwatryne aangeskaf en tot my groot genot Aucamp se lieflike Die Blou Uur op my boekrak herontdek. Dis kwatryntyd in die Boland.
Nou moet jy nog ook R.K. Belcher se volkskwatryne nadertrek.
Ek besit om een of ander rede geen van Belcher se bundels nie. Sal Maandag bietjie na ‘n sekere Stellenbosse boekwinkel toe drentel en gaan kyk of dit op die rak is…
Happy hunting!
Gekry, Desmond?
Ek stem saam met jou, Daniel. Dis poësie met ‘n country twang dié. Ek dink Desmond Droedelaire moet begin sif en uitsoek vir ‘n manuskrip.
Daniel: reggekom, dankie! En Danie: ook dankie; maar jy gaan lank wag as jy wag vir enigiets beter as ‘n blog!