Desmond Painter. Droedelaire!

Die laaste drie dae het ek deurgebring by die jaarlikse kongres van die Psychological Society of South Africa (ek het al vantevore verwys na die akademiese stam aan wie ek teen wil en dank behoort, die sielkudde, die sielskunniges, die kopbekruipers, die bewussynsswyne, die gedragsmasjiniste, die bitterweters…).

Erger nog, die kongres was nie by ‘n universiteit aangebied nie, maar by Emperors Palace net langs die Johannesburg Internasionale Lughawe. So tussen die casino (Richmond Fontaine se wonderlike song, “Casino”, het meermale deur my kop gedraai…) en die food court met die vreemde plafon vol prente van wolke en beligting wat dit laat lyk of dit altyd skemer is (ons het een aand by die Ocean Basket gaan eet, en jou wrintie, die eerste ding wat die kelner ons vra is: “Do you want a table inside or outside?”).

Maar laat ek julle nie verveel met werkspraatjies nie. Terwyl ek so sit en luister na die een referaat na die ander, droedel ek maar in die komplimentêre notaboekies met die komplimentêre penne wat in al die lesingsale uitgedeel word. Ek skryf neer wat ook al by my opkom, en dan probeer ek die gedagtes voor afloop van die sessie in ‘n digterlike vorm indwing.

Ek het vanaand na afloop van die kongres deur my boekies geblaai, en tussen al die gedagtes en enkelsinne darem vyf kwatryne gevind wat al so half en half konsepstadium bereik het. Terloops, ek het tuisgegaan in een van die hotelle binne die Emperors Palace kompleks, wat nogal ‘n neerdrukkende ervaring was. ‘n Dooie ruimte. Iets van die vervreemdende, deels beklemmende, deels bevrydende aspek van hotelle en hotelkamers (onthou julle Stef Bos se lieflike song, “Hilton, Barcelona”?) het in die droedels neerslag gevind, lyk dit my.

En na drie dae in ‘n casino kan ek netsowel maar met ‘n paar kwatryne dobbel, so hier is hulle — en kom ons noem hulle vir nou sommer “Vyf Hotelkwatryne”

*

1.

Koffie te maak. Die oggend haar gang

te laat gaan. Te luister na die veraf sang

van die strate. Te droom, te word, prys te gee

al wat die oggend van jou verlang.

2.

gisteraand se gawes staan verleë

wanneer sy die deur agter haar toeklap

wanneer sy straataf stap

wanneer die oggend meegee

3.

hy sit na homself en staar

in die hotelkamer se spieël

staan eers op wanneer hy haar

in die hotelkamer se bed verbeel

4.

die vergifnis van kortstondigheid

of die warmte van geleende tyd

wie weet wie sy gister was

‘n hotelkamer hou jou anders vas

5.

‘n Hotelontbyt, net vlugtig die koerant

voor ek loop. Ons is nêrens nuus nie, want

laasnag in daardie rookvrye kamer

het ons ongemerk uitgebrand.

Bookmark and Share

15 Kommentare op “Desmond Painter. Droedelaire!”

  1. Andries Bezuidenhout :

    Desmond, vreemd hoe dinge werk. “Hilton, Barcelona” speel juis vanoggend in Irma se kar op pad werk toe. Ek hou baie van jou hoteldroedels. Ek het altyd gewonder wat sielkundiges by hulle kongresse doen. (Kopano Ratele was by ons s’n en hy s^ sielkundiges dans nie by hulle kongresse nie. Ek verstaan nou beter hoekom nie!) Wanneer kom die boek? En wanneer kom jy kuier? As ons nou berge en profete moet rondskuif, kan ek noem dat ons die naweek van die Versindaba in die Kolonie is, so dalk kan ons ‘n plan maak.

  2. Desmond :

    Andries, ons akademiese kongresse is seker soos julle s’n (behalwe vir die dans), maar PsySSA is deels ‘n professionele kongres, soos dis maar ‘n vreemde storie…

    Einste Kopano was daar, en ek het vir hom ges^e ons moet iets doen oor Anton Kannemeyer se Pappa in Afrika. Wil jy deelneem? Dan vra ons Danie en ‘n paar ander ook, en doen ‘n simposium iewers, dalk in Stellenbosch.

    Ek is tans in Pretoria, maar ek werk saam met kollegas aan ‘n boek, so ek gaan nie wegkom vir ‘n kuier nie. Ons is bietjie agter met ons werk… Ek is hier op Muckleneuk, ek kyk uit oor Sunnyside. Maar ja, kom ons ontmoet by Versindaba as jy tyd het!

  3. Breyten Breytenbach :

    Desmond – die spleen van hierdie droedels…! (Lieflike vonds – ‘droedels’. jy moet dit oorweeg om jou bundel “Wysies en ander wyshede uit my droedelsak” te noem.) Kongresse is mos ‘n voorspel tot die vagevuur. Tot en met die verydeling toe. ‘n Nederlandse uitgewer vertel my hoe hy onlangs tydens ‘n kongres in Beijing laatnag in die hotelgang deur ‘n Turkse agent (darem van die literêre soort) bespring is. Gelukkig (of ongelukkig…) het twee Chinese hotelwagte wat die ontluikende ekstase Grootbroederlik op kringtelevisie dopgehou het hom net betyds kom red van sy Dominique Straus-Kahn moment. Hy is nou nog jammer.

    Dis mooi dinge wat jy skryf.

  4. Desmond :

    Breyten – dankie! Die titel wat jy voorstel is mooi: dit moet verkieslik so ‘n uitgesponne, slingerende, rammelkas van ‘n bundel benoem, nie te perfek afgewerk en “deurgekomponeer” nie. Ek hou van bundels wat soos ‘n gunsteling paar denims is — so ‘n klein bietjie uitgebleik al, ‘n bietjie uitgerafel om die some, met een of twee plekke waar die materiaal al dun word. Soms klink dit vir my (in ons kritiek) asof bundels benader word soos gimnastiekkompetisies: die verwagting is tegniese perfeksie, en enige voos plekkies word gepenaliseer. Ek dink mens moet ‘n bundel (om by die sportmetafoor te hou) eerder lees soos jy ‘n lang krieketwedstryd sou benader: ‘n bietjie geduld is soms nodig, want die geheel is groter as die som van die dele; die ops en afs, die ritmes en momentums, die oomblikke van sprankel en die stukkies verveling, is alles deel van die spel. Die briljante oomblikke kan nie sonder die res bestaan nie. Improvisasie ontstaan juis in ‘n soort spanningsverhouding met verveling (is dit nie Walter Benjamin wat verveling ‘n voorvereiste vir narratiewe kuns genoem het nie?), en die spontaniteit daarvan word verdoesel deur na die tyd te maak asof alles die produk van beplanning en ontwerp was.

  5. Breyten Breytenbach :

    Desmond – so ‘n bek (verskoon die platvloersheid) moet sommer ‘n hele bottel van die beste appelkoosjêm uit Montagu kry! Ek is dit so ‘n 200% met jou eens. Hierdie benadering behoort as groot plakaat teen die deure van die ivoortorings gespyker te word. Want wat is ‘n (lees)ervaring tog sonder tekstuur? En hoe gaan daardie “briljante oomblikke” daar wees sonder die oënskynlike onsekerhede? Lank lewe die twyfel en die ondeursigtighede! Ek het altyd vir die studente probeer verduidelik dat skryf soos sokker speel is: daar is die lang periodes van blykbaar doellose geheen-en-weer beweeg en skop as noodsaaklike aanloop tot en konteks vir die opeense toeslaan (wat opportunisties mag wees). Doen dit!

  6. Desmond :

    Breyten, ek gaan my appelkoosjêm alleen moet eet, want niemand wil saam met ons kom balle skop nie! Waar’s die mense? Daar’s seker gimnastiek op TV of iets.

  7. Marlise :

    Ja, Desmond, ek stem ook saam met jou benadering. En jou droedel(c)laire is vir my baie mooi. Hoe lank, Desmond, wil jy dan nog doelloos rondskop? Dis tyd dat jy ‘n geskriffie uitgee voordat die wedstryd verby is …

  8. Desmond Painter :

    Marlise, mens gee ‘n eerste bundel of uit wanneer jy jonger as 28 is, of ouer as 42. Ek is 36: g’n mens wil ‘n 36-jarige se debuut lees nie. Ek sal op 43 oorweeg om die droedelsak leeg te maak!

  9. Andries Bezuidenhout :

    Desmond, jy’s reg: Tydsberekening is alles. My gewroeg oor skuld het gekom toe almal reeds te histeries en woedend was om meer skuldig te voel. Die publikasieproses hinkepink stadiger as die geskiedenis. Went down like a lead Zeppelin. Oorweeg net dat die uitgewers dalk reeds genasionaliseer gaan wees teen die tyd dat jy by jaar 43 inklok 🙂

  10. Desmond :

    Andries, in hierdie era van malse kommersialisering en wat nog alles is die nasionalisering van uitgewers dalk die droedelaires se laaste kans!! (Net soos die flaneurs nie meer kan bekostig om hulle neuse vir die malls op te trek nie ..) Behalwe as ons dalk resepte en dagstukkies naas die gedigte insluit.

  11. Andries Bezuidenhout :

    Ja, wel, die dagstukkies het ek reeds gedoen, so wat bly vir my oor? Dalk moet ek begin sing!

  12. Andries Bezuidenhout :

    Ek het juis hierdie idee vir ‘n treffer. Iets soos “Da Idi Skarumba Rooi Rokkie Amin Bokkie Baby De la Rey Tjoklits.” Dit MOET verkoop!

  13. Desmond Painter :

    Andries daai song van jou gaan beslis op Vol 43 van Die Kookwater Klubhuis se Langarm Sokkie Danstreffers Met Ekstra Woema!! verskyn.

  14. Andries Bezuidenhout :

    Ja. Dan tree ek in Jacobsbaai af. Om my vriend Piet Planter aan te haal: “Die toekoms in John Deere-groen.” En as my geld opraak, maak ek ‘n comeback met ‘n gospel plaat.

  15. Desmond Painter :

    Goeie idee. Noem jou comeback album “Die Wederkoms”. Sit so drie Engelse praise en worship nommertjies ook op, en sing Stille Nag in Zoeloe. Dressed for success.

  •