Louis Esterhuizen. Tomas Tranströmer wen die Nobelprys vir Letterkunde

Uiteindelik het die Sweedse Akademie hul  legendariese skroomvalligheid oorkom en vir die eerste keer sedert Wislawa Szymborska se bekroning in 1996, nie net ‘n digter met die Nobelprys vir Letterkunde bekroon nie, maar boonop iemand uit eie geledere, naamlik die Sweedse digter Tomas Tranströmer:  “because, through his condensed, transluscent images, he gives us fresh access to reality”. (Aldus die persverklaring na afloop van die aankodiging vroeër vandag.)

Verlede jaar was die 80-jarige Tranströmer ‘n volslae gunsteling vir dié prys; iets waaroor ek hoeka in ‘n Nuuswekker op 1 Oktober berig het. Volgens die professionele wed-agentskap Ladbrokes was hy ‘n vanselfsprekende gunsteling onder die wedders: “”Tomas Tranströmer must surely be in pole position. He’s long been mentioned for the prize and we feel his work finally deserves this recognition. However, even though we employ a crack team of Nobel specialists, there are always guys out there who know more than us and we’ve always found it tough to make money on it. Professors show no hesitation in showing us up if they think we’ve priced it wrong.”

Maar nou ja, soos ons weet het die prys toe na Mario Vargas Llosa gegaan.

Vanjaar was Tranströmer wéér onder die gunstelinge (saam met die Siriese digter Adonis) en is hy welverdiend pas aangewys as die Nobel laureate vir 2011. Wat ‘n prestasie! Wat ‘n digter!

Vir jou leesplesier plaas ek een van sy gedigte hieronder. Besoek gerus sy persoonlike webtuiste vir nog verse. Ook kan jy by The Guardian die resensie oor Tranströmer se versamelde gedigte te lese kry.

***

The Couple

 

They switch off the light and its white shade

glimmers for a moment before dissolving

like a tablet in a glass of darkness. Then up.

The hotel walls rise into the black sky.

The movements of love have settled, and they sleep

but their most secret thoughts meet as when

two colours meet and flow into each other

on the wet paper of a schoolboy’s painting.

It is dark and silent. But the town has pulled closer

tonight. With quenched windows. The houses have approached.

They stand close up in a throng, waiting,

a crowd whose faces have no expressions.

 

© Tomas Tranströmer (Vertaling deur Robert Bly)

 

Bookmark and Share

24 Kommentare op “Louis Esterhuizen. Tomas Tranströmer wen die Nobelprys vir Letterkunde”

  1. Desmond Painter :

    Mooi. ‘n Hotelkamergedig. I approve! Ook bly ‘n digter het ‘n slag met die louere weggeloop.

  2. Louis :

    Desmond, toevallig het die NRC Handelsblad dieselfde gedig gekies vir hul berig oor Transtromer se bekroning. Die vertaling (deur Jan Bernlef) volg hieronder. Die volledige berig kan gelees word by: http://www.nrc.nl/boeken/2011/10/06/zweedse-dichter-tomas-transtromer-wint-nobelprijs-voor-de-literatuur/

    Zij knippen de lamp uit en de witte kap

    glinstert een ogenblik voordat hij oplost

    als een tablet in een glas duisternis. En dan opstijgt.

    De hotelmuren rijzen het hemelduister tegemoet.

    […]Het is donker en stil. Maar de stad is vannacht

    opgerukt. Met gedoofde ramen. De huizen kwamen.

    Heel dichtbij staan zij opeengepakt te wachten,

    een volksmassa met uitdrukkingsloze gezichten.

  3. Desmond Painter :

    Louis, Transtromer is ook daardie rare (amper teenstrydige) ding: ‘n professionele sielkundige wat ook digter is.

  4. Breyten Breytenbach :

    Ja, dis ‘n goeie vraag of dit teenstrydig is – die spanningverbintenis tussen sielkundige en nietkundige. (En verder natuurlik tussen kaggelkykers en koggelaars…) Maar dit sit darem nie in enige sielseiler se broek om droedels te skryf nie!
    ‘n Uitstekende keuse hierdie keer. Ek het my hart op Ko Un gesit. En gedog Adonis sal dit kry: die Arabiese Lente, die orgie van onderdrukking op die strate van Sirië… Die arme Adonis probeer al so lank en so hard.
    Bygesê: hoekom dink ons almal die Nobel is so belangrik? Pryse bly maar ‘n onding. (Behalwe sommige…)

  5. Desmond Painter :

    Bloot literêr beskou is die Nobel maar ‘n vreemde ding. Mense skud altyd meewarig kop oor ou Sartre die ding van die hand gewys het, maar ek dink dit was nogal ‘n stylvolle oomblik! Gelukkig so stylvol dat dit as betekenisvolle gebaar eintlik onherhaalbaar is — gelukkig, want dis darem ‘n ernstige meevallertjie om sommer te verbeur! G’n wonder die man het na die tyd skoon skeel gekyk nie!

  6. Johann Lodewyk Marais :

    Desmond, in 1958 het/moes Boris Pasternak ook die Nobelprys vir Literatuur van die hand wys.

  7. Desmond Painter :

    Johann, ja, dis natuurlik waar — maar ek dink dit was beslis ‘n gedwonge, nie soos in Sartre se geval ‘n vrywillige besluit nie.

  8. Breyten Breytenbach :

    As ek reg onthou het Pasternak dit van die hand gewys omdat hy – bekend en gedeeltelik gemuilband as dissident – indien hy na Stockholm sou reis om die geltjies op te haal nie weer terug sou kon keer na Moedertjie Rusland (destyds nog die USSR) nie. En as ek nog verder reg onthou was Skeefkyk Sartre wel bereid om die kroner te vat maar nie die prys nie. Wat ek wel duidelik voor my geestesoog sien is dat Mazisi Kunene, op daardie stadium die ANC se tresourier, met my as tolk vir Sater in Parys genader het met die hoop dat hy die prysgeld sou oorbetaal aan die ANC – toé al so korrup soos ‘n pap tamatie – maar die oom met die verby-jou-kyk oog het toe nooit die Swede se pitte gekry nie…

  9. Desmond Painter :

    O, so hy aanvaar die geld maar nie die prys nie… Die man het selfs meer styl gehad as wat ek vermoed het! En het hy nie hoeka voltyds in ‘n hotelkamer gewoon nie? Maar jy weet, die Sestigers hemel Camus darem te graag ten koste van Sartre op, so ek voel altyd ek moet die ou verdedig. Selfs al op hierdie blog in die verlede (in defense of lost causes, soos Zizek s^e):

    https://versindaba.co.za/2010/07/28/die-ongeliefde-jean-paul-sarte/

  10. Leon Retief :

    Die Nobelpryse vir natuurwetenskappe/medisyne het natuurlik ‘n ewe interessante en kontroversiele geskiedenis. Miskien nog meer so omdat die pryse aan tot drie persone in elke kategorie togeken kan word.

  11. Johann Lodewyk Marais :

    Die Nobelprys vir Literatuur is in 1904, 1917, 1966 en 1974 aan meer as een skrywer toegeken. Die toekenning in 1974 van die prys aan die Sweedse skrywers Eyvind Johnson en Harry Martinson was baie omstrede.

  12. Breyten Breytenbach :

    Reg, Desmond – alhoewel, alhoewel… (Die ou van die hotelkamer bly was Jean Genet, ware anargis en tronkvoël voor die Ewige. Sartre het vir Genet lelik geknou met die verskriklike dik ‘biografie’ wat hy nog tydens lg. se leeftyd oor hom geskryf het en waarin hy vir Genet tot verstikkens toe geannaliseer en ‘verintellektueel’ het. Sartre het in ‘n woonstel gebly, was nooit arm nie. Maar dis nie te sê nie.) Onlangs aan tafel met ‘n ouerige Algerynse intellektueel het die Sartre-Camus keuse of teenstelling weer te berde gekom, veral met verwysing na die twee here se stellingnames tydens die Algerynse bevrydingsoorlog. Camus was natuurlik ‘n ‘swartvoet’ (setlaar), arm, gedeeltelik van ongeletterde proletêre Spaanse afkoms. Sartre se eksistensialisme was van die klonterige filosofiese soort met Germaanse wortels (Heidegger); Camus was fisies aktief in die verset teen Duitse besetting, ‘n rokkejagter en ‘n laventelhaan, ‘n Mediterreense baster – en die ware skrywer wat Sartre nooit was nie (behalwe in sy ‘Les Mots’). Wie van die twee, Sartre of Camus, was ‘reg’ tydens die bevrydingsoorlog? Ek sou vir Sartre gestem het en waarskynlik weer so maak, al is dit agteraf duidelik dat Camus die dichotomie van sy situasie waarskynlik met veel meer feilbare menslikheid probeer oplos het as die doktrinêre Sartre. (Sien, mens moenie al die sg. Sestigers – met wie ek my nie vereenselwig nie, dit was net nog ‘n maklike en slordige indeling – oor dieselfde kam skeer nie!)
    Groete. En dankie vir jou bevraagtekening en nuansering van alles.

  13. Desmond Painter :

    Breyten, ek grap natuurlik maar oor die Sestigers. (Julle is in elk geval deesdae almal 70!)

    Die ding met Sartre, hy was beide skrywer en filosoof, maar aan die een kant nie heeltemal die skrywer wat Camus was nie, en aan die ander kant nie heeltemal (myns insiens) die filosoof wat Merleau-Ponty was nie — as ‘n mens hom nou met sy tyd- en (somtyds) sielsgenote moet vergelyk. Maar dit het maklik geword om hom gering te skat…

    Oor die Algerynse kwessie veral word daar soms heel eensydig gepraat: dikwels ‘n soort sentimentalisering van Camus se (heel verstaanbare) besorgdheid oor sy moeder. Hy word soms amper Engelagtig voorgestel, teenoor die doktrinêre en polities opportunistiese Sartre.

    Selfs Tony Judt, in ‘n essay getiteld Albert Camus: The best man in France, stel Camus voor as ‘n man van amper onbevraagtekenbare integriteit, ‘n soort etiese bewussyn wat nie gekorrupteer kon word deur Sartre se gevaarlike en “onverantwoordelike” geflankeer met geweld nie.

    Paige Arthur, in haar Unfinished Projects, argumenteer dat die Franse (en wyer ook) filosofie dalk te gou die rug gedraai het op die vraagstukke en problematiserings waartoe Sartre bygedra het: na die Algerynse oorlog was alles skielik taal en teks, van Barthes tot Baudrillard.

    Sy wys ook daarop dat terwyl Sartre in die Europese filosofie sedert die 1960s al hoe minder ernstig opgeneem is, hy wel heel anders bejeen is (en dikwels steeds bejeen word) deur denkers en aktiviste in die sg. Derde Wereld.

    Sartre het sekerlik filosofies vasgesit in ‘n soort Cartesiaanse refleks, en in daardie opsig verteenwoordig hy dalk die doodsnikke van ‘n Eurosentriese denktradisie — maar ek dink tog sy poging om die Europese “vantage point” te relativeer, om ruimte te skep vir die werklike historiese en kulturele ander (nie net die abstrakte ander van die Levinasiaanse soort etiek nie) was belangrik — en in daardie sin is hy sekerlik ‘n voorloper van die “postkoloniale” stemme van mense soos Said en Spivak en Bhabha en ander.

    Terloops, ek vind Edward Said se skrywes oor Camus meer interessant as die eensydige ophemelings.

    Maar wag, laat ek ophou om die man te verdedig. Ek lees nie eens sy werk nie!

  14. Breyten Breytenbach :

    Desmond – dis goed vir ons almal om aan hierdie dinge en gedagtes en strominge herinner te word, veral nou dit wil voorkom asof die kans op geskiedkundige deurlopendheid sinapties onderbreek is. En ek dink jy sal agtergekom het dat ek self ‘n sagte plekkie het vir Sartre (as dít nou nie neerbuigend klink nie!) se doelbewuste of selfs moedswillige militantisme met toepassing op konkrete sosiale omstandighede en historiese beweging.
    Maar vlugtig iets anders. Ek het aan jou gedink nou onlangs in Algiers – die ‘akte’ van ‘n internasionale konferensie oor die denke en lewe van Frantz Fanon, wat in Julie 2009 daar plaasgevind het tydens die Tweede Pan-Afrikaanse Kultuurfees van Algiers, het so pas verskyn, gepubliseer deur die Kultuurministerie se Centre National de Recherches Préhistoriques Anthropologiques et Historiques. Die boek se titel is slegs FRANTZ FANON. ISBN : 978-9961-716-41-0. Ek noem dit maar sodat julle hoenderversiteit ‘n eksemplaar kan bestel: dit bied interessante leesstof en agtergrondsmateriaal. Die bydraes wissel van aard en bedoeling van persoonlike herinneringe deur o.a. Olivier Fanon (sy seun wat nou by die Algerynse ambassade in Parys werk) en Mireille Fanon-Mendès-France (‘n dogter uit ‘n vroeëre huwelik, en ek het vergeet dat sy getroud is met ‘n familielid van Pierre Mendès-France, ‘n legendariese Franse sosialistiese premier tydens die Vierde Republiek, self van Sefardiese afstamming), na interessante ontledings van aspekte van Fanon se werk gesien met die beligting van denkrigtings en kwessies van sy tyd maar óók met gevolgtrekkings en van nut op wat nou gebeur (ongelukkig meestal in Frans), en tot by ‘n verrassende opstel deur Nigel C. Gibson oor “Fanonian Practices And The Politics Of Space In Postapartheid South Africa: The Challenge Of The Shack Dwellers Movement (Abahlali BaseMjondolo”.
    Gedog dit sou jou interesseer.
    En ter aan/afsluiting by Sartre se stellingnames – hierdie aanhaling uit Fanon se Die Verdoemdes van die Aarde (Verdoemelinge?): “L’homme colonisé se libère dans et par la violence.” Ek dink vertaling is oorbodig…
    Geniet Brasilië!

  15. Desmond Painter :

    Breyten, baie dankie, ek sal dit beslis bestel. Nigel C. Gibson het so ‘n paar maande gelede ‘n hele boek oor Fanon en Abahlali BaseMjondolo gepubliseer: “Fanonian Practices in South Africa – From Steve Biko to Abahlali BaseMjondolo.” Uitgegee deur UKZN Press (internasionaal deur Palgrave). Dit is die moeite werd om na te kyk. Ek hoop jy en/of Charl-Pierre sal nog een of ander tyd kans kry om op die webblad of in die Afrikaanse koerante iets oor Algiers te skryf!

  16. Breyten Breytenbach :

    Elkeen van die Mzansiane wat daar was – Charl-Pierre, Rian Malan, Vonani Bila, Zukisma Wanner, en die aangenaaide uwe as lieplapper – het onderneem om ‘n bladsy elk oor die wedervaringe te skryf. Ek het intussen C-P s’n gesien en dis baie goed, veral ook omdat dit spreek tot die veelvoudigheid (veelfoutigheid) van Afrika se kulturele en vele ander vorme van diversiteit, en aldus hoe ons Afferkaners onsself sien en mis kyk. Ek weet nie waar en of hy daardie stuk gaan gebruik nie (en durf hom nie vra nie want soos gewoonlik is ek agter met myne). Miskien kan jy by hom navraag doen…
    Dankie vir die verdere inligting oor Gibson se boek.

  17. Leon Retief :

    Breyten, verskoon my onkunde en dis nie ‘n moedswillige vraag nie: wat bedoel jy met “sinapties onderbreek”?

  18. Breyten Breytenbach :

    Beste Leon, jammer – dit was ‘n oorhaastige en lomp beeld (of kortpad). Ek wou verwys na die verskynsel dat ons deesdae skynbaar vinniger vergeet as wat ons kan vasmaak. Vandaar my struikelsprong na die idee dat ons die verbintenis (of verbinding) tussen indruk en vaslê verloor het – en dan sien ek natuurlik ‘sinaps’ as die seinmeganisme.
    Twee flaters! Die een; dat ek veralgemeen vanuit die ervarings van één stotterende opvangapparaat (ek); en twee: dat ek my begeef op gebiede (die sielkunde, of die neurologie) waarvan ek so min weet as ‘n fat cat van nagemaakte saffraan. Noem dit maar “poëtiese vergryp…”
    Maar van wanneer af is ‘vergryp’ nie meer ‘n ‘vryheid’ nie? (Hehe…)

  19. Leon Retief :

    Vinnig vergeet as vaslê inderdaad! As ek so luister na hoe my mede-Afrikaanssprekende landgenote al vergeet het wat apartheid als tot gevolg gehad het…(dit was eintlik ‘n goeie ding sien…)

  20. Breyten Breytenbach :

    Ja, en die apartheidsapologete (mens sou eintlik twee aa’s behoort in te span) sien nie in dat hulle hulself in vergetelheid se verf vaskwas – of wegverf – nie. Maar erger: hulle ontneem hulself van die voorreg om krities en oopkop die huidige bedeling wat besig is om ‘n hede te vermors en ‘n toekoms op te mors, die stryd aan te sê. Jy kan bv. nie die ontaarding van vryheidsideale in vroeëre kolonies beveg deur terug te wil krabbel na koloniale oorheersing en onderdrukking nie. Daar is seker nie ‘n absoluut soos ‘vooruitgang’ in mense se gedragspatrone en maatskaplike wysheid wanneer dit kom by die uitoefening van mag nie, maar daar is wel iets soos ‘n historiese geheue (waarvan skrywers akkurater rekenskap gee as historici) en met geheue kom verantwoordelikhede. Net soos daar m.i. iets is wat ‘n etiese verbeelding genoem kan word (nié ‘n moralistiese nie) – ‘n ‘ruimte’ wat skandelik en selfs krimineel ontbreek by meeste maghebbers. Kyk nou maar net hoe Israel (die staat) se etiese verbeeldingloosheid – en daarom gebrek aan kreatiewe aktivisme – lei na groter afsondering en die barbarisering van ‘n nasionale etos. En gewoonlik word daardie leemte verdoesel deur ‘n intense en vertroetelde gevoel (eintlik ‘n demagogie) van slagofferskap. Dis waarop die ANC teer…

  21. marlise :

    Maar is dit slegs die ANC wat op hulle slagofferskap teer? Daar is nou Maandae op KykNet ‘n gesprek aan die gang op Ons Mense, deur Max du Preez en Antjie Krog en nogge iemand waarvan ek die naam nou vergeet het. Hulle praat dat die tanne klap en die gryskoppe bewe terwyl hulle die dorp besoek en al die monumente oor die konsentrasiekampe uit die oorlog. Behalwe nou die ander man wat geen hare meer oor het nie… En gistraand (dis ‘n reeks) het hulle dit juis gehad oor die slagoffersindroom waaraan die Afrikaner nog steeds ly. Waaraan swart mense nou ook ly. En oor die dorpe (soos Kroonstad) wat besig is om stuk vir stuk te vergaan. Antjie meen ook die dorp behoort aan niemand nie. Daar is geen samehorigheidsgevoel deur die inwoners van alle rasse nie. Dis niemand se dorp nie. Die mening was ook dat ‘n toekoms nie kan begin alvorens elkeen die slagoffermentaliteite kan afskud en verantwoordelikheid kan begin aanvaar en iets nuuts daar te stel nie. Laat mens nogal dink. Dalk herhaal die patrone hulle tot in ewigheid. Dan sien ek ook ‘n ander program (o ek weet ek is verslaaf aan TV en films!) op dieselfde kanaal nl Fiesta waar daar ‘n groooot fees aan die gang is by Bela-Bela, my ou geliefde jeugdorp in die Waterberge. Alle prette soos dans en sing en vreet en stalletjies met die nuutste ontwikkelings vir enigiets van 4×4’s tot blomplantjiehouers en motorbandwasbakke is daar beskikbaar. Die boere kamp weer uit, en al wat ek sien is wit Afrikaners (van groot en vet na brandmaer wat in gesprek is met die kameras en die woord wat ‘n honderd maal voorkom is ‘lekker’) – geen anderskleuriges nie, behalwe nou die wat hier en daar die beeste of annerlike diere soos olifant o.a. versorg. Dan lyk dit mos vir my al soos ‘n laertreksindroom. En wat help dit nou vir enige veranderinge in die land OF verantwoordelikheid aanvaar? Of nie?

  22. Desmond Painter :

    Ja dis ‘n slegte dag vir die politiek (as ‘n ruimte van verbeelding, kreatiewe konfrontasie, toekomstigheid, wat ook al)wanneer slagofferskap deur die bank die begeerde rol word en die enigste trefseker manier om legitimiteit as politieke subjek te verdien… Dit loop onder die studente ook: slagoffers van die verlede, slagoffers van die hede; blameer dit op apartheid, blameer dit op regstellende aksie. Binnekort sal die universiteite dalk Viktimologie as hoofvak aanbied! 🙂

  23. marlise :

    Viktomologie! Baie snaaks.:)
    Ek het toe wel onthou: die man met die kaalkop is André Zaaiman, ook ‘n boorling van Kroonstad. Het nogal baie gehou van sy redevoering en perspektief.

  24. Breyten Breytenbach :

    So gedog – ek bedoel wat betref die ‘derde persoon’. Tja, dis nou nie die forum nie, maar ‘onse mense’ kan enige dag kers vashou by die beste swendelaars in die wêreld. As jy die Calvinisme en die ydele arrogansie van nederigheid en die bywoner mentaliteit en ‘n oordadige liefde vir spekskiet en gatkruip alles meng en skommel -dan kry jy hierdie pragmatiste wat glo hulle het ‘n eersteklas kaartjie hemel toe. (Solank ons net pa en ma kan doodmaak in die proses…)

  •