Pieter Odendaal. Meer as wat enigiemand kan verbeel

Imagine Africa, 2011.

Onlangs stop een van my vriende ’n kopie van Imagine Africa in my hand, ’n versameling tekste byeengebring deur die Pirogue Collective, die kreatiewe vergestalting van die Gorée Instituut in Senegal. In die voorwoord sê Breyten Breytenbach, die sameroeper van die collective, dat die dryfkrag agter die boek is om te wys dat Afrika steeds magies lééf, ten spyte van die diktators, die kindersoldate, die pseudo-state, die gulsige hande en die lostrek van some; dat die geboorteplek van die mens meer magies en wonderlik is as wat enigiemand kan verbeel.

Dié dat Breytenbach Olfert Dapper se 17de-eeuse Description of Africa onbeskaamd approprieer: Ja, ons het koplose mense met oë op hul mae; ja, daar is mense wat vinniger as die wind kan hol en hul koppe teen die son met die skadu’s van hul voete beskerm; ja, daar is ’n onuitputbare bron van kreatiwiteit en magie op hierdie kontinent. Breytenbach plaas die Pirogue Collective se skryfsels knus langs hierdie eksotiese voorstellings van Afrikane. Afrika leef! proklameer hy saam met die ander skrywers in imagine africa, Ons beteken meer as wat enigiemand kan verbeel!

Dis haas onmoontlik om ’n geheelindruk van die boek weer te gee: Die bydraes sing in te veel verskillende toonaarde, verf in te veel kleure: Van ’n berekende herskrywing van Afrika se onlangse geskiedenis deur Stephen Ellis, tot die liriese kwashale van die Kaap Verdiese digter Corsino Fortes; van die fantastiese Adam Small vertalings deur Mick Dickman, tot Éduard Glissant en Patrick Chamoiseau se poëtiese liefdesverklarings aan President Barack Obama en argipels; van Eben Venter se talmende kortverhaal tot Ngũgĩ wa Thiongo se novelle oor ’n wetenskaplike wat in ’n voël verander en Afrika deurkruis om die wysies van al die stories te leer sing sodat hy uiteindelik kan begin om te verstaan waarom ons kontinent so hinkepink loop.

My persoonlike gunstelinge is egter Charl Pierre Naudé se essay oor vertaling, genaamd “A road going both ways”, die Keniaanse digter Shailja Patel se meesleurende verse en André Naffis-Sahely se fabels oor die ontstaan van die woestyn en waarom katte so ’n wrok teen muise koester.

Naudé konsentreer op vertaling as ’n kreatiewe, transformerende handeling wat as bloedsomloopstelsel kan dien om Afrika aan die lewe te hou (dis nie hoe hy dit stel nie, maar ek hou van die beeld). In die besonder kyk hy na Afrikaans as ’n taal wat aan haarself vertaal moet word om te verseker dat sy nie uitsterf nie – sy het deur vertaling tot stand gekom en moet deur vertaling aan die lewe gehou word. Die volgende uittreksel is vir my een van die mooiste en hartseerste beskrywings wat ek al van my hartstaal gelees het:

“[Afrikaans’] most noticeable – and most denied – facet is that it is an inherently mixed culture, coloured and white. The entire culture is pinned onto this tragic divide, like tatters on a skeleton. It will take time to heal, if it ever will. Indeed, the culture of Afrikaans is a Siamese twin that got separated very badly, and should never have lived. For which half am I writing, then? Sometimes I feel like the shattered mother insisting to love something unlovable because it is my inalienable right to do so.” (49)

Die ironie dat die essay in Engels geskryf is tersyde, sou ek eintlik die hele essay hier wou aanhaal omdat ek nog nie so ’n raak en aandoenlike beskrywing van Afrikaans gelees het nie. Niemand wat vandag nog Afrikaans praat (uitgesluit die hoër middelklas Afrikaners wat dink Engels beteken meer vir hul kinders, kleurlingouers wat weier om hul kinders die taal van die onderdrukker te leer, die linkses wat om dieselfde rede nie Afrikaans in hul monde wil laat lê nie) mag kommunikeer sonder om voortdurend Naudé se argument ingedagte te hou nie. Nog ’n paar sinne:

“Embrace: Some language historians say the traits of simplification in structures that created the Afrikaans language had to do with people of different languages urgently having to communicate without a linking language at their disposal, having to meet one another halfway in the dark. The Dutch naval officer and the Malay slave girl, say. Realising too late that the transaction had become love. Was bound to, so far away from home for both. And then rooted in that lightning, on the spot. Metamorphosised – in translation.” (51)

En dan is daar Shailja Patel se gedigte wat soos bloeiende jakarandabome in die geil landskap van die bundel staan. Die onderstaande gedig is in 2007 geskryf, vyf weke voor die korrupte nasionale verkiesing wat die dood van meer as 1500 Keniane tot gevolg gehad het:

Jacaranda time

I’d choose to meet my world in jacaranda time,
its shifting dappled light across my face
that tessellates the blossoms into rhyme.

Rain churns Nairobi roadsides into slime
littered with purple flowers like torn lace.
Five-week countdown to election time.

As if this villanelle were the sublime
reweaving of our fractured, looted space,
I trudge gluey mud, I grope for rhymes.

Kalonzo, Raila, Kibaki tena – pantomime
of sumo wrestlers threatens to efface
thirty-six million silenced. When’s their time?

And maybe this is love: hope wrapped in grime.
Relinquish all the might-have-beens. Embrace
each tiny possible, each less-than-perfect rhyme.

So I will choose this lilac song. Now I’m
unfurled to small epiphanies of grace
in bloody struggle. Joy, in jacaranda time,
her lips curved, gentle, round the missing rhyme.

Die digter is versigtig hoopvol dat die saamweef van haar rymwoorde ’n vooruitwysing na ’n hegter, minder bloederige Kenia kan wees. Die deernis waarmee sy haar werk as digter/versoener uitbeeld het my in die maag getref. Dit word bykans ondraaglik om die vraag aan die einde van strofe 4 te antwoord in die lig van die nadraai van die verkiesing. En dan is daar onvervangbare woorde soos “tessellates” en “unfurled”, wat ondubbelsinnig bewys dat wat ’n bekwame versmaker Patel is.

Hierdie bloginskrywing raak nou lank. Ek gaan maar afsluit met ’n uittreksel uit een van Naffis-Sahely se fabels, “How the desert was made”, wat nes baie ander skryfsels in die versameling wys hoeveel magiese potensiaal in ons kontinent en ons koppe opgesluit lê:

One day, a great gust of wind brought a swarm of butterflies to a strange and desolate land. Unsure of their future, many of them bunched on a berry-less bush and waited; hour by hour, one would fly off and disappear. Each time a branch on that bush was abandoned, a tiny mound of gold powder would trickle down onto the ground. By the time all the butterflies had finally vanished, they had left behind them an ocean of fine, yellow sand. “And that’s how the desert was made,” a camel explained to her young calf. (179)

* ‘n Resensie van Imagine Africa deur Grace Musila is beskikbaar op SLiPnet: http://slipnet.co.za/view/reviews/an-invitation-to-imagine-africa-otherwise/
Die boek kan by Protea Boekhuis aangeskaf word.

Bookmark and Share

8 Kommentare op “Pieter Odendaal. Meer as wat enigiemand kan verbeel”

  1. Evette Weyers :

    Pieter, Baie dankie hiervoor!
    Dit openbaar die lewegewende wortels van Afrika. Die oorvloed van Afrika lê in haar ryk verbeelding. En dankie aan Protea boekwinkel dat hulle die boek op die rak het.
    groete

  2. Evette Weyers :

    Breyten, baie dankie aan jou, vir die konsep en saamroep van hier verhale, gedigte, ens. Wat ‘n rykdom!

  3. Charl-Pierre Naude :

    Dankie, dankie Pieter – vir hierdie gevoelryke en waarderende bloginskrywing. Dit maak alles die moeite werd. En as alles volgens plan verloop stel die Pirogue-Kollektief binnekort die tweede jaarboek van Imagine Africa saam – met nuwe, ander, en diverse stemme uit Afrika. Wat ‘n “simfoniese”, lieflike kakofonie is al die stemme nie. Maar gepraat van kakofonie – miskien moet ons tog die samebindende elemente volgende keer bietjie meer voorop konstrueer. Selfs kakofonie word onthou aan sy geheelindruk. 🙂

  4. Charl-Pierre Naude :

    Onlangs het Breyten aan my die volgende gese: “Ek het ‘n nuwe leuse vir Afrika: “Carpe kaka”.

    Hy het natuurlik dit bietjie meer platvloers bedoel, naamlik dat mens die beste van ‘n sleg saak moet maak, maar ek lees graag hierdie ander betekenis daarin ook raak: die goeie kant van kakofonie …

  5. Breyten Breytenbach :

    En daar is reeds ‘n internasionale sokkerstér met die kakofonienaam. Ek dink sy bynaam is ‘Krappies’.
    Maar ek wil graag die waardering vir Pieter se resensie beaam. En dankie sê vir Evette en ander se gasvrye ontvangs van die nomadiese geskrifte. Hierdie en al die ander uitdrukkings en krete van “Afrika lééf!” máák alleen sin en kry slegs bestaansreg en koherensie (?) wanneer daarvan besit geneem word.
    Charl-Pierre het gelyk: daar moet meer saambinding kom. (Alhoewel, die duiwelsgetuie in my wil pleit vir die genre-transgresserende, vir die weghou van ‘sin’ en ‘betekenis’ vir so lank moontlik, opdat ons nie verkoester raak in ‘n kokonfonie nie…)
    Toemaar, C-P, ek janrabie jou sommer net ‘n bietjie moedswillig! Ek weet dis nie wat jy sê nie.
    Dankie, mense – vir julle entoesiasme.

  6. Charl-Pierre Naude :

    Breyten, ek dink die kontrapunt wat jy impliseer is wel ter sake: “ordening” kan ook “kakofonies” raak. Dis ‘n ander “soort” kakofonie daai, ‘n “kakofonie van binne”.

    Dit laat my sommer so lukraak dink aan al die eindelose notule-opnames by ou NUSAS-vergaderings, die krampagtige ordenings van die “chaos” daarbuite, wat ek skrams meegemaak het in die vroee tagtigs en gelukkig betyds van gevlug het. En toe ons weer sien toe neem die ANC oor.

    Nou dis waar ordening ‘n mens kan bring. Enige oud-NUSAS-lid wat miskien kommentaar wil lewer?

    Speel sommer.

  7. Charl-Pierre Naude :

    Nog ‘n voorbeeld van hoe ordening kakofonies kan raak vind mens seker in die akademie, as ek nou my nek kan uitsteek, wat een van die brandwagte van ordening in die beskawing is. Mens kan soms nie glo die temas en titels van verhandelinge nie, veral in die studie van die letterkundes, die “engheid” van die fokus, asof daar eintlik niks belangriks is om oor te gesels nie! Met ‘n klein bietjie meer “abandon” (so stel ek my voor) behoort dit moontlik te wees om af te kom op die dinge wat dringend wag om ontleed te word.

    Maar nou ja, die waarheid lê seker maar tussen-in … Lekker plek daai. Seker daarom dat almal altyd “die waarheid wil praat”.

    En nou het ek al klaar weer gelieg. Sorrie.

  8. Louis :

    Goeie nuus! Ons voorraad van “Imagine Africa” het gearriveer … En teen R180 is hierdie lieflike boek ‘n besonderse winskoop, boonop. (Kyk gerus ook na Breyten Breytenbach se skrywe hieroor by https://versindaba.co.za/2011/05/26/breyten-breytenbach-imagine-africa/)
    “Imagine Africa” is bekikbaar by enige Protea Boekwinkel, maar indien jy jou kopie by die Stellenbosch-tak wil aanskaf, kan jy (021) 882 9100 skakel of ‘n e-pos stuur na ls.protea@mweb.co.za.
    Haas jou skrede voor dit weer uitverkoop is.

  •