Amanda Lourens. Op reis met die anima

Ek lees die afgelope week of twee al herkouende aan Cas Vos se jongste bundel, Weerloos lewe (2012). Die veertienreëlige gedig “my anima is my herder” is een van dié waaraan ek besonder stadig herkou, en bly wonder of ek hoegenaamd die regte gedagtes raaklees:

my anima is my herder, my beskermer,

sy lê my neer in dooie vlaktes,

lei my na waters van onrus en onvrede.

sy versondig my siel, verlei my

op nat steiltes van onreg en kwaad.

haar naam is bitter op my lippe,

in die skadu van my onderbewuste

is vrees my donker geesgenoot.

 

in my hart met sy trosse kamers

woon my broers en my susters:

hoogmoed, hebsug, wellus, woede,

vraatsug, afguns, luiheid –

die sewe wonders van my lewe,

van al my kortstondige dae.

 

Hierdie spesifieke gedig is vir my persoonlik een van die boeiendste verse in die bundel, maar ook een van die mees uitdagende – heel moontlik vanweë die dubbele lading in die gedig, naamlik die intertekstuele band met die bekende Bybelteks asook die psigoanalitiese stramien.

In ’n ander konteks verwys die digter self na die invloed van ’n oerteks soos Psalm 23, en gebruik die metafoor van Psalm 23 as die herinnering aan ’n flikkerende kers uit jou kinderdae.  Hy wys dan pertinent ook op hierdie teks se invloed op kunstenaars deur die eeue (Vos 2006).  Vos self sluit aan by hierdie tradisie van kunstenaars wat met die gegewe van Psalm 23 omgaan, en neem in Die afdruk van ons hande (2007) die gedig “Die Here is nie my herder nie” op:

 

Die Here is nie my herder nie

 

Die Here is nie my herder nie,

ek kom alles kort.

Hy lei my na leegtes,

laat my bloedsweet,

bring my na ’n woestyn

sonder manna se genade

op die deinende duine.

Hy lei my op omweë

om sy verlore eer te soek.

Ek kruip deur donker dieptes,

my hart skommel bang;

U het u hand teruggetrek,

ek kyk vas teen u rug.

U laat my aan ’n kruis hang

terwyl my vyande koggel.

U ontvang my soos ’n rower,

ek is oorlaai met skuld.

Al slaan u stilte my stom,

sal ek na U bly roep,

ek, u weggooilam.

 

Vos self bestempel hierdie gedig as eietyds en ironies, en dit is duidelik dat die siening van God hierin veel meer kompleks is as in die Bybelteks.

 

In “my anima is my herder” kom die leser voor  ’n groter uitdaging te staan.  Weliswaar is hierdie gedig, soos “Die Here is nie my herder nie”, ’n herskrywing van die oerteks, maar nou met die integrasie van elemente uit die Jungiaanse sielkunde.  Daarnaas is hierdie gedig nie bloot net ’n herskrywing nie, maar is dit heel moontlik ook ’n dekonstruksie van die Bybelteks met enorme implikasies, veral wanneer dit teenoor die vertroostende en sussende aanslag van die welbekende Psalmteks gestel word.Ek vermoed dat hierdie gedig ook ’n groot rol kan speel tydens ’n gesprek oor die aard van Vos se digkuns, onder andere wanneer daar besin word of hy as ’n religieuse digter in die tradisionele sin van die woord bestempel kan word.

 

Vos betrek dan in hierdie gedig die Jungiaanse konsep van die anima, wat enersyds dui op die anima as ’n aspek van die onbewuste van die individu, soos gestel teenoor die persona oftewel die buitenste aspek van die persoonlikheid, maar spesifiek dui op die vroulike aspek in die manlike psige.  Dit wil voorkom asof Vos op ’n bewuste wyse met die omskrywing van die anima omgaan – deurdat die anima as vroulik getipeer word deur die vroulike voornaamwoorde, maar ook deurdat die gedig duidelik ’n verkenning is van die diepste dele van die self. 

 

Die interessante vraag, sou ons Jungiaans oor die gedig dink, is natuurlik: Indien die anima/onbewuste ware self die sprekende subjek op ’n reis na onder meer onrus, verleiding en vrees neem (soos ons in die oktaaf lees), wat is die aard van die sprekende subjek dan?  Is dit die persona wat hier aan die woord gestel word? Of is dit die ego met sy sinsoekende aard wat hier as die slagoffer van die dieper en onbewuste self gesien word? Of sou ons kon sê dat dit eerder die ego is wat ’n reis onderneem na die onbewuste om – byna soos ’n Henry van Eeden – met sy eie diepliggende psigiese inhoude versoen te word?

 

’n Belangrike aspek van die anima (as die vroulike beginsel in die psige) is wel dat dit optree as mediator tussen die bewuste en die onbewuste, en as sodanig ook dikwels die sleutel hou tot die ontsluiting van kreatiwiteit (wat in die Jungiaanse denke in die onderbewuste setel). 

 

My lesing van die gedig dan (en nou sidder ek natuurlik omdat ek maar te goed besef watter gevaarlike terrein ’n mens betree wanneer jy jou lesing van so ’n komplekse teks aanbied): Moontlik kan ons die gedig lees as die sprekende subjek of ego wat aan die hand van die anima, as ironiese “beskermvrou”, ’n reis na die verborge aspekte van die self onderneem.  Die anima is dan juis eerder blootsteller, ontdekker of fasiliteerder, eerder as die “herder” van die Bybelteks wat ontstemmende emosies van die spreker weghou en eerder gerusstelling bied.  Nietemin is die anima hier, byna soos Brink se vrouefiguur in Die Ambassadeur (op sy beurt ’n herskrywing van Dante se Beatrice), die begeleidster deur die donker dele van die self. Die reis lei uiteindelik na die sekstet waar die verborge dele van die self (“my hart met sy trosse kamers”) aan die orde kom en waar die sewe doodsondes ook teruggevind word.

 

Merkwaardig egter, is dat hierdie oënskynlik dekonstruktiewe gedig in die slotreëls’n transformatiewe kwaliteit verkry: Die sewe doodsondes word nou bestempel as “die sewe wonders van my lewe,/ van al my kortstondige dae.”  Sou dit vergesog wees om hierdie reëls te interpreteer as ’n soort bereiking van die bestemming, as ’n aanduiding van individuasie wat voltrek is? Met ander woorde, sou die leser kon aflei dat die sondes/die donker areas van die self verken en aanvaar kon word, dat dit letterlik bloedfamilie kon word, soos die beeld “in my hart met sy trosse kamers / woon my broers en my susters” aandui?

 

In daardie geval kán die doodsondes erken word as “wonders”, in die sin dat die fasilitering van kreatiwiteit via kontak met die dieper self voorwaar ’n wonder van die menslike lewe is.

 Hierdie gedig is waarskynlik een wat nié volkome tuishoort in die oeuvre van ’n tradisioneel religieuse digter nie. Veel eerder is dit ’n gedig wat aansluit by die dinge wat die postmoderne mens se binnewêreld konstitueer, wat nie wegskram van die donker en onverkende domeine nie, maar dit eerder wil oopdig en die wonder van die volle spektrum van menswees kan erken.

 

Transpersonal Pioneers: Carl Jung.  Uittreksel uit Personality and Personal Growth (6de uitgawe).
Frager, R., & Fadiman, J. (2005). New York: PearsonPrentice Hall. pp56.
[Internet].Beskikbaar: http://www.itp.edu/about/carl_jung.php. [2012, April 20].

 

Vos, C. 2006. Preekhulp: Praedicatio: Psalm 23 – My herder en my vader. TEO Webdiens van die Fakulteit Teologie van die Universiteit van Pretoria [Internet].Beskikbaar: http://www.teo.co.za/wmprint.php?ArtID=368. [2012, April 20].

 

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Amanda Lourens. Op reis met die anima”

  1. Cas Vos :

    Amanda,’n briljante,veel-seggende en verrykende lees van die gedig my anima is my herder.

  •