Hannalie Taute. Haal asem

(ʼn Alternatiewe opskrif vir hierdie inskrywing wat ek natuurlik ook oorweeg het: sepies, dwelms en poësie).

Ek kyk lankal nie meer televisie nie.

Ek kyk ook nie sepies nie, dit is nie nodig nie want ek volg eerder die sepie wat hier in ons geledere afspeel.  Die fete tussen kuber-digters en nie-kuber digters. Tussen Versindaba en Carpe Noctum is sepierig genoeg. Sien hier, hier en hier.

Televisie en sepies is verslawend- of so sê hulle.

Wat ek kon aflei is dat daar blykbaar goeie poësie en swak poësie is.  Net soos goeie kuns en swakkere kuns.

Nou vra ek myself af:  is al die gedigte wat in die bloemlesing van Gerrit Komrij verskyn goed?  Mag ek dit as maatstaf gebruik?  Wat van die dagga gedigte van die Griekwas.  Goed of sleg?

MY PAPPA WAS ʼn DRINKER

En ʼn drinker so ben ek

My pappa drink die bottles

Maar die kanne die drink ek

My pappa was ʼn houtsoeker

En ʼn houtsoeker so ben ek

My pappa kap die bosse

En die stompe die kap ek

My pappa was ʼn roeker

En ʼn roeker so ben ek

My pappa roek die entjies

En die dagga die roek ek

(bl 429 Gerrit Komrij – Die Afrikaanse Poesie in n duisend en enkele gedigte)

Wat is die geskiedenis daarvan?  Was dit hul spreektaal? Was hulle onder die invloed terwyl dit geskryf is?

Ek het onlangs hierdie artikel gelees oor die kunstenaar, Fernando de La Rocque,   wat kuns skep het met die walms van sy dagga-asem getiteld “the ecstasy of Saint Theresa”.

Goeie kuns of swak kuns? 15 minute of “fame”- hy het dit.

Sal hy in die “Art Through the Ages” verskyn? Wie weet.

Moet ek Komrij se bloemlesing eerder sien as ʼn oorsig?  Sal daar later een verskyn met ʼn afdeling vir kuber digkuns?

Miskien moet almal bietjie teug aan die boom van goed en kwaad en vir ʼn slag asem haal.

Bookmark and Share

6 Kommentare op “Hannalie Taute. Haal asem”

  1. Jy moet darem erken, Hannalie, hierdie “sepie” het interessante idees, kommentare en menings opgelewer.

    ‘n Digter sou kon sê: “Dis beter om gelees te word en afgekraak te word, as om nooit gelees te word en niks van gesê te word nie.”

    As niemand ooit iets sê van jou gedig nie, kon dit net so wel nooit geskryf gewees het nie.

    (Terloops, dis opmerklik dat die meer ingewikkelde taalvorme soos die konjunktief en verlede deelwoorde deesdae nie so dikwels in Afrikaans gebruik word nie, nie waar nie? Is ons in die algemeen lui en onkundig, of is ons net meer modern en doeltreffend?)

    Nietemin, jy self haal die vraag op, baie goeie punt, terloops, van die “gehalte” van die Griekwa-vers. Dit op sigself kan ‘n hele debat word.

    Net om te begin: (wilde en wye stelling deur my): verskillende maatstawe moet gebruik word vir verskillende skrywers. Daar kan nie verwag word van die ongekunstelde Griekwa-spreker om ‘n Oppermaniaanse vers te skryf nie. Indien so iets aangebied sou word, sou dit volkome ongeloofwaardig wees. Dus: die Griekwa-vers moet beoordeel woord binne die konteks van die kultuur- en taalagtergrond van die spreker. Maar … binne daardie kontekste kan daar ook goed en swak wees. Watseg u?

  2. Soos wat heelparty kundiges die afgelope week uitgewys het, is ek nie ‘n kundige oor wat die definisie van gehalte in die digkuns is nie. Ek het egter opgemerk dat die kundiges self soek na woorde om dit te omskryf en dit dus by wyse van voorbeelde probeer illustreer.

    Ek is wel kundig in ‘n ander veld naamlik die veld van Gehaltebestuur in die groter konteks en dus gee ek die definisie soos wat dit daar geld.

    Alle bronne gee drie eienskappe as maatstaf naamlik:

    (1) Dat ‘n produk aan die vereistes van die eindgebruiker moet voldoen;
    (2) Dat daar ‘n tydselement bestaan en dat die produk dus op die regte tyd gelewer moet word; en
    (3) Dat dit koste-effektief moet wees.

    Ek waag my hand nou daaraan om van hierdie universele definisie, iets rondom poësie af te lei:
    (1) As ons dus praat van voldoening aan verwagtinge of spesifikasie moet ons hieruit aflei dat ‘n goeie gedig ‘n gevoel van waardering by die lesers laat. Daarom is die lesers belangrik en moet digters nooit so verhewe raak dat die lesers nie waarde uit hulle werk kan put nie. Of natuurlik werk wat sinlose woordgimnastiek is nie. Wie is hierdie lesers? Ek dink om te spekuleer oor vervlakking en gelykertyd te kla oor die swak verkope van Afrikaanse bundels bring niemand nêrens nie. Ons moet nie die lesers die skuld gee nie. Opperman skryf: “Miskien het dit tyd geword vir al ons digters om uit ons ivoortorings te kom, en van die pieke af te kom en weer met ons volk te kommunikeer.” Ironies blyk dit dus dalk ‘n dilemma van elke generasie te wees. Plaaswerkers het die woorde van Lorca vir mekaar opgesê in Spanje terwyl hulle op die lande gewerk het. Is vandag se lesers dan minder geletterd as hierdie plaaswerkers? En meer nog as ons vervlakking aanvaar moet ons dit deur die bank aanvaar en nie net voor die deur van die massas lê nie. Dalk, net dalk, vervlak die elite ook so. My punt egter, lesers moet oordeel of hulle die werk waardeer. Nie ander digters nie. Hulle kan help skaaf, idees uitruil, maar die oordeel behoort aan die lesers.
    (2) Wanneer ons oor die tydsaspek praat is my interpretasie dat gedigte iets van die tydgees van die bepaalde era moet vasvat. As ek dus vandag ‘n gedig skryf oor die Groot Trek, is ek nie relevant nie. Wat is die tydgees dan? Myns insiens is ons generasie gewikkel in ”n soeke na identiteit. ‘n Nuwe identiteit wat “belonging” gee, wat aanbeweeg van waar ons was, maar terselfdertyd ophou kla en teem. Wat weer skoonheid waardeer, maar vasgevang is in lewens waarin hulle verskeie moderne sosiale- en ekonomiese vraagstukke in die gesig staar.
    (3) wanneer ons koste-effektiwiteit, of dan die ekonomie van die werk moet beoordeel, moet ons vra of ‘n leser geld sal betaal om daardie werk te besit. Of hy of sy iets sal opoffer vir die opoffering wat gemaak is om die werk te skryf en of die leser dalk net kennis neem.

    My sikspens. Moenie skiet nie ek is moeg 🙂

  3. Hierdie kommentaar is nie ‘n reaksie op Mellet Moll nie. (Mellet is moeg, volgens homself. Hy moet eers ‘n bietjie rus. Ek beveel ‘n goeie boere-medisynetjie aan: Chardonnay.)

    Dit is ‘n aanvulling tot Louis se vermaaklike ontdekking van “Vrot gedigte”. Die volgende gedig kom uit die “Very Bad Poetry” webruimte. Dit is breinskuddend 🙂

    Lies

    Anonymous Thomas
    The website (this one)
    says that I,
    Anonymous Thomas
    (if that is my real name)
    have 0 poems submitted.
    Those are lies.
    Lies I tell you!
    I have
    submitted so many.
    Like 1,000,000,000,000,000,
    and still no response.
    And still no honesty to
    the lies.

  4. Dankie vir jou bydrae en die wilde wye stelling De Waal. Ja, die ‘sepie’ was interessant maar net tot n punt, daarna was ek nie meer seker wat daardeur bereik wou word nie. Ek is ten gunste van kritiek, verkies wel opbouende as afbrekende kritiek. As kunstenaar moet mens skeer maar n dikker vel kweek. Ek het n bietjie op die internet rondgesoek na inligting ivm die Griekwa-daggarympies, maar het net sover n ou artikel in Rapport gekry waar daarna verwys word.

    Dankie vir jou sikspens ook Mellet. Alle inligting word herkou en verwerk.

    My gevoelens oor die hele aangeleentheid van ‘gehalte’ kan sekerlik in hierdie uitttreksel van die gedig deur J.E de Jongh saamgevat word wat ek op b160-165 in die Komrij boek gekry het:

    ‘k Wensch stront aan die de stront niet prijzen,
    Stront die niet zegt de stront is goed,
    Stront die de stront geen eer bewijzen,
    Stront die in stront iets kwaads vermoedt,
    Stront die voor stront de neus ophalen,
    Stront die mijn stront niet gaarne hoort,
    En die mij om mijn stront komt malen,
    Voor hem is stront mijn eeuwig woord.

    Stront, nog eens stront voor oproermakers,
    Voor afgunst, wraakzucht, haat en nijd,
    Voor bloedvergieters, eerverzakers,
    Voor boosheid en kwaadsprekendheid,
    Stront voor bedriegers, eerverzakers,
    Verdedigers van ‘t helsch verbond,
    Stront voor die moorden, stelen, brakers,
    Voor domheid, hoogmoed, heerschzucht stront.”

    Nou ja, my kennis van Nederlands is nie wat wonders, maar ek ek hou daarvan.
    ek klink n glasie

  5. Leon Retief :

    @Hannalie: ek is geen kenner van sepies nie. Op skool het ek oor die radio geluister na “Die du Plooys van Soetmelksvlei” waarvan ek niks onthou behalwe die kenwysie nie. Later na ‘n paar episodes van “Dallas” gekyk om te sien waaroor die bohaai gaan. Dit wil my voorkom asof ‘n hedendaagse sepie ten minste twee dinge moet hê: familietwis en owerspel. Die pas afgelope sepie op Versindaba het definitief aspekte van familietwis bevat, maar owerspel, in die sin van liefde maak buite die grense van die familie? Nottendem!

  6. Oops, ja Leon, maar ek twyfel of die ‘sensuur’ raad owerspel tussen die blaaie sou toelaat.
    Miskien moes ek dit eerder klassifiseer in n ander ‘genre’ bv aksie, riller of komedie?
    Of miskien is dit dalk net nie n goeie sepie nie?

  •