Joan Hambidge. Voor die spieël
Voor die spieël
Sy kyk na my,
sit voor haar spieëltafel,
borsel in die hand.
Ek sien myself verklein,
half uitgesny. Amper
nes my suster
se papierpoppe. Voel
haar priemende blik,
terwyl ek toekyk hoe sy
haar swart hare terugborsel.
Die kamer gestuif in Blue Grass-parfuum.
“Ek hoor,” sê sy,”dat jy vuur maak
in die veld.” Die ómgekeerde lens
van die Coke-bottel waaronder ‘n sprinkaan
spartel soos iets uit Openbaring
waaroor die dominee so graag preek,
laat die kamer nou in ligte laaie staan.
“En,” voeg sy by,”jy moet ophou vloek.”
Tel jou seëninge, ja tel hul een-vir-een.
Gelukkig weet sy nie van die ánder besoekings:
van meisies vlam en vuur,
tongsoene, verkennings
en ‘n grootmensfilm met ‘n vrouebors
onder ‘n speurende kamera
se close up.
© Joan Hambidge, 2012
Dankie Joan, dis ‘n gedig waarmee ek kan identifiseer en waarna ek telkens terugkom!