Joan Hambidge. Nagmerrie
Nagmerrie
Daar is geen poësie
glo moontlik na Auschwitz?
Jeroen Bosch se triptiek:
deurgesaagde lywe,
folterkamers,
stank en bloed
in ‘n cauchemar.
‘n Kop bars oop
granate spat oor
die convertible
want Anita kom nooit
met die môretrein:
Zapruder op sy pos
en op youtube speel
Happy birthyday, Mr President
waar die twee gedoemdes
nou aanskou
hoe Stalin en Hitler
hul folterwoorde eet
in ‘n hel van herhaling:
die droom ‘n blote grotteschi?
Monsters en chimeras
bevolk ‘s-Hertogenbosch
toe ‘n brand in 1463
die jonge Jeroen
se dorp verwoes:
in die Museo del Prado,
Madrid word sy kuns,
echt een nachtmerrie,
agter glas gestolp:
Adorno was nooit daar.
© Joan Hambidge / 2014
Hou baie van die donker beelde in die gedig.
Dis ‘n goeie gedig – beelding maak die stelling en dit is ‘n stelling wat werd is om gemaak te word. Dit ruk die kop en assosiatiewe velde oop. Heilna