Desmond Painter. Die heropstanding van Pablo Neruda

Pablo Neruda is deesdae weer op almal se lippe. Ook hier, op Versindaba, word daar oor die reus van Chile gepraat; word daar planne beraam om meer van sy gedigte in Afrikaans te laat weerklink. Vanjaar is immers die veertigste herdenking van Neruda se dood, net dae na die ánder 9/11, die Amerikaans-gesteunde staatsgreep in 1973 wat van die demokratiese sosialis Salvador Allende ontslae geraak het en Chile aan die diktatuur van Augusto Pinochet uitgelewer het.

Pinochet was natuurlik nie bloot die karikatuuragtige derdewêreldse despoot van soveel Hollywood rolprente nie, maar ʼn integrale rolspeler in die ontplooiing van Amerikaanse geopolitiek en globale neoliberale kapitalisme sedert die laat 1970s. Pinochet, Reagan, Thatcher: die 1980s se axis of evil. Ons lewe in die verskraalde, gekommodifiseerde bewussynsruim waarvoor hierdie drie, saam met hulle ekonomiese raadgewers en mieliemond meelopers, hulle beywer het. Soos Neil Young sing, ‘Keep on rockin’ in the free world’…

En nou het ʼn regter in Santiago beslis dat Neruda se oorskot vir ʼn nadoodse ondersoek opgegrawe moet word… Amptelik het Neruda op 23 September 1973 aan komplikasies van gevorderde prostaatkanker beswyk, maar gerugte dat hy deur Pinochet se honde om die lewe gebring is, wil maar nie gaan lê nie. Bewyse vir ʼn politieke sluipmoord is egter maar skraps; ek vermoed Neruda is wel aan kanker oorlede. Aan kanker, en dalk aan ʼn gebroke gees.

Dit maak ook nie eintlik saak hoe Neruda dood is nie. Die tragedie is eintlik dat hy lank genoeg geleef het om sy wêreld om hom te sien vergaan. Dit is wat figure soos Pinochet doen: hulle reduseer almal tot die zero-som spel van liggame; van honger en oorvrete liggame; van ons en hulle liggame; van moordende en sterwende liggame. En nou word Neruda se liggaamlike reste weereens deel van die nasie-staat se politieke spel. Om wat mee te bereik? En vir wie? Is dit nie ‘n vorm van politieke pornografie nie?

Pinochet het Pablo Neruda nie vermoor nie; hy het hom ontneem van sy lyfeie reg om liggaamlik tot rus te kom.

*

[…]

And you’ll ask: why doesn’t his poetry
speak of dreams and leaves
and the great volcanoes of his native land?

Come and see the blood in the streets.
Come and see
The blood in the streets.
Come and see the blood
In the streets!

Bookmark and Share

11 Kommentare op “Desmond Painter. Die heropstanding van Pablo Neruda”

  1. Hierdie eerste paar reëls uit Neruda se gedig “Oda al vino” uit “Odas elementales” [I952-I954] (1954) is ‘n goeie voorbeeld van sy lewensdrif en sy vermoë om sy sinne tot die uiterste in te span. (“Sinne” kan nogal in albei betekenisse hier sinvol wees).

    Ode aan wyn

    Wyn met die dag se kleur,
    wyn met die nag se kleur,
    wyn met purper voete
    of bloed van topaas,
    wyn,
    sterre-kind
    van die aarde,
    wyn, glad
    soos ‘n swaard van goud,
    sag
    soos wilde fluweel …

    ODA AL VINO

    Vino color de día,
    vino color de noche,
    vino con pies de púrpura
    o sangre de topacio,
    vino,
    estrellado hijo
    de la tierra,
    vino, liso
    como una espada de oro,
    suave
    como un desordenado terciopelo …

  2. Buiteblaf Breytenbach :

    (‘n Vinnige opmerking voordat ons by Neruda kom: kan ons dan nie maar liewer sonder die stempel van Facebook oor die weg kom nie – of ten minste, dat dit nie so in ons gesigte gedruk word nie? Die euwel of die Sagrada Familia is nou eenvoudig daar, maar kan die bekeerdes dan nie in hulle eie tempels gaan sing nie?)

    Desmond: Doktor Painter wil skynbaar nie meedoen aan die poging om Don Pablo se woorde in Afrikaans te laat klink nie – miskien sou jy kans sien?

    Die opgrawe van Neruda se lyk is ‘n afskuwelike vergestalting (?) van die paranoïese, selfverorberende verbruikerskultuur waarin ons lewe. (Plaaslik is die paradering van Mandela se opgestopte lyk seker ook op hande – die opsny en verkoop aan die hoogste bieër sodra die steakholders tot ‘n vergelyk kan kom. Dit herinner mens aan hoe een van oorlede Sobhuza se vele seuns in die wegbêregrot betrap is toe hy ‘n stuk uit die lyk se boud wou sny en as muti verorber omdat dit sy aanspraak op koningskap sou versterk.) Hierdie is nou één petisie wat ek met oorgawe sal onderteken: waar ons almal aandring daarop dat Don Pablo se reste met rus gelaat moet word waar die begrawe lê in die tuin van sy Isla Negra huis. “Die mens los op in die oseaan soos ‘n korreltjie sout.”

    In “A passion for life” (Neruda se biografie) beskryf Adam Feinstein die sterftoneel as volg: “Pablo Neruda het om 10.30 die aand van Sondag, 23 September 1973 gesterf. Langs die sterfbed was Matilde en sy half-suster, Laurita. Ook in die vertrek was daar Teresa Hamel, hulle vriendin. Sy laaste woorde was ‘Me voy’ (“weg is ek”). Hulle het sy liggaam gevoel bewe. En toe was hy nie meer daar nie.”

    Toe Neruda se lyk weggeneem is het Matilde dit gaan oppas in die Santa Maria Clinic, en later het sy daarop aangedring dat hy in sy eie huis moet lê en wag vir die begrafnis – sodat die diplomate en buitelandse joernaliste (en ander boudsnyers) self kan sien hoe sy huis geplunder en bevuil is deur die fasciste wat selfs nie teruggedeins het daarvan om die skulphuis van “Chili se grootse literêre glorie” te vernietig nie. (“Dit was die begin van lente maar die koue was intens en het deur die gebreekte vensters na binne gestroom” – Hernan Loyola.)

    Dinsdag die 25ste om nege-uur in die oggend is die kis met veel gesukkel na buite gedra. (Die grondverdieping was onder water.) Op straat het groepen werkers saamgedrom al was dit onwettig, en die eerste rou krete het opgeklink: “Kameraad Pablo Neruda!”, en almal het geantwoord: “Aanwesig!”

    Ek wil gedeelstes van Loyola se beskrywing weergee, soos vertaal deur Feinstein: “The cortège left in a defiant column and… grew along the way. Arriving at the General Cemetery along the Avenida de la Paz, the funeral became an impressive pouplar protest, the first since 11 September… I confess that I was frozen with fear, because the people started singing the Internationale in a crescendo. Suddenly, I found that I had my fist in the air and was singing. Soldiers, armed to the teeth, surrounded the square opposite the cemetery… When someone in a loud voice began to shout: “Comrade Pablo Neruda!” we all answered “Present!”… Then suddenly, the cry was “Comrade Victor Jara!” All at once, our voices cracked: this was the first time that Victor had been named in public to denounce his vile murder. “Present!” Then the voice shouted: “Comrade Salvador Allende!” The response was a hoarse, broken howl distorted by emotion and terror and the desire it out that the whole world could hear: “Present!” I believe that was when we lost our fear, because they couldn’t do anything to us there: it was better to die with our fists in the air and singing the Internationale. And singing at the top of our voices, all of us crying, we entered the General Cemetery…”

    Iemand het ‘n eksemplaar van Neruda se “España en el corazon” oopgemaak en voorgelees uit die digter se aanval op Franco se vernietiging van Spanje: “generaals / verraaiers / kyk na my dooie huis / kyk na die gebroke Spanje… Jakkalse wat selfs ‘n jakkals sal verwerp…”

  3. Wel gedaan, Breyten. ‘n Kragtige skets.

  4. Buiteblaf Breytenbach :

    Jammer vir die fiktoute hierbo. Seker die emosie. Daar moes staan “the desite to shout it out that the whole world could hear..”
    Uit Neruda se “Libro de las preguntas” (Boek van Vrae) – baie vrylik ‘oorgesit’:

    Hoekom gaan wandel die reuse-
    vliegtuie nie met hulle kinders nie?

    Indien ek onwetend te sterwe moes kom,
    vir wie moet ek dan vra hoe laat dit is?

    Waar kan ‘n blinde man skuil
    wanneer hy deur bye oorswerm word?

    Sê my, is die roos naak
    of is dit haar enigste rok?

    Is dit waar dat die hoop
    met dou natgelei moet word?

    Hoekom kon Christopher Comumbus
    nie maar Spanje ontdek nie?

    Is ons lewe dan nie alleen ‘n toneel
    tussen twee helderhede nie?

    Kan daar in lewe enigiets belagliker wees
    as om Pablo Neruda genoem te word?

  5. Buiteblaf Breytenbach :

    Co-lum-bus. Dêmmit. (Volgens oorlewering was hy ‘n Katalaan en waarskynlik van Joodse afkoms. As Desmond nou minder rinkink het oorsee sou hy kon gaan seker maak het.)

  6. Desmond :

    Dr P is ‘n akademiese posseur; ‘n regte Stellenbosser. Sy jonger broer, Desmoon, sal egter graag meedoen aan enige Neruda-aktiwiteite. Hy begeef hom veral op terreine waarvan hy geen kennis dra nie.

  7. Bravo Desmoon! Dis goeie nuus dat jy jou op hierdie terrein wil begewe.Hier sal jy ‘n paar Engele aantref wat ingeboender het waar dwase te bang is om beweeg.

    Ek is des te meer in my skik omdat jou naam ietwat dui op die soort waansin en donker psige wat digters gemeen het met kranksinniges en minnaars. Woknakwyf!

  8. Neruda se oeuvre is baie omvangryk. Hiermee is ‘n reeks titels wat die hoogtepunte van sy digkuns oor die jare verteenwoordig. Dit is nie bedoel om finaal of oormatig gesaghebbend te wees nie. Mens kan seker maklik nog hier byvoeg as jy die nodige kennis het.

    Vertalers in Afrikaans kan moontlik hierdie raamwerk gebruik om te help sorg dat daar ‘n verteenwoordigende reeks gedigte tot stand kom.

    1924
    Veinte poemas de amor y una canción desesperada, 1924, published as Twenty Love Poems and a Song of Despair.

    1925
    Residencia en la tierra (poetry and prose)
    Tercera residencia, 1935-1945 (poetry; includes España en el corazon.

    1943 – 1950
    Canto général de Chile (poem), privately printed, 1943, portions published as El Mal y el malo

    1958
    Estravagario (poetry) published as Extravagaria.

    1959
    Navegaciones y regresos (poetry)

    1961
    Las Piedras de Chile (poetry), published as The Stones of Chile.

    1967
    La Barcarola (poem), Losada (Buenos Aires, Argentina), 1967.

    1973
    La Rosa separada (poetry) translation by William O’Daly as A Separate Rose.
    El Corazon amarillo (poetry), translation by William O’Daly published as The Yellow Heart.
    Elegia (poetry), published as Elegia.

  9. Christo van Staden :

    “GOOD FREND FOR IESVS SAKE FORBEARE,
    TO DIGG THE DVST ENCLOASED HEARE!
    BLEST BE YE MAN YT SPARES THES STONES,
    AND CVRST BE HE YT MOVES MY BONES.”

    Peter Ackroyd sê van Shakespeare: “He gave the world his works, and his good fellowship, not his body or his name.” Sekerlik verdien Pablo Neruda dieselfde.

  10. Desmond :

    Breyten, ek het ook gehoor dat Columbus ‘n Katalaanssprekende Jood was. Gepraat van wandelende Jode. Net voor ek eergister vertrek het, het ek aan die onderpunt van La Rambla gestaan en teruggekyk na die stad. Regs van my was Columbus op sy pilaar aan’t vingerwys see se kant toe. Links van my, ‘n veel nederiger momument (‘n sementblad, ‘n paar bome en mure vol graffiti) was Jardin de Walter Benajamin.

  11. Waldemar Gouws :

    ‘n Vriendin het my net nou laat weet hier word oor Neruda gepraat. PRESENTE! Lees asb. weer sy “Oda al gato” en los die gebieg oor opvattings van die tirannie. Wat hier in Santiago gebeur het …

  •