You never finish a poem, you just abandon it
Paul Valéry
Gestel ek sou jou,
my voormalige geliefde,
aan die skryfproses gelykstel,
mag dit dalk só lyk:
aanvanklik is jy ʼn vrye vers
met soel en soepel beelde,
vol somer en sonreise
na vreemde, eksotiese bestemmings.
Dan word ons ingeperk in die strak
patrone van ʼn distigon se koppige koeplette;
vérder in die tyd begin die reëls
van ʼn sonnet sig meedoënloos geld:
jy in jou oktaaf en ek
in my sekstet
met die wending
van ʼn vertrek.
En nou?
Nie veel het oorgebly:
ek plaas jou in
ʼn haikoe:
“die winterreën
spoel trane van jou vertrek
op my vensterruit”.
Jy, nou my kritikus,
sal waarskynlik
nie eens dié vers
lees nie.
Daar sal geen resensie
hiervan verskyn,
geen uitwys
van temas of tegnieke.
Nee, net jou stilte
skerper as afwysende kritiek.
© Joan Hambidge / 2013
Baie mooi, weemoedig – maar die emosie word deur die poëtiese terselfdertyd oorskry en beklemtoon.