In Augustus is Gauteng maar vaal. Daarom was ek baie dankbaar vir ʼn geskenk wat ek uit die bloute ontvang het:10 dae of so in die omgewing van die Tuinroete – ek hoef net petrol te betaal. En ek weet die suikerkanne blom.
Volgens die neurowetenskaplikes verval ons maklik in alfagolwe in die brein wanneer ons bestuur. So ry ek toe al hoe mymerender deur die Vrystaat en die Karoo; elke klein dorpie, elke vervallende dorpie, met die groeiende armoede. Ek skryf stowwerige gediggedagtes solank neer, fragmente van verse by die petrolstoppe.
Paar dae naby Tafelberg, toe weer na Stilbaai se kant toe. Die omgewing is pragtig in die Groen Seisoen, à la die toerismeburo’s. Ry verby Heidelberg. Caledon. Riviersonderend. Die afdraaibordjie na Bredasdorp.
Daar is swart kraaie langs die pad. Ek het in die koerant gelees dat hulle ‘n verpesting begin raak in die Wes-Kaap. Hulle sit en wag by die ooie, eet dadelik aan die nageboortes, pik sommer die nuwe lammetjie se oë ook uit.
Geel is die dal van doodskaduwee, speel ek met woorde in die Overberg. Anene Booysen, spel die helder canola-lande in die goue uur van fotografie, as ek stilhou langs ‘n plaashek om tog die knoppie te druk. Tjoklitboks. Inderdaad.
Terug by die huis, wen my foto ʼn prys. Maar my emosies verloor al die pad. Sy is dood in Februarie 2013.
Iets moet my help. Ek lees ʼn vroeë Rimbaud. Weer. Miskien omdat hy jonk was, soos sy. Die gedig se datum is Oktober 1870.
My vertaling is onbeholpe, soos my gevoel, my frustrasie met my onvermoë om die impak van hierdie (en al die soortgelyke) voorvalle in poësie te verwoord. Ek het nie eers sy rymskema in die sonnet behou nie.
Slaper in die vallei
Dit is ʼn lowergroen holte waar ʼn rivier sing,
besete die gewasse behang met flardes
silwer; waar die son oor die bergriwwe
skyn: dit is ʼn dal vol lig soos geklopte skuim
ʼn Jong soldaat, sy mond oop, kop onbedek,
en sy nek gebaai in die blouerige bronslaai,
slaap; hy lê uitgestrek in die gras, in die ope lug,
bleek in sy groen bed waar lig op hom neersif
Voete in die swaardlelies, slaap hy. Glimlag
soos ʼn olike kind glimlag as hy indut.
Natuur, sus hom knussies, hy is soos ys
Soet geure roer nie sy neusvleuels nie,
hy slaap in die sonlig, die hand op sy bors
botstil. Hy het twee rooi gate in sy regtersy.
(Arthur Rimbaud – Le Dormeur du val)
Oor en oor skeur ek beginne op, smyt hulle in die snippermandjie. In perverse volharding met die onbevredigende, skryf ek net twaalf reëls.
Slapende skoonheid
Die nag is geel blomme in die vallei, sneeu
versiersuiker die ewige blou gebergtes
ʼn Jong meisie lê tussen twee huisies
op ʼn bekende bouterrein; in haar ore
die laat klanke van liedjies en wyn
Sy lê met haar maag kaal op die sand
naby die partytjieplek. Daar is ʼn ritme
in die nag, ʼn hip-hop maatslag en sy
lê been-af en keel-af, bewegingloos
in die donker; fluister eenmaal sy naam.
Onderkant haar ferm borsies stroom nat
ingewande uit haar oopgekloofde buik.
Ek plaas die blog nou maar hier, maar ek weet niks is klaar nie.


Dankie vir die kommentare, Irene, Everline en Elza. Ek reken mens sal nooit weer die naam Bredasdorp sien of daar verbyry sonder om aan Anene Booysen te dink nie. Ek vermoed ook dat Rimbaud se jong soldaat my aan haar laat dink het omdat sy (vir my) verteenwoordigend is van ‘n nie-amptelike, onverklaarde, onverstaanbare oorlog wat ons beleef; met oorweldigende dood en verlies aan menslikheid.
Hierdie het jy baie diep gaan haal, René. Trek soos ‘n rukstopgordel teen die keel.
Augustus, ja – Augustus. Dis nie meer winter nie. Dis nog nie lente nie. Dis tussen-in.
Die tyd waarin onnoembare dinge met ‘n lewe gebeur. Dit pluk aan my hart, René.
“Love is so short, forgetting is so long” Neruda.
Ja, Marie, dit is juis die kontras tussen die beeldskone landskap en die gruweldood wat mens tref. Of opnuut tref, moet ek liewer sê. Dankie vir die lees.
Dit lyk of mens makliker afdood in Augustus?
Ek hoor wat jy sê, René: miskien is dit juis die ‘onklaarheid’ wat die digter immer dryf .. ek het ook gister langs die ‘doodvalleie van geel’ huis toe gekom.. ook vol lewensvreug, en tóg…?(ek wou jou nog ‘n vers/sonnet van Christina Rossetti lees:
“Yet, if you should forget me for a while
And afterwards remember, do not grieve:
Better by far you should forget and smile
Than that you should remember and be sad”
Dankie vir die lees, Gert…
selfs dood is nie klaar nie Rene…