Grond en lug
Al die rusie en twis − van tyd tot tyd
onvermydelik en onafwendbaar oorlog −
oor grond, is inherent aan die bloedlyn
van die mens se verhale van hartstog.
Die Iraeliete het, met sanksie, Kanaän se stede
met trompetgeskal en luide skreeue platgeraas.
Alexander die Grote was ’n rasegte ou kolonialis,
wie se hele kort lewe aan grondgryp gewy was.
Die Romeinse kolonies was oral versprei,
en voortdurende oorloë het daartoe gelei
dat hulle byna vergeet het van ’n nageslag.
Toe steel hulle die arme Sabyne se vroue.
Sterk lande buit steeds groot stukke aarde.
Grondgebied is beloning en straf: by Trianon
het hulle Hongarye ’n hele driekwart kleiner geknip.
En in Afrika is dit die enigste beloning van waarde.
Nou − al die geswymel, al die gekweel
oor die liefde vir grond: dis my hart,
dis my plek, my herkoms, (my geld!);
daaroor het ek nou ’n vragie te vra.
Hoe kan jy van alles vir grond die heel liefste wees,
as dit net jou voete is wat met die grond kan vry?
Dit is dan ook net so ’n platoniese platterige affêre,
wat van aanraking op soolvlak moet probeer gedy.
Dis die lug wat jou eintlik en heeltyd omhels,
wat elke plooitjie en voutjie van jou vel aanraak
en ken, wat deur jou hare jou kopvel betas,
wat jy inasem, waarna jy daglank en naglank snak.
Kyk maar die bome. Die wortels hou hulle regop
om met die lug te flankeer. Die wind ken elke oksel en soen
elke mik, die dwarrels kafoefel met blare wat giggel en tril.
Voor sterk wind buig die boom en gee ekstaties gans mee.
Die lug dra klank na my ore en lig na my oë,
hou my warm én koel my af. Soos ’n blom
hou ek my gesig oop dat die lug my kan lek.
My hele oppervlak neig weg van die aarde,
en op in die lug. Saam met hierdie klont
grond, hang ek en die sterre in een enkele eter.
Waar woon ek dan en wat is my plek?
Twee stukkies voetsoolgroot grond?
Of die uitgestrekte omhelsende insluitende
en liefkosende streke van wind en van lug?
© Heilna du Plooy / 2013

pragtige sinvolle gedig. Baie dankie.