In die streke van die wind
Ons sewentig of tagtig is bloot ’n fragment,
’n partikeltjie tyd en ’n spikkeltjie plek
in ’n omvang wat ons nooit kan ken nie.
Oor die uiteindelike hiërargieë, die grootse
patroon, bestaan daar slegs vermoedens;
die oorkoepelende ordening is onbegryplik.
Nogtans, nogtans, nogtans:
As ons ’n sentrum of ’n enkelheid
nie kan bedink, omvat of voorstel nie,
is daar onteenseglik nog die oral en die alles.
Deurentyd in voel en weet is daar invulling
en aanwesigheid: soos lug, soos wind
vly iets voortdurend teen ons aan.
“Ek dink so baie oor die wind,”
sê sy dikwels in die laaste gesprekke,
soos altyd oor idees, oor stories en oor boeke.
“Dit is belangrik om wind te verstaan,
te probeer verstaan. Waar lug is, is wind.
Waar lug roer, roer wind.”
Ons praat oor dít wat agter woorde lê,
oor die belang van vaagheid, oor die ryklike
dink wat glip en gly, syig soos asem.
In ’n vriendskap sonder eise, onafhanklik
én verbonde kón ons praat selfs oor onsienlike wind:
ons was mekaar hartgrondig goed gesind.
Die metgesel, konkreet en wit en asemloos −
“human kind cannot bear very much reality” −
hou sy weg, van hom weerhou sy die bewussyn.
Lewe en begeerte is beweging en net dit wat leef,
kan sterf − “the bitter apple, and the bite in the apple” −
en waar jy was, sal lug en wind en oopte wees.
Nogtans, nogtans, nogtans:
Die groot duif tref die motor voluit, slaan gat
oor kop, sy vlerke uitgesprei en spat dan op,
sy vere verstrooi in die vlugstroom agter die kar.
Op die voorruit lê sy vorm, onderstebo
in fyn poeier geëts, ’n geboë hoof
en vlerke wat afwaarts bly duik.
Wat asem was, kan ook lug wees.
As jy lug is, kan jy ook wind wees:
stormwind, dwarrelwind, aandwind.
Daar is drie dinge wat ek nie kan verduur nie,
nee, vier wat ek met ontroering onthou,
jou stem, jou oë, jou stem en jy,
met wie ek steeds in gesprek wil tree.
© Heilna du Plooy / 2013

Dankie Desmond en Melanie.
Hallo Heilna. Hierdie is baie mooi.
Dankie Heilna!