Joan Hambidge. Onbeantwoorde vraag
Onbeantwoorde vraag
Hoeveel verhoudings had jy?,
vra die reisgenoot direk.
Om die oë te vermy,
skil sy die dop van ‘n eier
en bied ‘n antwoord
in ‘n metaverslag:
Die “sy” in Palinodes laat haar dig:
Ter in die
As ek jou topografies
moet voorstel
(stip soos die woord eis)
dan ‘n Mediterreense stad.
‘n Warm, wolklose dag
word sonder sein
winderig, stormagtig.
En onvoorspelbaar
stil. Bewegingloos.
Drie maal per dag
dink ek nou aan jou.
Soos dié drie
weerstoestande: geluk,
misverstande; maar
veral – onhoudbaar
die blywende stilte.
Die “sy” in Vuurwiel laat haar skik:
Dizain
Deesdae wanneer ek ‘n vrou ontmoet
op my hoede, kopsku, wonder nie meer
oor haar sagte mond of ander goed,
en of sy haar oë onderwaters, ensomeer,
oop- of toehou en of sy gil vir meer,
sy haar kop (uiteindelik) finaal verloor.
Nee, ek bêre my bedelaarshoed, uit en oor
en wonder -by voor- en nabaat- stet!:
watter triek gaan sy uit die hoed toor:
Hoe my neerlê op waffer Prokrustesbed?
By voorbaat dan,
elke vers in
hierdie donker labirint,
‘n kriptonemie,
‘n onbeantwoorde vraag.
Dalk daar is niks om hieruit te trek,
behalwe dat die “sy” of “jy”
telkens dieselfde wond vergestalt?
So tussen stilte
en stip verlaat sy
stiekem
die museum
van smart.
© Joan Hambidge / 2013